Simson was ’n baie sterk man. Hy kon eintlik doen wat hy wou, want niemand kon enig-iets aan hom doen nie. Die Bybel vertel vir ons dat hy allerhande wonderlike dinge aangevang het. Hy het ’n leeu met sy kaal hande verskeur; hy het 30 Filistyne sommer in ’n japtrap doodgemaak; hy het 300 jakkalse gevang en hulle sterte aanmekaar vasgemaak met ’n brandende fakkel tussen-in en hulle losgelaat in die landerye van die Filistyne; hy het met ’n donkie se kakebeen 1000 man verslaan; hy het die stadspoort van Gasa se deure met kosyn en al uit die stadsmuur geruk en dit tot bo-op die berg gedra. ’n Mens kan dus met reg sê: Simson was die sterkste man wat nog ooit gelewe het. Ek meen, teen hom lyk ’n ou soos Arnold Schwartzenegger na ’n kleuter.

Maar dit is nie al wat ons van hom mag sê nie. Want hy was nie uit sy eie so sterk nie. Daar was ’n geheim agter sy bomenslike krag. Simson se krag het nie in homself gelê nie; hy het sy krag van die Here ontvang. Daarom lees ons elke keer voordat hy so ’n wonderlike ding aanvang, dat die Gees van die Here hom sterk gemaak het (bv 14:6,19; 15:14). Dit was God se krag wat hom in staat gestel het om sulke dinge te doen. Want van voor sy geboorte af reeds het sy ouers hom aan die Here gewy. En ons lees ook dat Simson dit geweet het. Toe hy bv die 1000 Filistyne met die kakebeen doodgeslaan het, het hy gebid en vir die Here gesê (15:18): “U het hierdie groot oorwinning deur my moontlik gemaak.”

Maar soos dit maar dikwels met ons ook gaan, het Simson later gewoond geraak aan sy buitengewone krag. Dit het hom nie meer verwonder nie. In Klaagliedere kry ons die sleutel vir ’n lewe wat anders loop as dié van Simson: Daar skryf die digter dat die Here se liefde elke môre nuut is (2:23). En in Ps 31:20 lees ons: “Hoe groot is u goedheid: dit is altyd daar vir dié wat U dien ...”
Kom ons staan net ’n oomblik by dié gedagte stil. Elke môre is die Here se liefde en ontferming nuut. Sy goedheid is altyd daar vir dié wat Hom dien.

As Simson maar só gedink het! Dan sou hy elke dag opnuut verwonderd voor die Here geleef het; dan sou hy nie vergeet het dat hy sy krag van die Here gekry het nie. Hy het gedink dat sy krag onuitputlik is, dat hy self oor die geweldige krag beskik. En selfs toe hy sy gelofte aan die Here breek deur vir Delila te vertel dat sy hare nie gesny mag word nie, het hy nog altyd gedink dat hy sal kan maak en breek soos hy wil, want hy is mos so vreeslik sterk. Daarom lees ons in vs 20 Simson het gedink: “Ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk.” Want, sê die Bybel, het hy nie besef dat die Here hom verlaat het nie. Simson het op homself begin vertrou, in plaas daarvan om op God te vertrou, en daarom het die Here hom verlaat. Want Simson het gedink: Ek het nie meer die Here nodig nie. Ek sal sommer self regkom, soos al die vorige kere. En dit het sy ondergang beteken. Hy het nie net sy krag verloor nie, maar ook sy oë en sy vryheid.

Hierin lê daar natuurlik ’n baie groot waarskuwing vir ons opgesluit. Ons mag nooit vergeet dat ons hele lewe in God se hand is nie. Hy is die Een wat elke dag vir ons sorg en vir ons die krag gee om voort te gaan. Dit is deur sý genade dat ons hier kan sit en nie siek is nie. Ons as mense is so geneig om te dink dat ons ons sake self kan reël, dat ons self oor ons eie toekoms beskik en dat ons self in ons behoeftes kan voorsien. ’n Mens werk tog hard daarvoor.

Jakobus skryf daaroor in Jak 4:13-16: 13Kom nou, julle wat sê “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” 14Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. 15Julle moet eerder sê “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” 16Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd.

Die verhaal van Simson wil vandag dít vir ons onderstreep: Ons moet weer ’n keer besef dat ons nie maar kan lewe asof God nie bestaan nie, en asof Hy nie oor ons lewe beskik nie. Die verhaal van Simson wil vir ons sê dat ons weer ’n slag ons afhanklikheid van die Here moet besef en na Hom opsien vir ons lewe van elke dag, want dan sal Hy vir ons sorg.

Simson het hierdie les ook uiteindelik op die swaar manier geleer. Want daar in die tronk, terwyl hy besig was om koring te maal, het hy baie tyd gehad om te dink oor sy lewe en oor wat dan verkeerd gegaan het, en toe het dit tot hom deurgedring dat sy groot sonde die feit is dat hy sy afhanklikheid van God vergeet het. Daarom lees ons dat hy aan die einde van sy lewe weer tot God gebid het en hierdie keer van Gód gevra het om vir hom die krag te gee wat hy nodig het om die tempel om te ruk.

Gelukkig is dit nie nodig dat ons dieselfde paadjie as Simson hoef te loop, en eers ons koppe hard stamp voor ons hierdie les leer nie. Daarom is die geskiedenis van Simson in die Bybel vir ons opgeteken. Daarom, kom ons gee elke dag, ook vandag, aan God die eer wat Hom toekom, kom ons lewe in afhanklikheid van Hom. Soos God in Simson se lewe magtig gewerk het, so kan – en wil – Hy ook in ons eie lewens elke dag op wonderlike maniere voorsien.

Hoe skryf Paulus nou weer in Fil 2:12-13?
12My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

Amen.

image_pdfimage_print

Views: 37

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.