Week 5 Dag 7: Saam met Christus in sy heerlikheid

Lees Kol 2:6-23 en 3:1-4

Droom jy ooit oor die wederkoms? Oor die nuwe hemel en die nuwe aarde wat dan gaan aanbreek?

Baie gelowiges verkies om liewer nie aan die wederkoms te dink nie. Dit is vir hulle ’n vreesaanjaende gedagte, want die konnotasie wat ons met die wederkoms het – dat dit voorafgegaan sal word deur ’n groot verdrukking en oorlog en gerugte van oorloë – maak dat mense hoop dit gebeur nie in hulle leeftyd nie. Maar ek dink ons het in ons denke Jesus se waarskuwing in Matteus 24 oor die verwoesting van Jerusalem, en sy woorde oor die wederkoms, met mekaar verwar. Daarom dat die vroeë kerk met verlange en sonder skroom gebid het: “Kom, Here Jesus, ja, kom haastig!” (kyk byvoorbeeld na Openbaring 22:20). Vir hulle was die wederkoms iets om na uit te sien.

Dit is ook hoe Paulus oor die wederkoms gedink het. Vir hom was die wederkoms die gebeurtenis waarop ons saam met Christus in sy heerlikheid sal deel. En jy hoef nie bang te wees dat jy dit nie gaan maak nie, want jou lewe is saam met Christus verborge in God.

Nadenke oor die wederkoms is deel van die bedink van die dinge wat daarbo is. As jy die wederkoms na die agtergrond skuif, vervaag jou verwagting en ook jou ywer om Jesus te volg.

Gebed: Kom, Here Jesus! Ek verlang daarna om by U te wees.




Week 5 Dag 6: Verborge in God

Lees Kol 2:6-23 en 3:1-4

Die dag toe jy saam met Christus daar op Golgota gesterf het, het Hy jou weggesteek by God. Dis tog wat hier staan, nie waar nie? Jou lewe is saam met Christus verborge in God.

Hoekom steek Hy jou weg? Waarvan, of van wie? Van Satan, natuurlik! Want hy loop rond soos ’n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind, soos Petrus ons in 1 Petrus 5:8 waarsku. In Openbaring 12 lees ons op aangrypende wyse hiervan, en ook hoe God die vrou (sy kerk) wegsteek. Jy kan dit gerus lees.

Satan ís ’n realiteit, en sy verleiding ’n werklikheid waarmee jy daagliks rekening moet hou. Maar hy is ’n verslane vyand, en ek en jy is veilig, weggesteek van sy lis, mits ons by God skuil. Martin Luther het gesê die duiwel is soos ’n hond aan ’n ketting, en God hou die ketting vas. Die hond kan jou baie seer byt as jy te naby kom, maar as jy verby hou, keer die ketting dat hy jou kan bykom.

Verborge in God! Niks kan jou van sy liefde skei nie, sê Paulus op ’n ander plek (Romeine 8:38-39). Jy hoef nie omkyk-omkyk te leef nie, in vrees dat die duiwel jou sal steel nie. Daarvoor sorg God.

Gebed: Dankie, hemelse Vader, dat ek veilig by U is.




Week 5 Dag 5: Die dinge daarbo

Lees Kol 2:6-23 en 3:1-4

Hoe moet jy prakties maak om te lewe as iemand wat saam met Christus opgewek is? Paulus se antwoord is eenvoudig: strewe na die dinge wat daarbo is, waar Christus is, en rig jou gedagtes op die dinge wat daarbo is.

Dis nogal ’n mondvol. Met ’n vinnige lees kan jy dalk die indruk kry dat Paulus wil hê jy moet met jou kop in die wolke leef, soos iemand wat nie met sy voete stewig op die aarde is nie. Maar dit is glad nie wat Paulus bedoel nie. Natuurlik gaan dit oor nadenke oor Christus. As jy nie oor Hom dink nie, as Hy nie in jou gedagtes is nie, gaan jy sukkel in die geloof. Maar dit gaan om meer as dit. Dit gaan oor die manier waarop jy oor jouself dink. Dit gaan oor ’n manier van dink oor die lewe, dat jy vanuit die opstanding, die oorwinning, die heerskappy van Christus dink. Dat jy met ’n gerigtheid sal lewe, sal leef met die wete dat jy op pad is, dat jou eintlike bestemming nie hier op aarde is nie.

Waaroor droom jy? Wat is die ideale wat jy graag wil verwesenlik?  Hoeveel van hierdie drome gaan oor jou verhouding met Christus en het te make met geestelike groei en navolging? Het jy drome en ideale hieroor? Dat jy hoe langer hoe meer diensbaar in die Koninkryk kan word?

Gebed: Here Jesus, wees U vandag Koning oor my hele lewe, sodat ek vir U kan leef!




