Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 13

… wanneer ek kom, wil ek nie met die gesag wat die Here aan my gegee het, streng teen julle optree nie. Met dié gesag moet ek opbou, nie afbreek nie. (2 Kor 13:10)

Paulus skryf in 11:2 dat dit sy taak is om te sorg dat die gemeente as bruid vlekkeloos sal wees vir haar Bruidegom. Hiermee eggo hy die woorde van Johannes die Doper (Joh 3:29). Dit gaan nooit in die kerk om die leiers nie. Hulle het wel bepaalde gesag van God ontvang, maar nie om hulleself te dien of om soos slawedrywers of diktators oor die gemeente te heers nie. Hulle het gesag van God ontvang om die gemeente te dien en op te bou (vers 10b).
Paulus was deurgaans versigtig om nie sy Godgegewe posisie vir eie gewin te misbruik nie. Dit het vir hom deurgaans daaroor gegaan dat die gemeente Christus Koning moet maak in hulle lewens. Hy het sy gesag gebruik om die gemeente agter Christus aan te lei, weg van dwaalleraars en ander verleidings.
Ons kan dit vandag nog as maatstaf aanwend as ons ’n predikant of pastoor beoordeel. Dis eintlik eenvoudig: oor wie gaan dit in hulle lewe, woorde en dade? Waar laat hulle die lig val? Op hulleself, of Christus?

Naskrif:
Ons lees van môre af weer die briewe aan die Tessalonisense.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 12

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. (2 Kor 12:7)

Die doring in Paulus se vlees is een van die mees besproke en gedebatteerde temas in die Nuwe Testament.
Daar is baie teorieë oor wat hierdie doring in sy vlees kon wees. Sommige geleerdes stel voor dat dit ’n fisieke siekte of kwaal was, soos swak sig, epilepsie, migraine of chroniese pyn. Ander dink dit kon ’n geestelike of emosionele kwessie wees, soos depressie, vervolging of aanhoudende teenstand van vyande (Jode).
Ons weet ongelukkig nie wat die presiese aard van die doring was nie. Wat ons egter hieruit kan leer, is dat Paulus, ten spyte van sy lyding, ontdek het dat God se krag juis in sy swakheid tot volle werking kom, en dat God se genade altyd genoeg is.
Baie van ons sukkel met een of ander chroniese toestand waarvan ons nie ontslae kan raak nie. Dit kan jou moeg en moedeloos maak, maar dit hoef nie! Kyk met nuwe oë na jou situasie en na die dinge wat jou konstant pla. Dalk is dit ’n manier waardeur God jou kan toerus en gebruik?




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 11

Julle verdra dit as iemand julle soos slawe behandel, as iemand julle uitbuit, as iemand julle bedrieg, as iemand julle uit die hoogte behandel, as iemand julle in die gesig klap. (2 Kor 11:20)

Wat Paulus ontstel het, is dat die sg. apostels die gemeente uitgebuit het om geldelik voordeel te trek. En die ergste was dat hulle gesê het Paulus is nie die naam apostel werd nie, want hy het nie geld vir sy dienste gevra nie. En – die lidmate het die sg. apostels daarmee laat wegkom. Hulle het gedink die manne verdien elke sent wat hulle vra, want hulle is manne van God.
Dieselfde gebeur vandag nog. Mense maak geld uit die evangelie. Hulle buit liggelowige aanhangers uit vir eie gewin. Hulle leef in groot weelde en dink niks daarvan om van hulle volgelinge meer en groter bydraes te eis nie. Dink maar aan die televangeliste wat skatryk word uit hulle aanhangers se bydraes.
Die Franse filosoof Voltaire het gesê mense sal enige iets glo, solank dit in ’n godsdienstige baadjie verpak word. Inderdaad. Pasop vir predikante en pastore wat in weelde leef uit die offers van goedgelowige volgelinge. Geestelike leiers word nie geroep om ryk te word nie, maar om te dien (vgl vers 2).




