Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 9

Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. (1 Kor 9:25)

Die Isthmiese Spele is elke twee jaar in Korinte gehou; daarom het die Korintiese lesers die beeld van ’n atleet (vers 24-27) goed verstaan. Die oorwinnaarskroon (vers 25) wat die wenner ontvang het, was inderdaad verganklik; dit was van dennenaalde gemaak. En tog het die deelnemers ’n moordende oefenprogram gevolg, want daar was baie prestige by betrokke.
Vir die gelowige is die oorwinnaarskroon die ewige lewe. Dit val nie in jou skoot bloot omdat jy op ’n dag “ja” gesê het vir die Here nie (Matt 7:21). Jy moet elke dag voluit aan die wedloop van die lewe deelneem (vers 24b). Dit is presies wat hyself doen, sê Paulus. Hy oefen sodat hy geestelik fiks kan wees, gereed om ander gelowiges in ag te neem (vers 22) en elke versoeking en uitdaging die hoof te bied; so anders as wat die skrifgeleerdes en Fariseërs gedoen het (Matt 23:13; vgl ook Jak 3:1).
Elke dag getrou wees sodat ons ander tot die stryd kan oproep (vers 27) – die mense om jou, jou gesin, jou kollegas, jou vriende en bure. End-uit volhard (Heb 3:14)!




Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 8

Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, ’n aanleiding tot sonde word nie. (1 Kor 8:9)

Destyds (1857) toe die sinode van die NG Kerk besluit het om afsonderlike dienste vir bruin lidmate in die kerk te begin, het hulle geweet dat dit verkeerd is, maar hulle het desnieteenstaande die besluit geneem “as gevolg van sommige se swakheid.” Dié besluit het die kerklike landskap in die NG Kerk onherroeplik verander. Selfs vandag nog, lánk nadat die NG Kerk in 1986 besluit het die kerk is oop vir almal, ongeag hulle bevolkingsgroep, is daar steeds lidmate wat kerkrade as ’t ware gevange hou in ’n beleid van apartheid, omdat hulle dreig om te loop “as die swartes in die kerk inkom.”
Op sterkte van vers 9 sou ’n mens kon sê dis reg dat die swakkes in ag geneem moet word. Ongelukkig is dié argument keer op keer misbruik om kerklike debatte oor rassisme dood te smoor. Hierdie argument kan nie gebruik word om dinge wat heel duidelik verkeerd is, te regverdig nie.
Dis nie verkeerd om nie afgodsoffervleis te eet nie. Dis ’n persoonlike keuse en benadeel nie ander nie. Rassisme val nie in hierdie kategorie nie, en is onder alle omstandighede verkeerd.




Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 7

Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God. (1 Kor 7:14)

Wat ’n ongelooflike troos vir ’n ouer wie se eggenoot nie ’n gelowige is nie! Die kinders behoort steeds aan die Here, want die geloof van die ouer oordek die kinders. Natuurlik plaas dit ’n dubbele verantwoordelikheid op die gelowige ouer (en grootouers) om die kinders vir die Here groot te maak. Die kwaliteit van so ’n ouer se geloofslewe sal uiteindelik die deurslag gee as die kinders eendag self ook moet kies, sodat hulle die pad van die gelowige ouer stap. Ons mag aan dié belofte vashou. Hulle behoort aan God (vers 14).
Ek haal my hoed af vir ’n ouer wat Sondag na Sondag alleen met die kinders kerk toe gaan. Ons moet baie meer vir hulle bid.
Paulus sê nie dat die ongelowige eggenoot gered word deur die band met die gelowige eggenoot nie. Dis immers net die Gees wat dit kan doen. Paulus gebruik die term “geheilig” of “by God aanneemlik”. Tog bly die hoop bestaan (vers 16).




Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 6

Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie? (1 Kor 6:7)

In ons moderne samelewing het hofsake iets alledaags geword. Die howe kan nie byhou met al die sake nie. Nou praat ek nie van politieke leiers wat aanhou hof toe gaan, tot jy daarvan wil skree nie. Ek praat van gelowiges wat hulle dispute met ander gelowiges in die hof laat besleg.
In die vroeë kerk is die riglyne wat Paulus hier gee, baie ernstig opgeneem. Lidmate is verbied om na die wêreldse howe te gaan. Ouderlinge is aangestel om dispute te besleg. Hierdie kerklike howe het soveel aansien geniet dat selfs nie-lidmate hulle eerder na hierdie kerklike howe gewend het.
By ons is daar lank nie meer sulke kerklike instellings om siviele sake te hanteer nie. In só ’n geval, sê Paulus, is die opsie altyd daar om liewer onreg te ly. Maar ons moderne gelowiges wil te dikwels onsself laat geld en die ander party op sy baadjie gee.
Miskien moet ons Josef (en Jesus!) se voorbeeld begin volg (Gen 50:19-21; kyk ook na 1 Pet 2:21-23). Vergifnis eerder as vergelding. Dís kruisdra!




Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 5

Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (1 Kor 5:11)

Een van die krisisse in die tradisionele kerke is die groot aantal lidmate wat wel formeel nog aan die gemeente behoort, maar in die praktyk glad nie meer meeleef nie. Hulle is soos mense wat nie aan ’n kerk behoort nie. En dan is daar verder die probleem dat daar lidmate is wat wel nog af en toe kerk toe kom, maar nie leef soos gelowiges nie; wat hulle gesin verrinneweer, onkuis lewe, dobbel, rassisties is, geldgierig …
Paulus waarsku dat dit nie maar net daardie betrokke lidmate se saak is nie; dit is soos suurdeeg wat deur die hele baksel werk en alles aantas (vers 6-8). As sulke lidmate se optrede oogluikend toegelaat word, skep dit die indruk dat dit maar reg is om so te leef. Soos mense wat sê, as die dominee dit doen en daarmee wegkom, kan ek ook mos.
Ek wonder soms waar die probleem ingesluip het. Dalk omdat ons nie meer omgee oor ander nie?




Hoofstuk van die dag: 1 Korintiërs 4

Daarom spoor ek julle aan: Volg my voorbeeld! (1 Kor 4:16)

Ek het eenkeer, toe ek iets oor die huwelik geskryf het, my eie geseënde huwelik voorgehou as voorbeeld. Party gemeentelede het my dit ernstig verkwalik en daarvan beskuldig dat ek dink my huwelik is beter as hulle s’n. Uiteindelik was dié artikel die begin van die einde van my bediening in daardie gemeente.
Was ek verwaand om dit te skryf? Wou ek voorgee dat my eie huwelik volmaak is? Glad nie. Ek meen dis net ’n kwaadwillige persoon wat dit só kan interpreteer. Paulus hou immers sy lewe voor as navolgenswaardig (vers 16). Dit beteken nie hy was perfek nie; trouens, op ander plekke erken hy dit self dat hy nog ver tekort skiet (Fil 3:12; Rom 7:21). Soos een kommentaar vertaal: “Take your cue from me.”
Paulus vra dat ons leefstyl die sterf-saam-met-Christus karakter sal openbaar, waarna hy in sy eie lewe gestreef het (vers 9-13). Dis nie om te spog dat hy dit skryf nie; dis om die implikasie van die navolg van Christus uit te spel (vgl 1 Kor 11:1).
Die vraag waarmee dié gedeelte ons laat, is dit: “Is my lewe só dat ander my voorbeeld kan volg?”