Week 5 Dag 4: Saam met Christus opgewek

Lees Kol 2:6-23 en 3:1-4

Een van die probleme wat baie gelowiges het, is dat Jesus se sterwe ’n groter rol in hulle lewe speel as wat sy opstanding doen. Ons is mense van die kruis, en minder so van die leë graf.

Jy kan jouself hieraan toets. Skryf neer waar jy die klem in jou geloof plaas. Is dit dalk die feit dat Jesus vir jou sondes gesterf het? Dit is natuurlik nie verkeerd nie; trouens, dit is ’n noodsaaklike deel van ’n gesonde en saligmakende geloof. Dit is waar alles vir ons verander het – op Golgota. Daarsonder was jy nog verlore in jou sonde.

Maar watter rol speel Jesus se opstanding in jou geloofslewe en -denke? Vorm dit deel van hoe jy oor jouself dink? Want Paulus skryf hier baie stellig dat jy saam met Christus uit die dood opgewek is. Die Heidelbergse Kategismus (vraag 88) sê dit ook as dit oor die bekering praat. Dit bestaan uit twee dele, naamlik die afsterwe van die ou mens, en die opstaan van die nuwe.

Waarop fokus jy in jou geloof? Op die dinge waarmee jy sukkel, die sonde wat jy bely? Waarmee jy voor die kruis gaan kniel? Dit is reg. Maar as jy dit klaar bely het, moet jy van jou knieë af opstaan en leef vir Jesus. Skuif jou fokus na die nuwe lewe, na die oorwinnings wat jy in Christus behaal, na geestelike groei.

Gebed: Ek aanbid U as die lewende, opgestane Here, wat ook vir my opgewek het.




Week 5 Dag 3: Bo blink, onder stink

Lees Kol 2:6-23 en 3:1-4

Paulus sê die probleem met wettiese godsdienstige reëls is dat dit ons verblind. Dit het ’n skyn van wysheid. Dit lyk baie goed en fatsoenlik en vroom as jy Sondag ná Sondag in die voorste bank in die kerk sit en nie jou maandelikse inkopies by die winkel doen nie.

Dit lýk goed, maar jy het waarskynlik ook al gehoor van die man wat so vroom Sondae in die kerk sit, maar ’n monster by sy huis is, of ’n gewetenlose sakeman in die week. Godsdiens is meer as net die nakom van ’n klomp reëls wat jou gewete moet sus en jou goed laat lyk in die oë van die wêreld. Maar reëls kan jou net ’n entjie help. Paulus sê dit het geen nut as dit kom by die beteueling van die sondige drifte nie.

Dit is hoekom dit belangrik is dat jy verstaan dat jou lewe in Christus verander het. Jy het saam met Hom gesterf en is dood vir die houvas van die sondige wêreld. Nie reëls nie, maar die verlossende werk van Christus help jou. Toe Christus gesterf het, het jy verander. Jy het ook gesterf, daardie dag op Golgota toe die son verduister het en die aarde gebewe het. Jy was daar. Jy is dood vir die ou lewe wat om jouself gedraai het.

Skryf dit iewers neer: “Ek het saam met Christus gesterwe en is dood vir die ou, sondige wêreld.”

Gebed: Here, ek wil saam met U sterf aan myself!




Week 5 Dag 2: Godsdienstige reëls

Lees Kol 2:6-23 en 3:1-4

In Paulus se tyd was daar talle reëls wat in die godsdiens gegeld het. Veral rituele reinheidswette, en kos wat rein of onrein is, het sterk oorgeloop uit die Joodse godsdiens waaruit die Christelike geloof gegroei het.

Vandag dink ons glad nie meer so oor kos en oor rein en onrein nie. Maar ons sit ook met ’n erfenis van moets en moenies, veral oor die manier waarop Sondae deurgebring moet word, en wat taboe is op ’n Sondag. Ek onthou ’n tyd toe ek nie op ’n Sondag fiets mag gery het, of kaart gespeel het, of enige speletjie waarin ’n dobbelsteentjie gebruik word nie.

Al dié reëls was nie noodwendig sleg nie. Die reël dat jy op ’n Sondag kerk toe gaan en nie daaroor dink en besluit nie, dink ek, was baie sinvol en het gelei tot ’n goeie gebruik. Maar reëls op sigself help jou nie om nader aan God te om nie; inteendeel. Dit is presies die soort goed wat godsdiens ’n pligpleging sonder enige vreugde maak, waarby jy in Week 3 stilgestaan het.

Dink oor jou eie lewe voor die Here. Is daar vaste reëls waarby jy lewe? Dink jy dit is deel van ’n wettiese godsdiens? Skryf hulle hieronder neer, en dink oor watter van dié reëls jou help om nader aan God te leef, en watter nie.

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat U my verlos het van ’n wettiese godsdiens sodat ek vry is om vir U te leef.