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 10

Julle kyk net na een kant van die saak. As iemand dan so vas oortuig is dat hy aan Christus behoort, moet hy onthou: ons behoort net soos hy ook aan Christus. (2 Kor 10:7)

Menige meningsverskil het al ontstaan omdat mense ’n saak beskou en beredeneer slegs vanuit hulle eie perspektief, en nie wil of kan insien dat die een met wie hy of sy verskil, ook ’n geldige standpunt het nie. Ek moet erken dat dit een van die moeilikste goed is wat ek moes leer, naamlik dat ek nie alleen reg is nie, of dat mý manier van doen nie die enigste geldige, of noodwendig die beste, aanpak van ’n saak is nie.
Dit was presies Paulus se probleem met die “apostels” wat ná hom in Korinte kom arbei het. Hulle, en agter hulle aan die gemeente, het eenogig na apostelskap gekyk, en gedink dié “nuwe” apostels se manier van doen was die enigste manier wat reg is. In die proses het hulle Paulus die rug toegekeer. Daarom herinner Paulus hulle daaraan dat hy ook ’n gelowige is, en meer nog, deur Christus afgesonder is om in sy diens te staan (vers 8).
Jy het nie al die wysheid in pag nie. Daarom is beskeidenheid ’n deug.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 9

Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. (2 Kor 9:7)

’n Diaken vertel dat hy op sy besoeke om dankoffers in te samel, by ’n lidmaat gekom het wat glad nie lus was vir hom nie. Hy het sy bydrae sommer so oor die tafel na die diaken geskiet met die woorde: “Dé, vat jou geld en maak dat jy wegkom!” Die diaken was natuurlik onthuts. Hy vertel dat hy die geld net so vir die lidmaat teruggeskiet het, en gesê het: “As dít jou dankoffer aan die Here is vir wat Hy elke dag vir jou doen, wil ek dit nie hê nie.” Hy het net daar omgedraai en die huis verlaat. Toe hy ná sy besoeke laat die aand by sy huis aankom, staan die lidmaat hom en inwag met trane in sy oë, ’n ordentlike dankoffer in die hand. Hy het nooit besef dat sy maandelikse bydrae sy dankbaarheid teenoor die Here weerspieël nie, het hy bely.
Jou maandelikse bydrae vir die werksaamhede van die kerk behoort nie onnadenkend of afknyp te wees nie. Dis immers vir God, nie vir die kerk nie, wat jy daarmee dankie sê.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 8

Op hierdie manier voorkom ons dat enigiemand ons dalk sou verdink in verband met so ’n groot som geld wat ons moet wegbring. (2 Kor 8:20)

Paulus was nie net ’n groot apostel nie. Hy het ook prakties gedink oor die lewe en oor hoe ander sy optrede sou beoordeel. Daarom vat hy verteenwoordigers uit die gemeentes met hom saam wanneer hy na Jerusalem reis om die geld wat hy ingesamel het, te gaan oorhandig. Hy het besef dat kwaadwillige mense hom maklik sou kon beskuldig dat hy van die geld vir homself gevat het.
Ons is dikwels geïrriteerd oor al die maatreëls wat getref word wanneer dit by geld kom. In die kerk word die kollekte byvoorbeeld eers deur die diakens getel en aangeteken voordat die skriba dit ontvang. Die skriba teken dan weer die bedrag aan wat inbetaal is, en dié bedrae word noukeurig deur ’n rekenmeester gekontroleer. Dit voel na onnodige werk, maar dis die korrekte manier (vers 21).
Geldgierigheid het ongelukkig al meermale mense van onbesproke karakter gepootjie. Daarom waarsku Paulus in Rom 13:14 dat ons nie voorsorg vir die vlees mag maak om sy begeerlikhede te bevredig nie (OAV).
Onkreukbaar en bo alle verdenking. Dís hoe ons moet leef.