Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 16

Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie. (1 Kor 16:2)

Hoe moet ons die grootte van ons dankoffer bereken? Paulus sê: na vermoë (vers 2). Onthou, jou dankoffer is ’n geloofsdaad. As jy aan God gee wat Hom toekom, kan jy glo dat Hy vir jou sal sorg (2 Kor 9:8-11). Hoewel ons nie meer met ’n tiende van ons inkomste werk soos dit in die Ou Testament gegeld het nie, bly dit tog ’n goeie aanduiding van hoe ons oor dankoffers moet dink. Uiteindelik gaan dit oor die vraag: hoe dankbaar is jy?
Moet jou hele dankoffer na die gemeente toe gaan? In Deut 14:22-29, waar die reëlings oor die gee van die tiende getref word, staan ’n interessante ding: elke drie jaar moes die Israeliete hulle tiendes nie na die tempel toe vat nie, maar in die dorpe opspaar, sodat die Leviete, die armes en die weduwees van die omgewing kos kan hê om te eet (Deut 14:28,29). Miskien kan ons hieruit aflei dat ’n deel van ons dankoffer aan buite-gemeente- en liefdadigheidswerk gegee kan word?

Naskrif: Ons gaan Maandag met 2 Korintiërs voort. Seënwense!




Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 15

As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. (1 Kor 15:19)

Hoe bepaal jy of daar nog lewe in die kerk is? Aan hoeveel mense Sondae kerk toe kom? Die grootte van die dankoffers? Die liefde onderling? As jy liefde sien, as die gemeente uitreik na die wêreld wat verlore gaan of in nood is, kan jy sê daar is lewe (vgl Op 3:1ev)? Want die lewe van ’n gemeente lê nie in haarself nie. Dit lê in die Koning van die kerk, Jesus Christus. Die toets, sê Paulus, lê in die vraag of Jesus daar lewe; of Hý in die hart van die gemeente is en die gemeente Hom dien as die opgestane Here.
Dit was die fout wat die mense in Korinte gemaak het. Daar was lidmate wat allerhande emosionele belewenisse gehad het, charismatiese gawes besit het, in tale gespreek het, in geestesvervoering geraak het – en gedink het dit beteken hulle is ’n lewende kerk. Maar Paulus sê nee. Die toets is: lewe Jesus of is Hy nog in die graf (vers 19)? Ken en dien jy Hom as die lewende, opgestane Here, of is Hy maar net ’n historiese persoon van wie ons in die Bybel lees?




Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 14

Soos in al die Christelike gemeentes moet die vrouens ook in julle byeenkomste stilbly, want hulle word nie toegelaat om te praat nie. (1 Kor 14:33b-34)

Paulus skets ’n erediens wat vreemd is aan ons eie ervaring. Daar was destyds nie opgeleide predikante nie (behalwe die apostels en iemand soos Paulus). Die erediens is dus opgemaak deur die spontane deelname van die aanbidders; ’n openbaring, ’n onderwysing, ’n psalm, spreek in tale (vers 26). Paulus reël hier hoe dinge ordelik in die erediens moet verloop en niemand oorvat nie.
Anders as wat baie mense dink, is sy reëling in vers 34 nie ’n algehele verbod op vroue se deelname in die erediens nie. In 11:5 het hy reeds erkenning gegee aan vroue wat in die erediens bid of profeteer; dit was dus nie ongewoon nie. Wat hier ter sprake was, is waarskynlik vroue wat, soos die gebruik by die tempel van Apollo, die profete gepeper het met vrae oor geboorte, beroepe vir hulle kinders, hulle huwelik ens. Die erediens is nie die plek daarvoor nie; dit moet tuis bespreek word, sê Paulus (vers 35).
Ons het hier met ’n baie belangrike beginsel in Skrifverklaring te make: sonder konteks kan ons maklik ’n teks verkeerd verstaan.




Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 13

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie… (1 Kor 13:4)

Ferdinand Deist sê iewers in ’n preek ons lewens moet musiek maak. Maar, sê hy, as ons nie oppas nie, gebeur dit maklik dat ons nie musiek maak nie, maar net ’n klomp geraas (vers 1). En, baie belangrik, ons moet saam musiek maak, soos wat in ’n simfonieorkes gebeur.
Die bladmusiek vir hierdie musiek is opgeteken in verse 4-7. As ons dié bladmusiek goed bestudeer en getrou inoefen, kan daar hemelse klanke uit ons saamwees opklink – ons sal geduldig met mekaar wees, vriendelik, groothartig, beskeie, saggeaard, welvoeglik, nie selfsugtig of kleinserig nie, vergewensgesind, liefhebbers van die waarheid, beskermend teenoor ander, gelowig, draers van hoop, verdraagsaam …
Hierdie liefde is ’n lewenstyl, ’n lewenshouding waarvoor jy moet kies, en wat jy jou lewe lank moet inoefen soos jy vir ’n konsert instudeer.
Natuurlik moet ons sáám in hierdie simfonie speel, waar elkeen sy eie unieke klankkleur bring, en daarom sal ons, soos ’n goeie musikant in ’n simfonieorkes, ons oog op die Dirigent moet hou, want Hý lei ons en snoer ons saam tot ’n meesterlike uitvoering.
O, as ons dít maar kan regkry!




Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 12

Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. (1 Kor 12:12)

Ons ken almal hierdie beeld wat Paulus gebruik as hy van die kerk praat. Saam vorm ons een groot liggaam, en elke enkele lidmaat is deel van die liggaam; jy ook. Ons behoort dus aan mekaar, onlosmaaklik verbind deur ons verbondenheid aan die Hoof, Christus.
Dit het ’n paar implikasies, wat Paulus in dié hoofstuk uitspel. Enersyds kan ons nie onafhanklik van die ander lede funksioneer nie, want ons het mekaar nodig, soos die oog die niere nodig het. Andersyds kan ons nie indiwidueel besluit waar en of ons wil inpas, en wie deel van die liggaam is nie. Dis nie ons besluit nie; dis in die Gees, en die Hoof, Christus, se hand.
Hier is ook ’n verdere implikasie: deel-wees van die liggaam, die kerk, is nie opsioneel nie. Dit het die RKK die stelling laat maak: buite die kerk is daar geen verlossing nie. Ek wil nie heeltemal so ver gaan nie, maar dit laat ’n mens dink. Dis ook hoekom kerkskeuring vir die hele gemeente so traumaties is.




Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 10

Hierdie dinge het gebeur as voorbeelde vir ons dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie. (1 Kor 10:6)

Paulus sê ons moenie dink dít wat in die Ou Testament staan, is maar net ’n klomp ou geskiedenis van honderde jare gelede wat eintlik nie vir ons as Nuwe Testament Christene relevant is nie. Want dit wat met die Israeliete gebeur het, kan vandag nog gebeur. Dit is in die Bybel opgeteken om ons te waarsku. Moenie dink jy is te goed om te struikel nie (vers 12). Dis die groot slaggat waarin ons maklik trap: dat ons dink ons kan self ons lewe hanteer, soos Adam en Eva in Eden, of die Israeliete in die woestyn, of Simson in Delila se slaapkamer, of Dawid met Batseba, of Jona wat op ’n skip probeer wegvlug het …
Die Bybel is vol voorbeelde van mense wat gemeen het hulle staan, en toe baie hard geval het. Wees gewaarsku, sê die Woord, dit kan met jou ook gebeur. Moenie oorgerus wees en dink jou geloof is sterk nie. Want ’n selfversekerde Christen kan nie teen die lis van Satan en die verleiding van die sonde staande bly nie.

Naskrif: Ek gaan vir die volgende twee weke uithuisig wees en sal dus nie dagstukkies kan uitstuur nie. Ek sal (DV) weer op 4 November ’n stukkie uitstuur.