Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 13

As jy maar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! (vers 13)

’n Mens voel so half jammer vir Saul. Hy was in ’n lelike penarie. Samuel kom nie uit soos hulle afgespreek het nie (maar kyk na vers 10!). Hy kon nie sit en toekyk hoe sy hele leër dros, en niks daaraan doen nie. Toe bring hy self die offer (vers 9).
Saul se groot oortreding was nie dat hy self die offer gebring het nie. Dit was destyds so dat die koning ook soms offers gebring het. Sy oortreding was dat hy as gesalfde van die Here hom nie onder die gesag van die Here se priester (en dus die Here self) gestel het nie. Hy moes ’n voorbeeld vir sy mense gestel het en die Here vertrou het vir uitkoms. Ongelukkig het hy meer aan sy manskappe se vermoëns gedink as aan die Here se almag, soos sy seun Jonatan later (1 Sam 14:6) bely het. Daarom was hy ongeskik vir sy rol as koning (vers 14).
Spr 3:5-6 sê tereg: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 12

Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle aanhou onderrig in die goeie en reguit pad. (vers 23)

Hierdie is veronderstel om Samuel se swanesang te wees. Voortaan sou Saul hulle leier wees. Dit was vir Samuel ’n bitter pil, want hy het die volk se aandrang om ’n koning te hê, as verwerping beleef (1 Sam 8:7-8). Dit het vir hom gevoel hulle trek ’n streep deur sy hele bediening en alles waarvoor hy hom beywer het.
Hy het nie mense aan hom probeer vasbind nie, maar steeds in erkenning en afhanklikheid aan die Here geleef en gewerk. Hy het met eerbaarheid en integriteit leiding gegee, onkreukbaar in ’n tyd toe regters dikwels omgekoop is (vers3).
Dalk was of is jy in ’n soortgelyke situasie, waar dit vir jou voel of alles waarvoor jy staan, by die deur uitgegooi word. Dan is dit natuurlik dat ’n mens verwerp voel. Samuel wys ons dat ’n mens nie in jou teleurstelling dan jou rug op die mense moet draai nie. Dis wat Jesus ons geleer het: draai die ander wang, stap die tweede myl saam (Matt 5:30-40). Dis wat Hy gedoen het, selfs toe hulle Hom gekruisig het.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 11

Maar Saul het gesê: “Op ’n dag soos dié mag niemand doodgemaak word nie, want vandag het die Here uitkoms gegee in Israel.” (vers 13)

Saul het so goed begin. Hy doen alles reg. Hy tree kragdadig op toe dit nodig was, maar ook groots toe mense in hulle oorywerigheid die mense wat Saul se koningskap bevraagteken het, wou doodmaak (vers 12). En hy gee die eer vir die oorwinning aan die Here.
Saul was die man wat Israel as nasie kon saambind, en hy het dit inderdaad reggekry. Selfs ná sy dood het ’n groot deel van Israel aan hom en sy huis lojaal gebly; iets wat selfs Dawid met al sy charisma nooit kon vermag nie.
Goed begin is half gewin, sê die spreekwoord. Ongelukkig is ’n goeie begin alleen nie genoeg nie. Daarom waarsku die Hebreërskrywer (3:14): “Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” Ons lewe in diens van die Here verg daaglikse oorgawe en toewyding aan Hom. So nie gaan die suksesse wat jy in die Here se Naam behaal, reguit kop toe.
Oppas vir Satan se lis. Hy slaan toe wanneer jy dit allermins verwag.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 10

Net toe hy omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God Saul se gesindheid verander. (vers 9)

Die reaksie van die mense wat Saul geken het (vers 11) bevestig dat Saul nie juis ’n geestelike mens was nie (sien by gister se dagstukkie). Maar dit het hom nie gediskwalifiseer vir die groot rol waarvoor God hom gekies het nie. Toe die Gees oor hom kom, het hy ’n ander mens geword.
Paulus praat ook daarvan in Fil 2:13 (2020-vertaling): “Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.” Dit het Augustinus laat bid: “Here, gee wat U vra, en vra dan net wat U wil.”
Ek dink ons staan te maklik terug wanneer die Here op ons nommer druk, soos Moses destyds toe God hom geroep het om die volk uit Egipte te lei (Eks 3:11 en 4:10,13). Ons kan maklik redes (verskonings?) uitdink oor hoekom ons nié die geskikte kandidaat is nie.
Uiteindelik is dit niks anders nie as ongeloof en ’n mosie van wantroue in dié God wat deur sy Gees mense kan verander. Hy kan jou ook verander. Glo dit! Leef dit, en jy sal verwonderd staan oor God se werk in en deur jou.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 9

Die slaaf sê toe vir Saul: “Nee, wag! In hierdie stad is ’n man van God. Dié man geniet hoë aansien. Alles wat hy sê, gebeur net so. Kom ons gaan soontoe. Dalk kan hy vir ons sê waar om te soek.” (vers 6)

Die eerste wat ons van Saul lees, is dat hy uit ’n welgestelde huis kom (vers 1) en boonop aansienlik van voorkoms en gestalte was (vers 2). Verder kom hy uit die stam Benjamin (vers 21), ’n feit wat waarskynlik ’n belangrike oorweging was. Die eerste koning moes nie in ’n posisie wees dat hy sy gesag deur sy stamgenote se groot getalle kon afdwing nie. Verder was hy meer besorg oor sy pa se welstand as oor die donkies (vers 5). Alles dinge in Saul se guns.
Terugskouend oor sy lewe flikker die gevaarligte egter hier in die eerste berig oor Saul se lewe. Dit is duidelik dat sy slaaf baie meer van die profeet Samuel geweet het as hy. Saul het nie geweet hoe hy lyk of waar hy woon nie, of dat hy hulle dalk sou kon help nie. In ’n tyd toe Israel swaar op Samuel se leiding gesteun het, is dit vir my vreemd. Ek mis ’n geloofsdimensie by hom.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 8

die Here het vir hom gesê: “Gee toe aan die versoek van die volk in alles wat hulle van jou vra. Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle. (vers 7)

Samuel het die Here se hart geken, en daarom was hy diep ongelukkig oor die leiers se versoek. Hy skop vas teen dié versoek, en gaan kla daaroor by die Here. Uit die Here se antwoord is dit duidelik dat Hy óók ongelukkig is oor die versoek. Trouens, Hy beleef dit as verwerping.
’n Mens sou verwag dat Hy hulle op hulle plek sou sit. En tog gee Hy toe aan hulle versoek!
Mense kan baie stellig wees oor wat God dink, asof dit in beton gegiet is. Maar die God wat ons aanbid, is nie ’n starre noodlot nie, maar ’n lewende hemelse Vader wat ons liefhet. En soos ’n pa ’n kind soms toelaat om sy eie besluite te neem en selfs foute te maak in die proses, is God ook met ons.
Daarom gee Hy toe aan hulle versoek, al was dit nie sy plan vir hulle nie. En uiteindelik buig Hy hierdie verwikkeling om, sodat daar uit die nageslag van koning Dawid vir ons ’n Verlosser kon kom.