Die man wat ’n witleuen vertel het
Sy verhaal
SAKEMAN UIT EGIPTE GESIT
MEMPHIS. – ’n Skatryk Semitiese donkiehandelaar, Abram seun van Tera, is gister met vrou en besittings en al gedeporteer. Die uitsettingsbevel is deur die farao self uitgereik nadat daar ’n ernstige vertrouensbreuk tussen Abram en die farao ontstaan het.
Abram se beeldskone vrou, Sarai, was volgens ingeligte bronne in die paleis die oorsaak van die breekspul. Na wat verneem word, was die farao, wat alom bekend daarvoor is dat hy ’n oog vir mooi vroue het, onder die indruk dat Sarai Abram se suster is, en hy was van voorneme om met haar te trou. Nadat sy egter in sy harem opgeneem is, het die een ramp na die ander die paleis getref. Die farao het onraad vermoed en Abram gekonfronteer. Dit kom toe uit dat Abram self die storie versprei het dat Sarai sy suster is, omdat hy vir sy lewe gevrees het. Hy was glo bang iemand vermoor hom om sy vrou in die hande te kan kry!
Kenners het hulle verbasing uitgespreek oor die feit dat Abram toegelaat is om sy besittings saam te neem. ’n Aansienlike deel daarvan is naamlik geskenke wat die farao nog vir hom gegee het toe hy Sarai die hof gemaak het. “Dit moet ’n merkwaardige vrou wees dat die farao haar én haar man se lewe gespaar het ten spyte van die vernederende ervaring,” het een van die paleisamptenare gesê.
Genesis 12:10-20
Pas jy dalk in dié storie?
’n Mens skrik so half as jy dié berig lees. Was Abram dan nie die man wat met groot geloofsmoed uit sy land en van sy mense af weggetrek het, die vreemde in, net omdat God dit beveel het nie? Hoe op dees aarde kon dit gebeur dat ’n geloofsreus soos hy so lelik kleitrap as dit by die waarheid kom?
’n Mens skrik, want jy besef: selfs die grootstes onder die grotes is nie immuun teen die verleiding van die sonde nie. Jy val makliker vas as wat jy dink. As dit met Abram kon gebeur, wie is ons dan …
Terwyl ek dié verhaal gelees het, het ek verleë teruggedink aan ’n insident in my hoërskooljare, toe ek my wiskunde-onderwyser verseker het dat ek wel die somme op ’n los vel papier gedoen het, maar dat ek dit by die huis vergeet het. Die waarheid was dat ek nie gedink het dit was huiswerk toe hy gesê het ons moet voorbeelde van die bewerking tuis gaan oefen nie, want ek het die berekening heel goed onder die knie gehad. Sou die waarheid my nie beter gehelp het daardie oggend nie? Sou die waarheid Abram en Sarai nie baie verleentheid gespaar het daar in Egipte nie?
Hoe nou gemaak?
Ons lewe nie in ’n wêreld waarin daar ’n hoë premie op die waarheid gestel word nie. Elke liewe dag van ons lewe word ons met leuens gepeper: deur die advertensiebedryf, verkoopsagente, die politici, die media. Jy weet later nie meer wat jy moet glo nie. In die howe is die eed van “die waarheid, die hele waarheid en niks anders nie as die waarheid” wat getuies moet aflê, ’n klug. G’n wonder Pilatus trek sy skouers oor hierdie saak op en vra: “Wat is waarheid?” (Johannes 18:38) in Jesus se verhoor nie!
’n Soektog deur die Bybel na die woord “waarheid” lewer nogal interessante resultate op. In die Nuwe Testament is dit veral die Johannes-evangelie wat telkens na hierdie begrip terugkom. In Johannes 1:14 skryf hy dat die Seun van God vol genade en waarheid is. In dieselfde Evangelie (14:6) sê Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” En die Heilige Gees, wat Jesus in sy plek stuur om ons te kom troos, noem Hy ook “die Gees van die waarheid” (14:17). Hierteenoor stel Hy die duiwel. Die duiwel, sê Jesus in Johannes 8:44, “… staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.”
Wanneer God in ons begin werk, verander Hy ons sodat ons al meer soos Jesus begin lyk (vgl. Romeine 8:29). Een van Jesus se karaktertrekke wat in ons na vore kom as God ons verander, is dat die waarheid ook vir ons al hoe kosbaarder word. Daarom skryf Paulus in 1 Korintiërs 13:6 van die liefde, wat die kenmerk van die gelowige is: “Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.”
Wanneer ons in ’n hoek is, is dit dikwels die maklikste uitweg om ons los te lieg, soos Abram probeer doen het. Maar as ek en jy die beeld van ons hemelse Verlosser dra, is só ’n kits-oplossing nooit ’n moontlikheid nie. Daarom moet ons miskien nóg ’n nota by die vorige een voeg:
Spreuke 12:19
Die waarheid hou vir altyd, die leuen net ’n oomblik.
Views: 60






