Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 7
Al het ek julle ook deur my brief hartseer gemaak, is ek nou nie daaroor jammer nie. (2 Kor 7:8)
In 2 Kor 2:4 verwys Paulus ook na hierdie brief wat hy “met groot bekommernis en beklemming van hart, en onder baie trane,” aan die Korintiërs geskryf het. Die brief het ongelukkig nie vir ons behoue gebly nie. Dit het gevolg op ’n tweede besoek wat Paulus aan die gemeente gemaak het, nadat hy slegte gerugte oor die gemeente gehoor het. Dit was ’n pynlike en ongemaklike besoek om die gemeente tot besinning te bring. Dié besoek het glad nie goed verloop nie; trouens, Paulus is onverrigter sake uit Korinte weg.
Ons weet nie presies wat in die brief gestaan het nie, behalwe dat dit Paulus se ontsteltenis en pyn oor die probleme in die gemeente uitgedruk het. Dit lyk ook asof hy in die brief baie kwaai met hulle was, soos ’n pa met ’n stout kind. Hierdie “tranebrief” het blykbaar die gemeente tot hulle sinne geruk.
Een van die probleme in vandag se samelewing en in die kerk is dat niemand die moed het om hard en reguit te praat nie. Sagte woorde is ongelukkig nie altyd die regte aanslag nie.
