Week 5: Jou lewe is verbind aan Jesus

Dag 1: Jy het gesterwe saam met Christus

Lees Kol 2:6-23 en 3:1-4

Hierdie week staan jy by ’n baie belangrike beginsel stil: die implikasie van die feit dat jy aan Christus verbind is. Anders gestel: Watter verskil maak Christus se sterwe en opstanding prakties aan jou as gelowige?

’n Mens kan jou nogal verwonder daaroor dat Paulus so stellig kan wees oor die saak: “Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood …” Jy weet tog dat jy nie dood is nie, en dat jou ou natuur, die ou, sondige, dwarstrekkerige kant in jou, alles behalwe dood is. As dit waar was, sou jy nie ’n gedurige stryd teen sonde en versoeking gehad het nie, nie waar nie?

En tog sê Paulus onomwonde: Jy het saam met Christus gesterwe en is dood vir die wêreld en die wêreldse manier van dink en doen. Want hy weet dat dit een ding is om iets te glo, en ’n heeltemal ander ding om dit te leef. Want voordat jy dit kan leef, moet jy dit eers bedink. Jy moet nuut dink oor jouself en wie jy in Christus eintlik is. Dit is hoekom Paulus in Romeine 12:2 skryf dat ons moet toelaat dat God ons verander deur ons denke te vernuwe.

Jy moet nuut dink oor jouself; jouself op ’n nuwe manier verstaan. Jy moet verstaan dat jou ou mens in Christus dood is, en jy moet ophou om te reageer op die bevele wat jy van jou ou mens ontvang. Dan eers sal jy nuut en anders kan leef.

Gebed: Dankie, Here Jesus, dat ek saam met U gesterf het en dood is vir die ou dinge.




Week 4 Dag 7: Heil vir die wêreld

Lees Joh 20:11-23

Jesus se werk was in die eerste plek gerig op mense se verlossing van die Bose. Om dit te kon doen, het Hy tot die dood toe teen Satan gestry op Golgota, en oorwin. Daarvan is sy opstanding uit die dood die onweerlegbare bewys.

Sy oorwinning het nie net ons, mense, losgekoop uit die mag van die Bose nie. Dit het ook implikasies vir die ganse skepping, want ook die skepping is deur die mense se sonde geskend. Gaan lees gerus weer Genesis 3:17-19 en Romeine 8:20-23. Jesus se oorwinning het kosmiese implikasies. Deur sy bloed het God alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen (Kolossense 1:20).

As gestuurdes soos Jesus moet hierdie deel van sy werk ook op ons agenda wees. Ons word gestuur na die aarde toe. Dit was van die begin af ons opdrag (Genesis 1:28), en toe die mens dit opgemors het, het die Vader sy Seun gestuur om die aarde te kom vrykoop van die houvas van die Bose. En nou stuur Jesus ons. Ons kan nie hierdie taak aan die groenes en die fanatieke omgewingskenners oorlaat nie. God wil die wêreld deur jou ’n beter plek maak.

Watter bydrae kan jy maak om die aarde ’n beter plek te maak? Skryf dit hieronder neer.

Gebed: Gee my ’n hart vir u skepping, Here!




Week 4 Dag 6: Vergifnis aan ander

Lees Joh 20:11-23

Die heel eerste deel van ons opdrag as gestuurdes is om mense die verlossing te bring wat Jesus verwerf het op Golgota, sodat hulle tot geloof kan kom en ons dan kan verkondig: “Jou sondes is vergewe.” Dis natuurlik nie ek en jy wat sondes kan vergewe nie, maar Jesus maak ons die instrumente waardeur sy vergifnis by mense kan uitkom.

Jesus is immers deur die Vader gestuur om mense te red. So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16). En nou stuur Hy jou ook na die mense van die wêreld om sy werk voort te sit.

Ek en jy is sy broers en susters. Ons is kinders van dieselfde Vader wat ’n passie vir mense het. Daarom móét ons oor die vraag dink: Wat van die mense wat verlore gaan? Wat doen jy daaraan? Is jy in dié opsig deel van die gestuurdes?

Dalk is daar dinge wat jou terughou. Kyk dan weer na gister se dagstukkie. Die Heilige Gees woon in jou! Hy bemagtig jou. Dit is God wat dit in jou laat gebeur. Jy moet jouself net tot sy beskikking stel. Dan sál die Gees jou gebruik om mense by God uit te bring.

Gebed: Here Jesus, gee my ’n passie vir mense, soos U het!




Week 4 Dag 5: Die Heilige Gees se rol

Lees Joh 20:11-23

Net wanneer ’n mens hande in die lug wil gooi en uitroep dat dit darem te veel gevra is om soos Jesus gestuur te word, kom Jesus Self tot ons redding. Saam met sy opdrag gee Hy dadelik ook sy toerusting: die Heilige Gees.

