Hoofstuk van die dag: 1 Johannes 5

Daar is dus drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen. (vers 7-8)

Johannes het hierdie brief begin deur te wys op sy betroubaarheid as ooggetuie (1 Joh 1:1-3). Aan die einde van sy brief kom hy terug na dié tema. Die getuies wat hy roep om te bevestig dat God deur Jesus aan ons die lewe skenk, is goddelik: die water (Jesus se doop, waar God self verklaar het dat Jesus sy geliefde Seun is, Mark 1:9-11), die bloed (sy kruisdood) en die Gees. Dié drie getuies bevestig onweerlegbaar dat God deur Jesus aan ons die ewige lewe skenk.
Baie mense glo hulle sal eendag in die hiernamaals die ewige lewe ontvang. In ’n sekere sin is dit natuurlik waar. Maar Johannes is gou om ons te verseker dat ons nie vir eendag hoef te wag nie. Wie die Seun het, het die ewige lewe (vers 12). Daarom kan ons met vrymoedigheid voor God leef. Hy hoor en verhoor ons gebede (vers 14-15). Daarom kan ons ook seker weet dat die duiwel nie ’n houvas op ons het nie (vers 18).
Dít is uiteindelik ons troos in lewe en in sterwe: dat ons aan God behoort (HK vraag 1).

NB: Ons begin (DV) môre met die boek Daniël.




Hoofstuk van die dag: 1 Johannes 4

En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is. (vers 3)

Daar is toenemend ontsteltenis in die kerk oor teoloë wat Jesus se maagdelike geboorte en sy liggaamlike opstanding ontken. ’n Mens wonder hoe iemand wat opgelei is as predikant of ’n dosent aan ’n teologiese fakulteit is, so kan dink.
Johannes gee vir ons die antwoord: dié mense is vals profete en word nie in hulle standpunte en uitsprake gelei deur die Gees van God nie. Hulle het die gees van die antichris en staan dus direk teen Christus. Hulle is voorlopers van die Antichris wat aan die kom is om die kerk te vervolg en te probeer vernietig. Daarmee het hulle deel van die duiwel se span geword.
Dat hierdie mense die kerk baie skade berokken, is gewis, en ’n mens kan jou met reg daaroor ontstel. Ons hoef ons egter nie aan hulle te steur nie. Niks wat hulle sê, kan maak dat Jesus nie die Seun van God is nie. Uiteindelik sal God self vir sy eer veg.




Hoofstuk van die dag: 1 Johannes 3

Elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie; elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien, en Hom nie leer ken nie. (vers 6, 2020-vertaling)

Ons weet dat ons daarna moet strewe om so min sonde moontlik te doen. Maar Johannes is nie daarmee geneë nie. As jy sondig, het jy Hom nie gesien nie en ken jy Hom nie. Punt.
As jy eerlik is, sal jy saamstem dat dit beteken daar is nie hoop nie. Gelukkig is dit nie wat Johannes bedoel nie. Daarom praat die 1983-vertaling van “hou nie aan sondig nie” – niemand wat in Christus bly, maak ’n gewoonte daarvan om aan te hou met sonde nie. Ware gelowiges sterf hulle ou sondige gewoontes af en vervang dit met nuwe gewoontes van geloof en liefde.
Dis soos iemand wat gewig wil verloor deur eetgewoontes te verander. Jy word nie oornag maer nie, maar as jy vasbyt, gebeur dit mettertyd wel.
Dit beteken dat jy moet vasbyt in jou geloofstryd. Die geheim is om nie teen die sonde te stry en daarop te fokus nie, maar om jou fokus op Christus te stel, en te werk aan jou verhouding met Hom. Só sal jy gaandeweg in Christus se krag oorwinnings oor sonde behaal.




Hoofstuk van die dag: 1 Johannes 2

As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. (vers 3)

As iemand jou vra hoe jy weet jy is ’n kind van die Here, kan daar baie antwoorde wees. “Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so,” het ons as kinders gesing. Die Bybel sê immers almal wat Hom aangeneem het, het die reg om hulleself kinders van God te noem (Joh 1:12). Jy sou ook kon sê jy weet, want jy glo in Hom as jou persoonlike Saligmaker. In die teologie praat ons van die syllogismus mysticus – die innerlike oortuiging dat jy God s’n is.
Johannes gee nog ’n kriterium, die syllogismus practicus – die sekerheid van saligheid wat jy uit jou optrede kan sien. Jy weet jy is ’n kind van God, sê hy, want jy leef soos een. Jy gehoorsaam sy Woord (vers 5); jy lewe soos Jesus gelewe het (vers 6).
Kyk na jou eie lewe. As jy daarin die vrug van die Gees (Gal 5:22-23) gewaar, kan jy weet dat jy aan God behoort. Die Westminister Confession bely: Goeie werke is die vrug en bewys van ’n lewende geloof. Deur goeie werke te doen, versterk jy jou sekerheid.




Hoofstuk van die dag: 1 Johannes 1

Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. (vers 1)

Johannes begin sy brief met ’n bekendstelling: hy was een van die bevoorregtes wat die Here Jesus in sy aardse gestalte persoonlik geken het. Hy praat nie sommer van hoorsê nie. Hy weet waarvan hy praat. Daarom dra sy getuienis oor Hom gesag.
Die eerste ding wat hy by Jesus gehoor het, is dat God lig is, en dat daar geen duisternis in Hom is nie (vers 5). As ons die eiendom is van God, wat lig is, moet ons optrede en dade dié lig weerspieël. Ons kan nie in God se ligkring leef en ook met duister dinge besig wees nie. Sonde vloek teen Hom aan wie ons behoort, en ons is almal skuldig. Maar, is Johannes gou om by te voeg, daar is vergifnis, gewaarborg deur God self. Jesus se bloed was ons skoon (vers 9).
Hóé vroom jy ook al is, jy kan nie loskom daarvan nie. Jy het nodig om daagliks uit die vergifnis te leef wat Jesus vir ons verwerf het. Ook vandag.