Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 7

Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moenie ophou om die Here ons God vir ons om hulp te smeek nie, sodat Hy ons uit die mag van die Filistyne kan red.” (vers 8)

Hierdie hoofstuk staan in skrille kontras met hoofstuk 4, waar Israel óók teen die Filistyne geveg het. Daar wou hulle God dwing om hulle te help deur die verbondsark te gaan haal, met katastrofiese gevolge.
Dis nou twintig jaar later. Dit wil voorkom asof Israel besef dat hulle op ’n ander wyse te werk sal moet gaan as hulle die stryd teen die Filistyne wil voer (vers 2). Intussen het Samuel ook in statuur gegroei. Onder sy leiding kom daar ’n radikale inkeer. Die volk draai weg van die afgode en keer hulle tot God (vers 4). Hulle besef ook dat voortdurende gebed tot die Here die enigste manier is waarop die oorlog benader moet word (vers 8).
Die uiteinde is dat God self vir hulle geveg het (vers 10 ), soos die gedenksteen hulle herinner het (vers 12). Jare later moes die Here dit by monde van sy profeet Sagaria (4:6) weer sê: Ons sal nie wen deur mag of krag nie, maar deur sy Gees.
Dis vandag vir ons ook waar.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 6

Maar die Here het die inwoners van Bet-Semes getref omdat hulle die ark bekyk het. (vers 19)

Die omswerwinge van die ark kry aan die einde nóg ’n kinkel toe 70 inwoners van Bet-Semes sterf omdat hulle oneerbiedig met die ark omgegaan het. Bet-Semes was ’n Levitiese stad (Jos 21:16), en as Leviete behoort hulle tog te geweet het hoe om die ark as heilige voorwerp te hanteer. Moses het immers uitdruklike voorskrifte daaroor gegee (Eks 25:10-15; Num 4:15).
Sou hulle dalk te gewoond geraak het aan die heilige voorwerpe van die tent van ontmoeting? En daarom hulle ontsag vir die heilige voorwerpe verloor het? Ons sal nooit weet nie, maar hierdie hartverskeurende voorval behoort ons minstens sensitief te maak oor God en sy heiligheid. Mense praat so maklik van “die Man daarbo” en “my Jesus” asof hulle en die heilige God beste pêlle is. Mense praat oor die kerk asof dit húlle instelling is waarmee hulle kan maak soos hulle wil. Mense misbruik die Bybel om hulle eie (onheilige) standpunte te staaf.
Nee. Spreuke 9:10 (2020-vertaling) sê: “Die begin van wysheid is ontsag vir die Here, en kennis van die Heilige is insig.”




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 5

Toe die Asdodiete die volgende môre opstaan, het Dagon vooroorgeval op die grond gelê, voor die ark van die Here. (vers 3)

Die vorige hoofstuk het afgesluit met ’n wanhoopskreet. Die eer van God is weggevat uit Israel (1 Sam 4:21-22). As die ark weg is, is God weg. Sonder die ark is daar vir hulle geen hoop nie.
Hoofstuk 5 staan in skrille kontras met die wanhoop van Pinehas se weduwee. Die situasie is nie hopeloos nie, want God kan vir Homself sorg. En hoe uitstekend het Hy dit nie gedoen nie! Eers lê die Filistynse afgod Dagon aanbiddend voor die ark, en toe breek daar pes uit oral waar die leiers die ark heen stuur. Die ark is nie ’n trofee wat hulle gebuit het nie, en daarom tree God self nou tot die stryd toe (vers 6,9 en 12).
Ons kan dit gerus onthou as ons wil wanhoop omdat mense met God die spot dryf. Ek onthou die wyse woorde van my mentor destyds, toe Sataniste allerhande Sataniese tekens teen die muur van die Tweetoringkerk geverf het: “Dit skok my vroom gemoed dat mense dit kan doen, maar dit skend nie God se eer nie. Hy lag hulle uit.”
Inderdaad. Lees hieroor gerus Psalm 2, veral vers 4.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 4

Die manskappe het na Silo toe gestuur, en die verbondsark van die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon, van Silo af laat bring. (vers 4)

Hierdie gebeure is sekerlik ’n laagtepunt in Israel se bestaan. Dit illustreer die feit dat hulle net soos die Filistyne redeneer. Hulle dink hulle kan God dwing om te maak wat hulle wil hê, en ronddra na waar hulle Hom nodig het. Die Filistyne het dit ook so verstaan (vers7).
Israel moes van beter geweet het. Die verbondsark van God is nie soos ’n heidense afgodsbeeld nie. Die soewereine God laat Hom nie ronddra en indruk waar mense Hom neem nie; Hy laat Hom nie manipuleer nie.
Dit het die Israeliete nie verstaan nie. Iewers langs die pad het hulle vergeet dat die verbond met God, waarvan die ark ’n simbool was, nie net seëninge bring nie, maar ook verpligtinge. En soos Moses destyds die kliptafels van die verbond stukkend gegooi het omdat Israel die ooreenkoms verbreek het (Eks 32:19), laat God nou toe dat die verbondsark gebuit word. Daar is geen verbond moontlik as mense ontrou aan God is nie.
God is nie in ons diens nie. Ons is in sý diens.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 3

Die Here het toe weer in Silo verskyn, want Hy het Hom in Silo aan Samuel geopenbaar deur die woord van die Here. (vers 21)

Die hoofstuk begin met die mededeling dat die woord van die Here in daardie tyd min gehoor is, en dit eindig met die aankondiging dat die Here toe weer in Silo verskyn het. Een persoon, Samuel, het gemaak dat die woord van die Here weer gehoor is.
Dalk was jy ook al in ’n situasie waar dit vir jou gevoel het jy is die enigste gelowige. Dit kan jou werksomgewing wees wat uiters apaties of selfs vyandig teenoor die Christelike geloof staan. Dit kan die koshuis wees waarin jy tuisgaan. Dit kan die land wees waarin jy woon. In só ’n situasie kan ’n mens maklik dink jy is stoksielalleen as gelowige, en dit sal tog nie help om te probeer getuig vir Christus nie.
Die waarheid is dat God met net een gelowige groot dinge kan vermag, soos Hy met Samuel gedoen het. Jou bietjie is vir Hom genoeg, soos die seuntjie se twee vissies en vyf brode vir Jesus genoeg was (Joh 6:9). Want die resultaat hang nie van jou af nie. Dis die evangelie.




Hoofstuk van die dag: 1 Samuel 2

Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor. (vers 17)

Hofni en Pinehas is klassieke voorbeelde van mense wat só gewoond geword het aan God dat hulle afgestomp geraak het. Hulle het nie meer in verwondering geleef voor God nie, selfs ook nie toe hulle pa hulle (alhoewel baie floutjies) daaroor aangepraat het (vers 24).
Hulle het geen erg gehad aan die heiligheid van God nie, en dit daarom ook nie nodig gevind het om respek te hê vir die offeraltaar nie, of vir die mense wat God kom aanbid nie. Dit was maar net ’n werk met byvoordele. Hulle het hulle posisie misbruik en die offers in die proses ontheilig. Hulle het die vroulike personeel by die heiligdom misbruik. Dit ten spyte van God se herhaalde opdrag: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.” Kyk gerus na Lev 10:3; 11:44,45; 19:2; 20:7; 21:8.
Dis vandag nog steeds ’n gevaar vir gelowiges: dat ons afgestomp word. Dan raak jy nie meer opgewonde en in verwondering oor God se oneindige genade en goedheid nie. Dan verwaarloos jy jou stiltetyd.
Of hoe dink jý oor God?