Week 4 Dag 2: My Vader is ook julle Vader

Lees: Joh 20:11-23

Ons lewe in die era van die afwesige pa’s. In baie huishoudings is daar nie ’n pa nie, óf omdat hy die huis verlaat het, óf omdat hy vanweë werkdruk of ander faktore vir alle praktiese doeleindes afwesig is. Talle kinders word sonder die weelde en geborgenheid van ’n pa groot. Ek lees iewers dat 68% van alle geboorteregistrasies in die laaste 5 jaar in Suid-Afrika nie enige besonderhede van die pa bevat nie.

In só ’n stukkende wêreld kom Jesus sê ’n ongelooflike ding vir Maria Magdalena: sy Vader is ook haar Vader, en ons s’n. Dieselfde intieme band wat daar tussen Vader en Seun is, word nou ook aan jou geskenk. Jy hét ’n Pa, bo en behalwe jou aardse pa wat dalk nie in jou lewe daar is vir jou ’n pa behoort te wees nie.

Dink ’n oomblik daaroor, en skryf dan neer wat dit beteken dat God die Vader en Jesus ’n innige band gehad het. Hoe het dit Jesus se lewe gerig? Wat het dit vir Hom beteken dat God sy Vader is?

Wat beteken dit in jou eie lewe dat God jou Vader is, net soos Hy Jesus se Vader is? En watter implikasie het dit vir jou verhouding met Jesus? Wie is Hy vir jou, as sy Vader ook jou Vader is?

Gebed: Dankie, hemelse Vader, dat U ook mý Pa is.




Week 4: God maak die wêreld beter deur jou

Dag 1: Op jou naam genoem

Lees: Joh 20:11-23

Die oomblik van waarheid het vir Maria aangebreek toe Jesus haar op haar naam aangespreek het. Toe eers ontdek sy tot haar oorstelpte blydskap dat die man voor haar nie die tuinier is nie, maar haar Here. Eers toe sy haar naam hoor, het dit tot haar deurgedring.

Dit is die God aan Wie jy behoort: nie sommer net ’n almagtige toutjiestrekker iewers doer ver nie, maar ’n persoonlike God wat jou op jou naam ken, persoonlik ken, van naby ken.

In hierdie wêreld neem magtige mense besluite wat miljoene mense se lewens direk beïnvloed. Die leier verklaar oorlog en stuur daarmee talle na hulle dood. Wette word uitgevaardig wat elke landsburger raak. Reëls word neergelê oor hoe jy jou kinders mag en nie mag opvoed nie. En die mense agter dié besluite het geen idee wie jy is, en hoe die besluite jou persoonlik raak nie. Jy is net deel van ’n statistiekbladsy, nog ’n nommer tussen al die ander.

Dis presies hier waar ons wonderlike God anders is. Hy ken jou op jou naam. Hy weet presies wat in jou lewe aangaan. Hy weet wat Hy van jou verwag, en hoeveel dit jou kos om dit te doen, want Hy stel in jou belang. Jy is vir Hom nie maar net nog ’n nommer nie.

Gebed: Dankie, Here, dat U my ook op my naam ken.




Week 3 Dag 7: Rus vir jou gemoed

Lees Matt 11:28-29

Dis mos wat ek en jy nodig het: rus vir ons gemoed! Rus, nie net van die dolle gejaag wat die lewe geword het nie, maar rus vir jou gemoed.

Dink net: geen bekommernis nie, geen angstigheid nie, geen onrustigheid nie, geen benoudheid nie; rus. Dit klink mos na hemel op aarde. En – dit is presies dit! Op ’n ander plek in die Bybel word die hiernamaals immers so beskryf: as God se rus. Kyk byvoorbeeld na Hebreërs 4:3: “Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het: ‘Toe het Ek in my toorn ’n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.’”

Dís die rus wat Jesus gee aan dié wat na Hom toe kom. Geborgenheid, reeds hier op aarde, want Hy is daar om vir jou te sorg. Dis ook waaroor die Heidelbergse Kategismus dit in die eerste vraag het: troos in lewe en in sterwe, want ek behoort na liggaam en siel nie aan myself nie, maar aan my enigste Saligmaker, Jesus Christus …

By Jesus leer jy om tot rus te kom, om in Hom te rus. Dan val die uitgeputheid en oorlaaidheid van die lewe en die godsdiens van jou af, sodat jy kan begin leef, voluit kan leef, vir God.

Vind dan vandag jou rus in Hom.

Gebed: Here, ek kom na U toe, want ek smag na die rus wat net U kan gee.




Week 3 Dag 6: Nederig

Lees: Matt 11:28-29

Gister het jy gefokus op Jesus se sagmoedigheid. Vandag kom daar nog iets by. Hy sê ook van Homself dat Hy nederig van hart is. As jy aan Jesus se lewe en woorde dink, waar sien jy sy nederigheid die beste raak?

