Hoe moet ek dit verstaan? 24

Die Uitverkiesing

Die UitverkiesingWanneer ’n mens oor die uitverkiesing begin praat, is dit dikwels asof mense ’n vaalte oor die oë kry. Party sê openlik hulle wil nie daaroor praat nie, want dit maak hulle onseker of selfs bang. Hoe weet jy jy is uitverkies? Hoe moet ons daaroor dink?

’n Mens sou baie dinge oor die uitverkiesing kon sê. In ons gereformeerde belydenis is daar selfs ’n hele belydenisskrif daaroor – die Dordtse Leerreëls. Dit het die lig gesien ná ’n lang stryd in Nederland oor die kwessie. Maar ek wil jou nie doodgooi met ’n opsomming van hierdie belydenis nie. Ek wil net enkele opmerkings maak.

Uitverkies vir ‘n doel

Die manier waarop die Bybel oor die uitverkiesing praat, maak dit duidelik dat dit nie ’n losstaande saak is nie. Mense word uitverkies vir ’n bepaalde taak. So is Israel verkies om ’n lig vir die nasies te wees (Jes 42:6). Abraham se hele roeping hang daarmee saam: hy is verkies om tot seën vir ander te wees (Gen 12:2). En dié verkiesing het ook sy nageslag se roeping geword. Dit geld van ons ook. Ons is nie uitverkies sodat ons in die hemel sal kom nie. Ons is uitverkies sodat ons werktuie in God se hand kan wees, kanale deur wie God sy genade na die wêreld wil laat vloei.

wie is uitverkies en wie nie

’n Taamlike debat oor die uitverkiesing gaan oor die vraag: wie is uitverkies en wie nie? Daar is teoloë wat sê almal is uitverkies. Uiteindelik, sê hulle, gaan alle mense tog in die hemel kom. Dit lyk my nie heeltemal so eenvoudig nie. Maar as jy nie dit wil sê nie, hoe werk dit? Op grond waarvan word party mense uitverkies? Dis eintlik maklik om te antwoord: dis God se soewereine genade, en geen prestasie van ons kant nie. Ons is immers van voor die grondlegging van die wêreld in Christus uitverkies (Efes 1:4), lank voordat ons enigsins iets kon doen om dit te regverdig of te verdien. Wat God se beweegredes was, is nie vir ons deursigtig nie, behalwe dat ons dankbaar kan wees vir sy genade.

Die fout wat mense maak, is om oor die uitverkiesing te praat los van die Here se genadewerk in hulle lewe. Die uitverkiesing maak net sin vir iemand wat klaar glo. Wanneer ’n mens die besluit neem om te glo, dink jy dis jy wat so besluit het, maar as jy terugkyk oor jou lewenspad, ontdek jy dat dit God is wat jou by geloof uitgebring het. Dis eintlik waaroor die uitverkiesing gaan: ’n belydenis dat jou geloof en verlossing ’n geskenk van God is en nie jou eie prestasie nie.

Dit beteken dat dit sinloos is om buite die geloof om oor die uitverkiesing te dink. Dit help nie om te vra: “Is dié of daardie persoon uitverkies?” nie. Of om te dink dit help nie om te getuig teenoor iemand wat nie uitverkies is nie, want dan sal hy of sy tog nie tot geloof kom nie. Ons moet God se genade-aanbod ernstig neem: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee,” het Jesus in Matt 11:28 genooi. Party reageer op die uitnodiging, maar party nie. Maar almal word genooi.

onherroeplik

’n Laaste opmerking: as die Here jou uitverkies het, sal Hy dit nie weer terugtrek nie. Paulus skryf in Rom 11:29: “As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.” Daarom kan ons met hoop leef oor hulle wat deel van die verbondsvolk is maar iewers opgehou glo het. Wie weet? Dalk is daar vir hulle ’n pad terug.




Hoofstuk van die dag: Maleagi 3

Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. (vers 10)

Dankoffers bly ’n sensitiewe saak vir baie gelowiges. Ek onthou hoe ’n man in my eerste gemeente gesê het, toe ek met hom oor dankoffers en tiendes gepraat het: “As almal nou só begin gee, wat gaan die kerk met al die geld maak?” Inderdaad. Hoeveel sal daar nie in die Koninkryk gedoen kan word as almal hulle tiende gee nie!
Tog dink ons nie altyd goed oor ons dankoffers nie, en wonder nie genoeg hoe Gód daaroor dink nie. By monde van Maleagi sê Hy dat ons Hom beroof as ons nie gee wat ons moet nie (vers 8).
God se ekonomie werk anders as ons s’n. Jy kan nie sê jy het soveel gegee, en nou moet God jou soveel seën nie. En tog is daar ’n verband, soos Paulus in 2 Kor 9:6-9 uitwys.
God het sy álles vir ons gegee (2 Kor 8:9). Kom ons antwoord Hom met ons beste!




