Hoofstuk van die dag: 1 Petrus 5

Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. (vers 8)

Petrus skryf hierdie brief waarskynlik uit Rome, waar leeus op weerlose Christene in die arena losgelaat is om hulle te verslind, tot vermaak van die skare. Bloot die gedagte daaraan laat ’n mens sidder. So is die duiwel met ons almal besig, en ’n mens moet daarteen waak om Satan se mag te onderskat. As jy dit doen, sál hy jou verslind.
Ons is egter nie weerloos soos die Christene in die arena nie. In die geloof kan ons hom teenstaan (vers 9). Ons het ook die wapenrusting waarmee ons onsself teen sy aanslae kan verdedig (vgl Ef 6:10-18). Die kragtige hand van God (vers 6) is daar om ons te beskerm.
Petrus herinner sy lesers daaraan dat nie net húlle ly onder Satan se aanslae nie. Dwarsdeur die wêreld gebeur dit met gelowiges (vers 9). ’n Mens kan maklik moedeloos word en jouself bejammer as jy dink jy staan alleen in jou stryd, soos Elia wat gewens het hy was dood (1 Kon 19:4,10 en 18).
As jy in jou nood met geloof aan God vashou, sal Hy jou weer oprig (vers10). Byt vas!

_Naskrif:_ Môre begin ons met die boek Nahum.




Hoofstuk van die dag: 1 Petrus 4

Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. (vers 13)

Petrus vra nie dat ons smartvrate moet wees nie. Hy sê deur ons lyding deel ons in die lyding van Christus. Op ’n misterieuse wyse word ons lyding opgevang in die lyding van Christus. Dis nie iets wat ons met ons verstand kan deurdink nie. Tog is dit ’n realiteit. Christus het immers gekom om ons lyding op Hom te neem (Jes 53:4).
Toe ek deur ’n baie donker tyd in my lewe gegaan het en ek van alle kante aangeval is, persoonlik en in my werk en huwelik, was dit juis dié gewaarwording wat my uiteindelik deurgedra het: deur my lyding kry ek deel aan Christus se lyding. Hy dra my swaarkry en verguising, maar deur my seerkry buk ek ook in onder sy kruis en help Hom om dit te dra. Dis as ’t ware of ek saam met Hom na Golgota gestrompel het!
Word stil en bedink dit. Sien Hom voortbeur met sy kruis na Golgota, en hoe jy onder sy kruis inbuk. Vreemd hoeveel dié wete my getroos het en steeds troos. Dalk troos dit jou ook.




Hoofstuk van die dag: 1 Petrus 3

Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus. (vers 21)

Ongelooflik. Hier staan dat die doop ons red! Dit is tog nie hoe ons dit geleer het om oor die doop te dink nie. Dit is immers nie die doop wat ons red nie; dit is die Here Jesus.
Vir Petrus se hewig vervolgde lesers was geloof ’n saak van lewe en dood. Dit laat Petrus dink aan Noag. Hy het feitlik man-alleen gestaan te midde van ’n wêreld van ongeloof. In hierdie omstandighede bou Noag die ark. Toe die stormwaters kom, gaan Noag en sy huis in die ark in en vertrou hulleself volledig aan God toe in die bede dat Hy hulle sal laat leef terwyl die watermassa van God se oordeel die goddeloses uitdelg.
So, sê Petrus, is dit vandag nog. Die doop is ’n gebed van iemand wat weet dat hyself nie verder kan nie, en God se hulp nodig het. Die doop is iets waaraan ons kan vashou in ons diepste nood, in die ergste versoeking, omdat God gedoopte mense vashou en bewaar en red.




Hoofstuk van die dag: 1 Petrus 2

Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. (vers 9)

Ons is deur God gekies en vir diens aangestel. Ons is heilig om ’n koninklike priesterdom te wees: koning Jesus se priesters in die wêreld, om tussen God en die wêreld te staan, om namens God voor die wêreld te staan, maar ook deur ons voorbidding namens die wêreld voor die Here te staan.
Ons is bevoorreg om toegang tot God te hê in gebed, en Hy praat ook met ons deur sy Woord. Daarom wil God ons gebruik om sy stem te wees teenoor hulle wat lankal opgehou het om na Hom te luister. Maar ons moet ook God se stem wees waar mense in nood is, seer het, eensaam is, verlate voel, treur. Dáár moet ons God se teenwoordigheid indra by mense wat Hom nodig het.
Dit spreek natuurlik vanself dat ’n mens net God se stem kan wees as jy self God se stem ken en met Hom praat in jou binnekamer, en na sy Woord luister wanneer jy die Bybel lees en dit bestudeer.




Hoofstuk van die dag: 1 Petrus 1

Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. (vers 15)

Dit is duidelik uit hierdie brief van Petrus, dat die gelowiges anders is as ongelowiges. Daarom spreek Petrus sy lesers aan as “uitverkorenes”, “vreemdelinge in die wêreld” (vers 1), en in 2:1 voeg hy die omskrywing by: “bywoners”.
Die rede vir ons andersheid lê in God. Dit is Hý wat ons anders gemaak het, omdat Hy ons uitgekies het om sy eie volk te wees in hierdie wêreld. Dít is hoe Petrus sy brief begin (vers 1-2). Daarom verwag God van ons om inderdaad ook anders te lewe as die wêreld, soos Hy te wees; heilig te wees (vers 15-16).
‘Heilig’ beteken om nie maar net deel van die wêreld nie, maar uitgekies en eenkant gesit om aan God te behoort en diensbaar te wees vir Hom. Dit beteken om in alles aan God gehoorsaam te wees en daarom om ons lewens in te rig volgens die riglyne in die Bybel, nie volgens ons begeertes nie, sê vers 14.
Wie nie bereid is om met sy hele lewe aan God te behoort nie, hoort nie in die kerk nie. Wees dan heilig, want ons God is heilig (vers 16).




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot 1 Petrus

Kyk gerus na hierdie kort video om ’n oorsig oor die brief te kry: