Hoofstuk van die dag: 1 Konings 22

Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Hier is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg, maar ek haat hom, want hy voorspel vir my nooit iets goeds nie, net altyd die slegste. Dit is Miga seun van Jimla.” (vers 8)

Jare later het die Here só aan Esegiël (3:7) gesê: “Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie eens na My luister nie. Al die mense van Israel is koppig en onversetlik.” Hierin was Agab hulle voorloper. Hy wou net hoor wat hy wóú hoor. Die res het hom kwaad gemaak, só erg dat hy selfs die Here se ware profeet gehaat het (vers 8).
Dit is helaas vandag nog so dat mense die goed waarvan hulle nie hou nie, uitfiltreer, of ignoreer. Daar is goeie Christenmense wat hulle lewe lank Bybel lees, maar ’n baie selektiewe boodskap kry. Hulle hou van die beloftes in die Bybel wat voorspoed voorspel, of God se sorg en voorsiening en beskerming. Dís die vrae wat hulle vra as hulle Bybel lees. Maar hulle vra nie watter opdragte die Here in die Bybel gee nie, of waarskuwings nie.
Die Bybel is meer as net ’n magiese boek vol beloftes.

Naskrif: Môre gaan ons voort met 2 Konings




Hoofstuk van die dag: 1 Konings 21

Maar Nabot het vir Agab geantwoord: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek die erfgrond van my voorouers ooit aan u sou afstaan!” (vers 3)

’n Mens kan jou nogal verwonder dat Nabot weier om ’n stuk grond aan die koning te verkoop. Hy moes sekerlik die gevolge van sy weiering besef het.’n Mens se grond is tog nie jou lewe werd nie! Maar Nabot het nie só oor die saak gedink nie, want sy grond was nie syne om weg te gee of te verkoop nie. Dit was erfgrond, en daarom was dit die Here s’n. Hy het dit maar net vir die Here bestuur. In Levitikus 25:23 het God dit uitdruklik verbied dat ’n Israeliet sy erfgrond mag verkoop.
Nabot was nie sommer net ’n koppige ou man wat Agab nie sy sin wou gee nie. Hy was ’n gelowige, en sy weiering spruit uit sy opregte en diepe eerbied vir God en sy gebod.
Hierdie verhaal vra van ons: wat maak jy met dít wat God aan jou gegee het? Is jy ’n goeie rentmeester van God se seëninge? Gebruik jy dit tot God se eer? Nabot sal sê: Dit is nie joune om daarmee te maak wat jy wil nie.




Hoofstuk van die dag: 1 Konings 20

“So sê die Here: Omdat die Arameërs gesê het: ‘Die Here is ’n berggod, Hy is nie ’n god van die vlaktes nie,’ gaan Ek hierdie hele groot menigte in jou mag oorgee. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” (vers 28)

Dis ’n vreemde verhaal, waarin ’n profeet (of dit dieselfde man was, weet ons nie; dit was egter nie Elia nie) telkens aan koning Agab die Here se leiding oorgedra het. Die gebeure moes daarop uitloop dat Agab én Ben-Hadad besef dat die Here in beheer is (vers 13 en 28).
Deur die Here se toedoen behaal Agab twee magtige oorwinnings, en Ben-Hadad word verpletterend verslaan. Tog gee Agab nie aan die Here die eer nie. En al “les” wat Ben-Hadad geleer het, is dat Agab ’n gawe man was.
Die verhaal laat my wonder hoeveel geleenthede ekself al onbenut laat verbygaan het, waar ek nie aan die Here die eer gegee het wat Hom toekom nie. Waar ek stilgebly het toe ek moes praat oor sy grootheid, of waar ek die eer vir myself gevat het.
Jesus sê immers (Matt 5:16): “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”




Hoofstuk van die dag: 1 Konings 19

En na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte.Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. (vers 12-13)

Miskien was jy ook al daar waar Elia is: terneergedruk, moeg, moedeloos. Al wat jy wil doen, is om jou kop toe te trek en te wens almal wil jou uitlos. Of nog erger: jy wens jy was dood.
Dit kan met enige iemand gebeur, en dit kom oor jou op ’n tyd dat jy dit die heel minste verwag. Elia het op die kruin van die golf gery. Dan laat weet koningin Isebel vir Elia dat sy doodsvonnis klaar gevel is (vers 2). En dis asof Elia net nie meer krag het om aan te gaan nie. Hy gaan kruip weg in ’n grot by die berg Horeb.
Toe die Here hom vra wat hy daar maak, is sy antwoord (vers 10) insiggewend – hy sit homself en bejammer.
God antwoord deur Homself aan Elia te vertoon. Maar God was nie in die buitengewone (’n rukwind en aardbewing, vers 11) te vind nie. Dit was eers toe daar niks buitengewoon was nie, dat Elia iets van God beleef het.
Waar soek jý na God vir nuwe moed?




Hoofstuk van die dag: 1 Konings 18

Toe Agab vir Elia sien, sê Agab vir hom: “Is dit jy, die een wat Israel in die ongeluk stort?” (vers 17, 2020-vertaling)

Agab reageer tipies menslik. Die droogte is Elia se skuld, sê hy. Ons is nie geneig om die oorsaak vir ons ellende in onsself en ons optrede te soek nie. Dis baie makliker om die vinger te wys.
Dié toneel speel af binne ’n groter konteks van die stryd om die hart van die volk, met die vraag: Wie is waarlik God? Jahwe, of Baäl, die god van reën en donderweer? Dit is hoekom Elia die Baälpriesters en die hele volk na Karmelberg laat kom. Die volk moes kies tussen die Here en Baäl, maar hulle swyg (vers 21). Stilbly is natuurlik ook ’n antwoord. Die invloed van Isebel se Baäldiens het deurgewerk tot by die hele volk.
Die stryd is nogal ongelyk. Elia teen 450 Baälprofete. En tog druk Elia deur, want die voorafgaande gebeure (die droogte, die kraaie, die weduwee) het hom geleer dat hy God kan vertrou. Soos Dawid in 2 Sam 22:30 bely het: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.”
En jy? Vertrou jý die Here onvoorwaardelik?




Hoofstuk van die dag: 1 Konings 17

(Elia het) tot die Here geroep en gesê: “Here my God, bring U selfs oor die weduwee by wie ek my as vreemdeling bevind, onheil deur haar seun te laat sterf?” (vers 20, 2020-vertaling)

Hierdie hoofstuk is vol drama, met die eintlike stryd tussen God en Baäl, die god van reën en vrugbaarheid.
Gód laat reën, nie Baäl nie, en Hý laat die reën wegbly.
Eers vlug Elia na die spruit Krit, waar kraaie hom versorg, en toe gaan skuil hy by ’n Sidoniese weduwee. Daar sorg God ook, maar dan sterf die weduwee se seun.
’n Mens kan jou verbaas oor hoe Elia met God praat oor die kind (vers 20). Hy verwyt die Here in sy gebed. En tog antwoord die Here hom! Hoe dan anders? God is immers nie ’n koue, afgetrokke, harde God nie. Hy het in Christus Jesus ons Vader geword. Hy is ’n God wat omgee vir sy kinders, ’n God wat hoor as ons bid, wat ons benoudheid ken.
Moenie bang wees om jou hart voor Hom uit te stort nie! Moenie huiwer om na Hom te gaan met jou vrae en frustrasies en onstuimige gemoed nie. Hy is ook jóú Vader. Hy verstaan jou nood. Kyk gerus na Ps 103:14.