Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 25

Dawid het vir Abigajil gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet. (vers 32)

Daar is gelowiges wat sê die Here lei hulle met ’n hoorbare stem. Hy sê vir hulle om dít of dát te doen, of dat hierdie of daardie ding gaan gebeur, en dan gebeur dit inderdaad. Dit is wat skynbaar met Dawid gebeur het toe hy van plan was om koning Saul dood te maak, soos ons gister gesien het.
Daar is ander gelowiges wat sê die Here lei hulle deur sy Woord, waardeur hulle bewus word dat hulle iets moet doen of moet los. Vir hulle is die Here se stem in sy Woord net so ’n werklikheid, al werk dit heeltemal anders as ’n influistering of selfs ’n harde stem.
’n Derde manier waarop die Here lei, is deur ander gelowiges oor ons pad te stuur. Dis hoe Hy vir Dawid gekeer het om Nabal dood te maak. Abigajil het hom tot sy sinne gebring deur haar tydige ingryping.
Jy hoef nie die een of die ander te kies nie. Jy kán trouens nie, want God werk op verskillende maniere, na gelang van omstandighede.
Geloof sy die Here dat Hy ons lei!




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 24

Die Here sal regspreek tussen my en u en die Here sal my wreek op u, maar ek sal nie teen u wees nie. (vers 13)

Dawid was oorgehaal om Saul se lewe te naam. Almal in die grot het dit ook van hom verwag. Maar toe gebeur die onverwagte. Dawid sny net die punt van Saul se mantel af. En selfs daaroor voel hy sleg (vers 6), want wat hom betref, was Saul deur God aangestel as koning, en dis nie sy reg om daaraan ’n einde te maak nie, al het hy die geleentheid en alle rede gehad om dit te doen.
Dis net iemand wat naby God leef, wat só kan reageer op God se leiding.
Vir Dawid was dit genoeg dat die Here weet wat aangaan, en Hy sal uiteindelik laat gebeur wat moet. En omdat God in beheer is, maak dit hom vry om nie wraak te neem nie.
Dit is hoe die Here Jesus ons in Matt 5:39 leer. Draai die ander wang. God sien wat gebeur. Paulus leer dit ook in Rom 12:19. Dis God se reg om te vergeld, nie ons s’n nie. En les bes herinner Petrus ons daaraan dat dit presies is hoe Jesus self geleef het (1 Pet 2:23).




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 23

En toe Dawid bang voor Saul wegvlug, terwyl Saul en sy manskappe al vir Dawid en sy manne begin omsingel om hulle te vang … (vers 26b)

’n Mens kry in hierdie hoofstuk ’n goeie idee van hoe dit met Dawid as vlugteling gegaan het. Hy moes die hele tyd op sy hoede wees. Verraaiers was oral gretig om hom uit te verkoop, en hy kon nie lank op een plek bly nie. Saul was meedoënloos. So hittete het hy hom in die Maonwoestyn vasgetrek, maar ’n Filistynse aanval elders in die land het Dawid se bas gered.
In só ’n tyd kan ’n mens maklik moedeloos word, soos Elia later toe hy moedeloos onder ’n besembos gaan sit het en gewens het hy was dood (1 Kon 19:3-4). Maar die Here los nie sy kinders nie. Hy stuur vir Jonatan om Dawid te gaan bemoedig (vers 16). En Hy gebruik die inval van die Filistyne om Dawid van ’n gewisse dood te red (vers 27-28).
Dalk wil die Here jou gebruik om iemand te bemoedig?
En as jy angstig is oor jou omstandighede, tel jou kop op. Jy is nie vergete nie. Vlug in jou nood na Hom, soos Dawid (vgl Ps 17:6-9). God sal jou nie los nie.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 22

Terwyl Saul in Gibea op ’n hoogte onder ’n tamarisk gesit het met sy spies in sy hand, en al sy amptenare by hom gestaan het, het hy verneem dat die mense weet waar Dawid en sy manne is. (vers 6)

Saul se jaloesie en agterdog het gemaak dat hy nêrens meer veilig voel nie. Daarom, al is al sy amptenare by hom, het hy ’n spies in sy hand. Die vorige hoofstukke vertel dat hy nie skaam was om dié spies te gebruik nie. Twee maal wou hy Dawid daarmee deurboor (1 Sam 18:11 en 19:10), en een maal selfs sy eie seun (20:33).
Dit dryf hom ook verder. Hy laat al die priesters van Nob én hulle gesinne vermoor (vers 18 en 19). Niks was vir hom heilig nie. Hy het finaal met God gebreek.
Jaloesie wat ongehinderd in ’n mens voortwoed laat jou alle perspektief verloor. Spreuke 27:4 waarsku: “Iemand wat kwaad is, ontsien niks, sy woede is ’n onkeerbare vloed; teen jaloesie is niemand opgewasse nie.” Dis een van die mees destruktiewe emosies. Daarom beveel 1 Pet 2:1 tereg dat ons met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery moet stop. Dit pas eenvoudig nie by ’n gelowige nie.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 21

Dawid het vir die priester Agimelek gesê: “Die koning het my ’n opdrag gegee en gesê: ‘Niemand mag iets weet van die saak waarvoor ek jou stuur en wat ek jou beveel nie.’” (vers 2)

Wat hier gebeur is nie een van Dawid se grootste oomblikkie nie. Goed, hy vlug vir sy lewe en is paniekerig. Maar was die noodleuen geregverdig? Waar is die Dawid wat vol van die Gees die reus Goliat tegemoet geloop het? Wat in Ps 23:4 bely dat hy in gevaar nie bang is nie, want die Here is by Hom?
Dis iets waarmee ons almal sukkel: dat ons oomblikke van swakheid beleef waar ons vertroue in God se sorg ons ontglip. Die spreekwoord sê ’n benoude kat maak benoude spronge, en dit sal ons goed doen om mooi te let op wat met Dawid gebeur het, en veral die gevolge van sy benoude spronge. Dit het uiteindelik die hele priesternedersetting Nob se einde beteken (1 Sam 22:6-19).
Ons lees van ’n ander geleentheid in die Bybel waar Iemand ook benoud was, só benoud dat sy sweet soos bloeddruppels geword het. Hy het egter nie paniekerig geword nie, maar sy krag by sy hemelse Vader gekry (Luk 22:39-46). O, om soos Jesus te wees!




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 20

Waarom sou my pa dan hierdie ding vir my wegsteek? Dit is nie soos jy dink nie. (vers 2)

Die kontras tussen Saul aan die een kant, en Jonatan en Dawid aan die ander kant, word al duideliker. Saul is nie ’n man van sy woord nie. Ten spyte van die eed wat hy gesweer het dat hy nie vir Dawid sal doodmaak nie (1 Sam 19:6), is hy vasbeslote om hom om die lewe te bring. Saul was ongelukkig nie ’n man op wie se woord jy kon vertrou nie (kyk gerus weer na hoofstuk 15).
In skrille kontras hiermee is Dawid en Jonatan – hulle was manne van hulle woord. Jonatan waag sy lewe om Dawid te beskerm, ten koste van sy verhouding met sy pa (vers 30-34). Later sou Dawid op sy beurt sy belofte aan Jonatan gestand doen deur Jonatan se seun onder sy vlerk te neem (2 Sam 9:7).
’n Mens van jou woord. Dís die soort mens wat in God se teenwoordigheid mag kom (Ps 15, veral vers 4). Want daardeur weerspieël ons iets van God se karakter, soos Jes 42:21 dit uitspel: “Die Here het vreugde daaraan om getrou te wees, Hy laat sy woord roem en eer ontvang.”