Hoofstuk van die dag: Jesaja 54

Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet. (vers 10)

Dis aaklig om te leef in die vrees dat jou sekerhede onder jou uitgeruk kan word. Dan bly die angs net so onder die oppervlak, en jy kyk gedurig rond om te sien uit watter oord jou ondergang sal kom.
Dís nie hoe ons oor God hoef te dink nie. Sy liefde vir ons is rotsvas. Trouens, sy liefde sal vooruitgang bring, sê Hy vir sy volk. “Maak groter die plek vir jou tent … want jy sal na alle kante toe uitbrei,” verseker Hy hulle (vers 2-3).
As ons aan die Jode se situasie destyds dink, was dit inderdaad ’n groot belofte. Hulle was immers op die randjie van uitwissing. Hulle noordelike broers, die Israeliete, hét verdwyn, en self was hulle in ballingskap, onbenullig en weerloos. Maar waar God beloof, is daar altyd hoop.
Ons weet dat God se volk sedert daardie belofte na alle kante toe uitgebrei het, die hele aardbol vol, sodat ek en jy óók deel van sy mense kan wees.
So skep moed! Deur Gods genade sal ons standhou en kan ons vorentoe kyk.




Hoofstuk van die dag: Jesaja 52

Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” (vers 7)

Ons roeping in die wêreld is om hoop te bring waar ander moedeloos en raadop is. Maar dis moeilik as jy, net soos almal om jou, in die diepste dale van ellende sit. Dit was min of meer die situasie met die Jode in ballingskap. Alles was verkeerd. Niks het vir hulle reg geloop nie, en hulle sit in sak en as, moedeloos en uitsigloos.
In dié ellende kom die boodskap (vers 1 en 7): Tel op jou kop! Ruk jou reg! Jou God is immers Koning!
Ons is geneig om in ons dop te kruip as dinge sleg lyk, en al waaraan ons dan kan dink, is dat die slegte dinge moet verbygaan. Maar soos Jesaja van ouds roep Jesus ons ook op om in die midde van angs en radeloosheid anders te reageer as mense wat Hom nie ken nie (Luk 21:25-28). Dán is dit tyd om regop te staan en ons kop op te tel, want Hy is naby.
Tel op jou kop en skep moed! Ons Here is Koning!




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 4

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. (vers 7)

Dié stelling van Paulus bevat ’n baie belangrike perspektief oor ons lewe as gelowiges. Dit gaan nie oor ons nie. Óns is nie die belangrikste nie – dit gaan oor die skat binne ons, naamlik dat ons die Here Jesus Christus ken en sy heerlikheid uitstraal.
As breekbare kleipotte het ons te kampe met baie aanslae (vers 9-11). Navolgers van Christus is immers, soos Hy, aan vervolging en lyding onderworpe. Die lyding ter wille van Christus laat Hom al helderder in ons skyn (vers 11). Dis deel van die proses waarin ons saam met Christus sterwe. Al breek en verkrummel die kleipot ook, die skat in al sy heerlikheid en krag bly ongeskonde.
Ek en jy kan alleen volhard en nie moedeloos word nie as ons ten volle leef uit die krag van God. Te midde van al die aanvegtinge wat ons as gelowiges verduur, kan ons seker wees dat God ons nie verlaat nie (vers 9). Daarom word ons nie moedeloos nie, want deur die werk van die Gees word ons innerlik dag tot dag vernuwe (vers 16).




Die man is die hoof van die huis, dan nie?

’n Mens sou die vraag ook só kon vra: Watter gesag het die man in die huis en leer die Bybel ons dat die vrou gelyk is aan die man?

Dié vraag is so oud soos mensdom; of liewer, byna so oud. Dié vraag sou nooit in die Tuin van Eden ter sprake gekom het nie. Ons lees in die skeppingsverhale dat Adam en Eva as gelykes geskep is om mekaar te help en dat hulle in volkome harmonie geleef het (vgl Gen 2:18, NAV). Maar ná die sondeval verander alles, kom daar spanning in die verhouding en loop dit uiteindelik uit op ’n magstryd tussen man en vrou. God se woorde aan Eva ná die sondeval (Gen 3:16b) is verdoemend: “Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.” ’n Mens sou dit ook só kon vertaal: “Jy sal probeer om oor jou man baas te speel, maar hy sal oor jou heers.” Daarmee is die tafel gedek vir ’n voortdurende stryd om die baasskap en oneindige hartseer in die huis.

Aanvanklik het die man dié stryd maklik gewen, want die man is fisies sterker as die vrou en kon haar dus op haar plek (soos die man gemeen het) hou. Van die begin af is die vrou as ondergeskikte behandel: sy het nie ’n regspersoon gehad nie; sy kon nie ’n selfstandige beroep volg nie; sy is nie geskik geag om skoolopleiding te kry nie.

Minderwaardig

Ook op godsdienstige terrein is sy minderwaardig behandel. Sy mag byvoorbeeld nie die voorhof van Israel (die ruimte naaste aan die offer-altaar by die tempel) betree het nie. Die Joodse man het gebid: “Dankie dat ek nie ’n heiden of ’n hond of ’n vrou is nie”! In die vroeë kerk is by dié Joodse opvatting aangesluit, sodat Paulus sonder om te blik of te bloos reël dat ’n vrou in die gemeente haar mond moet hou (1 Kor 14:34-35 en 1 Tim 2:12). Dié houding is boonop uit die Bybel verdedig. Die man is eerste gemaak, en dit was tog die vrou wat vir die sondeval verantwoordelik was, het hulle geredeneer (vgl. 1 Tim 2:13,14). Daarom was ’n vrou se plek die huis, waar sy haar vervulling in moederskap moes vind (1 Tim 2:15).

In die eerste eeue na Christus het dié toedrag van sake nie noemenswaardig verander nie. Die manlike dominering het maar eers die afgelope twee eeue gaandeweg uit die samelewing begin verdwyn, en dit ná aansienlike druk van vroueregte-bewegings. Vroue het stemreg gekry, is toegelaat om ’n eie loopbaan te hê, word as regspersoon en as belastingpligtige erken. Vroue word ook toenemend in kerke op gelyke voet met mans behandel. Talle kerke (maar nie almal nie) laat vroue vandag toe om leraars te wees – ’n gebruik wat vyftig jaar gelede haas ondenkbaar was.

Die vraag is nou: wat het dit alles vir ons te sê oor die man se gesag in die huis?

Vir baie mans is die opkoms van die vrou ’n groot probleem, omdat hulle, op die voetspoor van Paulus en die Joodse opvattings van sy tyd, glo dat die man die hoof van die huis is en moet wees. Paulus skryf dit tog in soveel woorde in 1 Kor 11:13 dat die man die hoof is van sy vrou, sal hulle gou vir jou sê. Daarom is dit die man se Godgegewe roeping om die gesagsdraer in die huis te wees, sê hulle. Dit is een van die temas van Angus Buchan se “Mighty Men”-veldtog: dat mans weer hulle Godgegewe roeping om hoof van die huis te wees, ernstig moet opneem. Dit is ook ’n uitgangspunt van die Promise Keepers-beweging wat in 1990 in die VSA ontstaan het.

Dit klink so Bybels, dié standpunt. Jy kan tekste links en regs uitpluk om jou standpunt te ondersteun. Jy kan op ’n eeue-oue kerklike tradisie terugval om te bewys dat dit nog altyd so was. Maar dieselfde is destyds van slawerny gesê. Nêrens in die Bybel word die praktyk van slawerny veroordeel nie, en tog glo ons vandag onomwonde dat slawerny teen God se wil is. Bloot die feit dat ’n bepaalde saak nie in Bybelse tye bevraagteken is nie, beteken nog nie dat dié saak in lyn is met God se bedoeling met die wêreld en sy mense nie. Dit neem ons soms net baie lank om die betekenis van Christus se verlossing goed te verstaan en tot in die praktyk van elke dag deur te trek. Dit het agtien eeue gevat voordat die kerk anders oor slawerny begin dink het, en twintig voordat die posisie van die vrou aan die beurt gekom het.

Jesus se leiding

Tog het ons in die Bybel self al voorbeelde van hoe daar anders gedink kan word oor man-vrou-verhoudings. Jesus het al dié saak aangeraak toe Hy oor die geldigheid van egskeiding genader is (Matt 19:3-9). Die Fariseërs wou egskeiding regverdig omdat die Bybel dit toelaat (vgl. Deut 24:1). Jesus se antwoord is dat dié reëling bloot ’n noodmaatreël van Moses se kant was, maar dat dit nie God se wil weerspieël nie. Hy sê ons sien God se wil vir die huwelik in hoe dit vóór die sondeval was. Dáár moet ons gaan soek as ons vra na die verhouding tussen man en vrou.

Toe Jesus vir ons sonde kom sterf het, het Hy vir ons die voor-sondeval-toestand teruggekoop. Ons hoef nie vanuit na-sondeval omstandighede en gebruike te redeneer as dit oor man-vrou-verhoudings in die huwelik gaan nie. Die vloek dat die man oor die vrou sal heers (Gen 3:16) is deur Christus se kruisdood uitgewis. Die vrou is verlos om nou weer in alle opsigte gelyk aan die man te wees, ook in die huwelik. Daarom is kategorieë soos dat die man die hoof van die vrou en die huis is en dat die vrou na hom moet opsien vir leiding, vir my ’n probleem. Ek glo Christus het ons kom verlos van dié verknegtende standpunt, en in elke huwelik moet man en vrou self hulle verhouding uitwerk soos dit pas by hulle unieke persoonlikhede. Die man se rol in die huis mag nooit ’n statutêre geslagsrol wees wat die man weer moet terugvat, soos talle mense vra nie. Die man se rol in die huis moet wees soos een wat dien. Dis tog die voorbeeld wat Christus in Joh 13 gestel het, dan nie?