Elke gelowige het reeds die Heilige Gees ontvang. Daaroor skryf Paulus uitvoerig in Romeine 8. Jy kan dit gerus weer ’n keer lees. Die Gees van God woon dus in jou ook, soos Hy aan die eerste dissipels gegee is om hulle te help. Wat verwag jy moet die Heilige Gees in jou lewe doen?

Die maklike antwoord op hierdie vraag is dat die Gees ons help om te glo in Jesus, deurdat Hy ons nuut maak deur die wedergeboorte. Maar dis nie al wat die Gees in ons wil werk nie. Hy wil ons ook help om soos Jesus te word (2 Korintiërs 3:18), en soos Jesus gehoorsaam was aan sy opdrag, ons ook so ons roeping kan uitleef.

Die kerkvader Augustinus het gebid: “Here, gee wat U vra, en vra dan net wat U wil.” En dit is presies wat die Here Jesus doen. Hy rus ons toe deur sy Gees, sodat ons sy opdragte kan uitvoer. Jy is nie op jou eie nie. Moet daarom nie terugdeins nie! Die Gees wat in jou woon, help jou.

Gebed: O Gees van God, ek loof U dat U in my kom woon het en toerus dat ek gehoorsaam kan wees.




Week 4 Dag 4: Soos Jesus gestuur

Lees: Joh 20:11-23

Dit maak ’n mens half benoud, nie waar nie? Dat Jesus dieselfde opdrag wat Hy van sy Vader ontvang het, nou ook aan jou gee! Maar dis hoe dit werk. Jy word Jesus se broer of suster, en sy Vader is nou joune ook. Oor daardie ongelooflike voorreg het jy twee dae gelede nagedink. Dalk wil jy gou terugblaai en kyk wat jy toe in jou joernaal geskryf het.

Nou wil Jesus hê dat jy moet verstaan dat daar nie net voorregte verbonde is aan kind van God wees nie. Dis ook ’n geweldige verantwoordelikheid, want dieselfde opdrag kom ook na jou.

Daar is gelukkig een taak wat Jesus moes kom uitvoer wat Hy nie aan jou en my opdra nie, want Hy het dit volledig klaar afgehandel: Hy moes kom sterf om vir die sonde van die mens te betaal. En tog is die stryd teen die Bose en die sonde deel van ons opdrag ook. Ons mag nie toelaat dat die sonde oor ons heers nie. Paulus skryf baie uitdruklik hieroor in Romeine 6:12-14.

Jesus het egter vir meer gekom as net om die Bose te verslaan en vir ons los te koop uit die sonde. Dink na oor wat Jesus se groot opdrag was, en probeer jou dan indink hoe sy opdrag in jou lewe ook kan uitspeel. Skryf dit in die joernaal hieronder neer.

Gebed: Here, ek is gewillig om gestuur te wees, maar ek voel so onbekwaam. Help my om my roeping uit te voer!




Week 4 Dag 3: Vrede vir julle!

Lees: Joh 20:11-23

Dis nogal ’n verstommende woord waarmee Jesus sy dissipels groet by hulle eerste ontmoeting ná sy opstanding. Onthou, die dissipels het tydens Jesus se inhegtenisneming Hom almal in die steek gelaat. Boonop het Petrus Hom verloën, sodat ons kan aanvaar dat hulle minstens beskroomd was toe Jesus skielik in hulle midde verskyn het.

Hulle was natuurlik onnodig skaam, want Jesus se groet vat al hulle vrese weg. Hy kom in vrede. Hy ontmoet hulle as ’t ware om met hulle vrede te maak. Om hulle verhouding met Hom weer heel te maak.

Is vrede een van die gewaarwordinge wat by jou opkom as jy aan jou verhouding met God dink? ’n Gevoel van heelheid, van rus, van behoort, van geborgenheid en veiligheid? Of kry jy ’n gevoel van beklemming, soos Adam en Eva in die Tuin van Eden? ’n Gevoel van vrees? Onsekerheid? Spanning? Skryf jou gewaarwordinge hieronder neer. Wat, dink jy, veroorsaak dit dat jy nie die vrede wat Jesus bring, ervaar nie? Of dat jy dit wel beleef? Praat met die Here daaroor.

Jesus se oorwinning oor die Bose, oor sonde en die dood maak Hom die Een wat ware vrede kan skenk. Dit het Jesaja al in Jesaja 53:5 voorspel, en dis vandag nog waar. Dit sê Jesus met sy groet, ook vir jou vandag.

Gebed: Here Jesus, ek prys U. U is my vrede!