Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 7

Al het ek julle ook deur my brief hartseer gemaak, is ek nou nie daaroor jammer nie. (2 Kor 7:8)

In 2 Kor 2:4 verwys Paulus ook na hierdie brief wat hy “met groot bekommernis en beklemming van hart, en onder baie trane,” aan die Korintiërs geskryf het. Die brief het ongelukkig nie vir ons behoue gebly nie. Dit het gevolg op ’n tweede besoek wat Paulus aan die gemeente gemaak het, nadat hy slegte gerugte oor die gemeente gehoor het. Dit was ’n pynlike en ongemaklike besoek om die gemeente tot besinning te bring. Dié besoek het glad nie goed verloop nie; trouens, Paulus is onverrigter sake uit Korinte weg.
Ons weet nie presies wat in die brief gestaan het nie, behalwe dat dit Paulus se ontsteltenis en pyn oor die probleme in die gemeente uitgedruk het. Dit lyk ook asof hy in die brief baie kwaai met hulle was, soos ’n pa met ’n stout kind. Hierdie “tranebrief” het blykbaar die gemeente tot hulle sinne geruk.
Een van die probleme in vandag se samelewing en in die kerk is dat niemand die moed het om hard en reguit te praat nie. Sagte woorde is ongelukkig nie altyd die regte aanslag nie.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 6

… in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. (2 Kor 6:4)

Vir baie mense vandag is spanning, konflik en lyding deel van hulle bestaan. En dan is daar mense wat sê dat hierdie sal verdwyn as jy opreg in Christus glo; dat Hy ons kan verlos van ons probleme; dat Hy aan ons voorspoed, gesondheid en ’n lewe van oorvloed wil skenk, soos Jesus in Joh 10:10 belowe het..
Dit klink so wonderlik! Kyk jy egter na die eerste gelowiges, was dit allesbehalwe hulle ervaring, soos Paulus dit in vers 4 en 5 uitspel. Tog, sê hy, het hierdie swaarkry vir hom dinge gebring wat geld nie kan koop nie (vers 6-10). Om die waarheid te sê, al het hy niks, besit hy alles (vers 10). Jakobus skryf dat ons baie bly moet wees as allerhande beproewings oor ons kom, want juis deur die beproewings groei ons geloof (Jak 1:2-4).
Jesus se lewe van oorvloed lyk baie anders as dit waaroor ons droom. Dit vra dat jy jouself verloën, jou kruis opneem en Hom volg (Matt 16:24). In Jesus se wêreld is dit immers die treurendes, die vervolgdes, die beledigdes wat geseënd is (Matt 5:3-12).




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 5

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. (2 Kor 5:17 AFR2020)

Die hartseer van die lewe is dat ’n mens ontgogel word, en niks nuuts jou meer opgewonde maak nie. Jy het dit al beleef, soos die Engelsman sal sê: Been there, done that. Of, as ’n mens nou meer Bybels wil klink, kan jy saam met die Prediker sê: Daar is niks nuuts onder die son nie.
Miskien het jy al te veel kere in die lewe teleurstellings beleef. Jy droom nie meer oor die lewe of die toekoms nie. Jy leef nie meer met hoop nie. As jy só voel, is hierdie Bybelgedeelte spesiaal vir jou bedoel. Want jy hoef nie so moedeloos oor die lewe te wees nie. Goed, mense kan jou teleurstel. Maar dis nie waar jy hoop moet soek nie. Soek dit in God. Hy laat Hom nie keer deur teleurstellings en hopeloosheid nie.
Paulus het alles van hierdie nuwe toekoms geweet wat God vir ’n mens kan bewerk. Hy, wat eers ’n vervolger van die kerk was, word die grootste sendeling, want God het hom verander en nuut gemaak. Hy skryf daarvan in vers 17.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 4

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. (2 Kor 4:16)

In my werk as predikant het ek oor jare baie ouer lidmate leer ken. Daar was natuurlik die knorriges onder hulle wat oor alles gekla het. Ander, egter (en ek dink dit was die meeste van hulle) was liewe, dierbare gelowiges, by wie ek dikwels meer gekry het as wat ek vir hulle gegee het: mense wat verlig is met die kennis van die heerlikheid van God (vers 6).
Dis waarvan Paulus hier getuig. Na die liggaam word hy ouer en afgetakel, maar innerlik is hy jonk (vers 16). Hy het alle rede gehad om moedeloos te word; lees gerus 11:26-28. Dit was die Here se woorde aan Ananias toe Hy hom na Paulus gestuur het, pas ná sy ontmoeting op die Damaskuspad (Hand 9:16): “Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” En tog is Paulus nie moedeloos nie (vers 1 en 16). Hy het geleer om hom nie blind te staar teen die aardse stryd nie (vers 18), maar God en sy genade in sy lewe raak te sien.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 3

Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. (2 Kor 3:2)

Paulus is hier besig om sy apostelskap te verdedig teenoor hulle wat ná hom in die stad aangekom het met aanbevelingsbriewe uit hulle vorige werkkring (vers 1). Teen dié flambojante “apostels” wat met groot vertoon die mense op hol gehad het en dit vir geld gedoen het (2:17), het Paulus se aanspraak maar sleg afgesteek (in 11:20 e.v. kom hy weer na hierdie kwansuise apostels terug). Die stelling wat hy maak, is dat sy gesag nie in getuigskrifte van ander mense lê nie, maar in die vrug op sy arbeid. Die gelowiges in Korinte is die bewys van sy gesag as apostel – die Gees werk immers in hulle harte. Hy haas hom om by te voeg dat dit nie sy eie prestasie is nie. Die vrug op sy werk onder hulle is aan God te danke (vers 5-6).
Paulus het nie in die slaggat getrap waarin ’n mens maklik kan val as jy oor jou eie prestasies praat nie. Hy het nederig gebly, erkentlik teenoor God, in wie se diens hy gestaan het.
Beskeie, en in diep afhanklikheid van God; dís hoe ons moet leef.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 2

Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. (2 Kor 2:15)

As Paulus praat van die triomftog van Christus waaraan ons deel het (vers 14), kan ’n mens maklik die idee kry dat dit ’n glorieryke saak is. Die beeld wat hy gebruik, is immers dié van ’n generaal se triomftog ná ’n suksesvolle veldslag. Daar is gelowiges wat triomfantelisties lewe, asof die oorwinning húlle prestasie is. In vers 15 lees ons egter dat Paulus sê ons is die wierook wat gebrand word; ’n offer, dus. Deur ons offerdiens in Christus versprei die aangename geur van sy oorwinning in die wêreld. Nie iets glorieryk nie; dit gaan om diens.
Die vraag is: Versprei jy die geur van Jesus se liefde, omdat mense in jou liefdevolle en bedagsame optrede iets van God se liefde ervaar? Versprei jy die geur van die grootheid van God se genade, omdat mense jou leer ken as iemand wat self genadig, ruimhartig en vergewensgesind is? Versprei jy die geur van die opstandingskrag van Christus, omdat mense in jou lewe kan sien dat God se Gees ’n mens regtig kan verander, en anders kan laat leef?
Dít is die uitdaging.