uit my boek "Mans uit die Bybel"
Die man wat vir die genot van die oomblik geleef het
Sy verhaal
Sy skouers brand van die gewig van die bok wat hy geskiet het, en hy is bly toe hy uiteindelik hulle tente voor hom in die laagte sien. Dit was ’n lang dag.
’n Rokie krul aanloklik tussen die tente uit, en hy sluk moeisaam om die branderige droogheid uit sy keel te kry. Stadig laat hy die bok van sy skouers gly, en buig dan agteroor om sy moeë rugspiere te laat ontspan. Dan stap hy na die vuur toe. Die geur van die kos vul die lug, en sy mond water. “Watse rooi goed het jy daar in die pot?”
“Dis lensiesop,” antwoord Jakob. “Dis ’n nuwe resep wat ek probeer het.” Hy doop ’n stukkie brood in die sop en steek dit behaaglik in sy mond. “Heerlik,” sug hy tevrede, en vee sy mond met die agterkant van sy hand af. “So moet sop mos smaak.”
Gulsig steek hy sy hand uit om die lepel te vat. “Gee vir my ook van daardie rooi goed wat jy daar in die pot het. Ek is doodmoeg!”
“A nee a, nie so haastig nie!” Jakob klap sy hand weg. “Wat gee jy my as ek die sop vir jou gee?”
“Wat wil jy hê?”
“Wat van ... jou eersgeboortereg?”
“Is jy mal in jou kop? Dis net ’n pot sop!”
“Wel, dis my prys. Die pot sop in ruil vir die eersgeboortereg.” Jakob sit selfvoldaan agteroor.
Esau sug, en trek dan sy skouers op. “Ek sal tog eendag doodgaan, en dan sal dit my niks baat dat ek die eersgeborene is nie.”
Lees Genesis 25:19-34
Pas jy dalk in dié storie?
Esau se probleem was dat hy vir die oomblik geleef het. Môre en oormôre se sake het hom nie gepla nie, solank hy net vandag alles kry wat hy wil hê. In die proses het hy nie net sy erfporsie weggegooi nie; hy het ook sy roeping verkwansel. Die eersgeboortereg het baie meer ingehou as net die dubbele deel waarop die oudste seun geregtig was: die eersgeborene was die draer van God se belofte aan Abraham, dat in hom al die nasies van die aarde geseën sal word. Dit was hierdie reg, die reg om erfgenaam van God se beloftes te wees, wat Esau geminag het.
In jou geswoeg en strewe na tydelike dinge kan jy maklik in dieselfde strik as Esau beland. Jy kan jou maklik verbeel dat dit ter wille van jou gesin is dat jy jou so afsloof; dat dit vir hulle sekuriteit is dat jy sulke lang ure werk. Miskien sê jy nog vir jouself dat jy dit eendag rustiger sal vat, maar dat jy nie nóú kan bekostig om effens skiet te gee nie, anders gaan jy nie bo uitkom nie.
Hoe nou gemaak?
Daar ís dinge wat nie onderhandelbaar is nie; dinge wat jy net nie vir die pot lensiesop van ’n groot salaris aan die einde van die maand durf verruil nie. Om net ’n paar te noem: jou verhouding met die Here, jou verhouding met jou vrou, jou verhouding met jou kinders. Miskien moet jy jouself afvra hoe jou huidige lewenstyl en werkpatroon dié verhoudings beïnvloed.
Tyd het ’n manier om deur jou vingers te glip, wég te wees voordat jy jou oë uitvee. Elke uur wat jy meer aan jou werk bestee, is ’n uur minder met jou gesin. Voor jy jou oë uitvee, is hulle te groot om by hierdie tyd te baat; is hulle uit die huis en uit jou lewe. En niks, maar niks kan die verlies aan tyd saam vergoed nie, al probeer baie pa’s (en ma’s) om dit met geld en geskenke te doen. Toe ek jonger was, was die slagspreuk in die media: kwaliteit tyd. Dit sou kwansuis opmaak vir die kwantiteit wat kinders wie se ouers albei werk, moet ontbeer. Vandag sê sielkundiges dat dít ’n mite is. Niks kan jou dáár-wees vir jou vrou en jou kinders vervang nie.
Om vir Esau raad te gee, is maklik: moenie dat die geur van die lensiesop jou gesonde verstand benewel nie. Vir vandag se veeleisende wêreld, waar beide ouers genoodsaak is om te werk, is die oplossing helaas nie so eenvoudig nie. Maar die gevolge, as jy nie iewers jou voet neersit en besef die pot lensiesop is baie duurder as wat dit op die oog af lyk nie, is skrikwekkend: egskeidingsyfers, selfmoordsyfers, leë kerke is die koue statistiek van die matelose hartseer wat die pot lensiesop koop. Daarom het die Here Jesus by geleentheid gesê (Matteus 6:31-33): “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Views: 49