Ek dink onwillekeurig aan twee insidente as ek aan Jesus se nederigheid dink: daar waar Hy afbuk en die kindertjies nooi om na Hom toe te kom (Markus 10:14), en daar waar Hy afbuk om sy dissipels se voete te was (Johannes 13:1-17). In Filippense 2:5-11 haal Paulus ’n aangrypende lied aan wat juis oor Jesus se nederigheid gaan. Daarin word Jesus se hele menswording en sterwe as nederigheid beskryf.

Dis hoe Jesus is. Hy is nederig. Hy kan Homself nie help nie, want Hy dink van Homself nie te veel om die minste te wees nie. Dit is Hý wat jou nooi om na Hom te kom en by Hom te leer. Ja, dis reg. Hy wil jou leer om ook soos Hy te wees – sagmoedig en nederig van hart. Dit behoort die kenmerk van jou lewe te wees, soos Filippense 4:5 (AFR20) sê: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.”

Is dit ook die kenmerk van jou lewe? Soos dit van Jesus waar is?

Gebed: Maak my soos U, Here Jesus! Nederig en sagmoedig van hart.




Week 3 Dag 5: Sagmoedig

Lees: Matt 11:28-29

Dink aan Jesus. Hy sê hier oor Homself dat Hy sagmoedig is. Die Engelse vertaling is nogal sprekend: gentle. Waar in sy aardse lewe en optrede kan jy dit sien? En in sy woorde hoor? Skryf dit hieronder neer.

Dit kan ’n mens nogal verbaas dat Jesus só was. Hy is immers die Koning van gans die heelal! Alles is aan Hom onderwerp. Hy is die Eerste. In Hom hou alles in stand. Só aanbid Paulus Hom in Kolossense 1:15-20. Jy kan dit gerus ’n keer gaan lees. Of gaan kyk na hoe Johannes Hom beskrywe waar hy op die eiland Patmos die Here Jesus ontmoet (Openbaring 1:9-20). Alle mag in hemel en op aarde is aan Hom gegee, sê Hy vir sy dissipels in Matteus 28:18.

Hierdie einste, magtige Jesus is sagmoedig. Want sagmoedigheid het niks te make met hoeveel mag jy tot jou beskikking het of hoe belangrik jy is nie. Sagmoedigheid gaan oor wat jy met dié mag maak. En veral ook hoe jy oor ander dink. Dít bepaal of jy sagmoedig is, sag in jou omgang met ander, nie hard en kil en strak nie.

Jesus sê jy moenie huiwer om na Hom toe te kom nie, want Hy is sagmoedig. Hy ontvang jou met ope arms, met deernis en ontferming. Jy gaan nie eers die leviete voorgelees word oor wat alles moet verander voordat Hy jou sal aanvaar nie. Want dis nie hoe Hy is nie. Dáárom nooi Hy jou om na Hom te kom. Hy sal jou rus gee.

Gebed: Here Jesus, hier is ek! Ek kom by U skuil.




Week 3 Dag 4: Christus se juk

Lees: Matt 11:28-29

In skrille kontras met die sware las wat die Fariseërs op die mense gelaai het, het Jesus ’n sagte juk en ’n ligte las beloof. Want terwyl die Fariseërs mense toegegooi het onder wette, moets en moenies, het Jesus ’n heeltemal ander benadering gebring: nie reëls op reëls nie, maar die eenvoudige beginsel van liefde. Jy moet die Here jou God liefhê en dien met alles wat jy is, en jy moet jou naaste soos jouself behandel. Jy moenie vra: Is dít of dát geoorloof? nie; jy moet eerder vra: Wat sou ék in ’n soortgelyke situasie verwag het? Hoe sou ék behandel wou word? Moenie vra: Hoe ver kan ek die reël buig voor dit breek? nie, maar vra: Hoe kan ek God in hierdie situasie verheerlik en sy hart bly maak.

Daarmee het Jesus die nakom van die wet baie eenvoudiger gemaak, want vir Hom het dit nie om die wette self gegaan nie, maar om God, en om jou naaste. Leef in liefde voor God en ag jou naaste as ’n medemens, en jy sal nie verkeerd optree nie. So eenvoudig is dit.

Jesus se las is lig en sy juk is sag, belowe Hy aan jou. Want sien, wanneer jy onder sy juk inbuk, ontdek jy dat jy nie die juk alleen hoef te dra nie. Hy buk saam met jou onder die juk in, en Hy dra saam met jou en vir jou die juk. Dit is Jesus se belofte aan jou.

Gebed: Here, ek wil vandag inbuk onder u juk. Help my asseblief om dit te dra.