Dawid, die skaapwagter

Die kleinvee is vandag besonder onrustig. Dis al of hulle nie eetlus het nie. Hulle staan die hele tyd en snuif in die wind op asof hulle iets weet wat ek nie weet nie. Maar hulle hardloop ook nie weg nie, soos wat ’n mens kan verwag as daar ’n ongedierte iewers vir hulle loer.
’n Paar bokke blêr benoud, en Baardjies, die voorbok, stamp-stamp met sy poot teen die grond. Dan kyk hy weer onseker op en snuif.
Ek is nie ’n bok of ’n skaap nie, en ek kan nie so goed ruik soos hulle nie, maar ek kan darem ook die tekens van gevaar sien as ek my kleinvee dophou. Daarom steek ek my hand in my herderstas en vat ’n ronde klip vas. My duim gly oor die rondings van die klip om dit te toets voordat ek dit uithaal en in my slingervel pas.
Iewers is daar ’n ongedierte, maar wat, weet ek nie. Ek weet die luggie kom van die see se kant af; dus sal die ongedierte ons van die ander kant af bekruip sodat ons hom nie kan ruik nie. Maar tog is daar gevaar in die lug. “Baardjies! Ounooi!” roep ek die kleinvee na my toe, weg van die klipperige rant waar ek seker is die dier skuil.
Toe hulle na my toe begin draf, vlieg daar ’n ding tussen die klippe uit. Dis ’n leeu! ’n Uitgegroeide mannetjie. Gelukkig, want as dit ’n wyfie was, kon ek my regmaak vir ’n aanval van meer as een kant. Maar leeu-mannetjies jag dikwels alleen, veral as hulle ouer word.
Ek storm die leeu tegemoet, want hy pyl reguit op een van die lammers af wat nie so vinnig soos die ander wegskarrel nie. Dertig tree van die leeu af gaan ek staan sodat ek met die slingervel kan korrel. Ek het seker nog so twee sekondes voordat hy by die lam sal wees. Dit gaan ’n moeilike gooi wees, want hy hardloop dwars voor my verby. ’n Bewegende teiken is altyd moeilik.
Die slinger swaai een, twee, drie keer, en dan laat ek die klip vlieg. Ek mik so ’n tree voor die leeu om voorsiening te maak vir sy vaart. Val, jou vuilgoed! dwing ek die klippie na die teiken. Op die laaste nippertjie steek die leeu vas en swenk na my toe, sodat die klip rakelings by sy kop verby skiet.
Die lam skarrel met ’n verligte blêr na veiligheid, maar ek het nie tyd om hom dop te hom nie, want die leeu storm reguit op my af.
Ek het nog nooit ’n leeu só in die bek gekyk nie; dis nie ’n mooi gesig nie. Die ivoor-geel tande trek my oë amper hipnoties, sodat ek vir ’n oomblik half verlam bly staan. Dan kom my hand as ’t ware vanself in beweging, en suiwer refleks neem oor toe ek die klippie uit my herderstas haal, in die slingervel sit en korrel. Die leeu is skaars tien tree van my af toe ek die klip laat vlieg. Onmiddellik nadat ek gegooi het, swenk ek weg sodat, as dit mis is, ek darem ’n sekonde of twee meer het om my verdediging in plek te kry.
Die klip tref die leeu met ’n dowwe slag teen sy skouer, net waar sy voorpoot uit sy romp kom. Dit stuit nie die leeu se momentum nie, maar toe hy weer sy voorpoot op die grond wil plant, gee die poot mee. Dis morsaf!
Gelukkig het ek weggeswenk, anders was die leeu bo-op my. Ek het al talle stories gehoor van ’n gekweste leeu. Selfs met drie pote is hy uiters gevaarlik. Met my herderstaf se skerp kant as wapen storm ek op hom af voordat hy tot verhaal kan kom en stamp die staf in sy deinende bors in. Die staf gaan diep in, maar nog is dit nie die einde van die leeu nie. Hy ruk sy lyf met ’n magtige beweging eenkant toe sodat die staf morsaf breek en ek net met ’n nuttelose stok in my hande staan.
“Jahwe, help!” prewel ek benoud toe die leeu my met ’n woedende gesnater bespring. Daar is bloed in sy bek, wat hom nog meer vreesaanjaend laat lyk.
Ek swenk na die ander kant. Gelukkig is die leeu se af poot ’n groot belemmering en is hy nie so rats nie, sodat ek sy flitsende tande net-net kan ontwyk. Maar ek sal nie elke keer so gelukkig wees nie, weet ek. Ek slinger die nuttelose herderstaf na die leeu om my ’n klein bietjie ekstra tyd te gee. My oog vang ’n klip so groot soos my vuis, en ek raap dit op. Die volgende oomblik is die leeu op my. Hierdie keer kan ek nie wegswenk nie; hy is te naby. Sy asem stink, en sy slagtande blink rooi toe hy na my hap. Maar ek is reg vir hom en ruk my arm weg, ondertoe, sodat ek hom met my linkerhand aan sy baard kan vasgryp. Vir ’n oomblik is die leeu onseker wat om te doen, en dit gee my die kans waarop ek gehoop het. Met alles wat in my is, slaan ek hom met die klip, tussen die oë.
Hy skud sy kop dronkerig, en ek slaan weer, dié keer bo-op sy kop, tussen sy ore, sodat hy op die grond neersyg. Tóé eers kry ek kans om my dolk uit my gordel te pluk en sy keel af te sny.
My asem jaag toe ek langs die dooie leeu neersak. Dit was amper! Maar Jahwe het my gehelp. Dankie, Jahwe! Dankie!

uit my boek “Die Verhaal van Dawid