Hoofstuk van die dag: 1 Tessalonisense 5
Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. (1 Thes 5:16-18)
Paulus sluit sy brief af met drie kort opdragte, en drie vermanings: Wees bly. Bid gedurig. Wees dankbaar. En moenie die Gees teenstaan nie en die Bybel geringskat nie, en bly weg van die slegte (vers 16-22). Dis as ’t ware die resep vir jou geloofslewe – doen dit, en jy sal lewe, soos die Here ons verseker in Lev 18:5 en Luk 10:27-28.
Dan voeg Paulus by dat God vir die res sal sorg: vrede, toewyding, bewaring (vers 23). Dit klink amper te goed om waar te wees dat hierdie wonderlike beloftes in ons onstuimige tye so kan wees. Ons sukkel mos met die sorge van die lewe en kommer oor aardverwarming en korrupsie en geweld en misdaad en … Dis asof Paulus hoor hoe ons dit dink en innerlik sug. Daarom voeg hy in vers 24 by: “Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.”
Elders (Fil 4:4-9) skryf hy ook oor die vrede wat God gee. Dalk, as jy met onrus in jou hart sit, moet jy weer ’n slag met mening fokus op wat Paulus vir die Tessalonisense skryf.
Naskrif: Hierdie stukkie het ongelukkig nie gestuur soos dit moes nie. Askies!
