Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 9

Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees. (vers 11)

Die kerkvader Augustinus het gebid: “Here, gee wat U vra, en vra dan net wat U wil.” Dis natuurlik waar op alle terreine van ons geestelike lewe – geduld, liefde, omgee … Dis ook waar van ons geldsake. God verwag nie van ons om offers te bring wat ons nie het nie, soos Paulus in 2 Kor 8:13 geskryf het. Nou sê hy: God gee vir ons genoeg sodat ons kan gee wat ons behoort te gee.
Dankoffers is niks anders nie as ’n daad van geloof. Ek gee aan God wat Hom toekom in die geloof dat Hy in sy oorvloed aan my sal voorsien wat ek nodig het, en sodat ek met ’n oop hand kan leef. Daarom herinner hy ons ook daaraan dat iemand wat karig saai, min sal oes, en iemand wat volop saai, volop oes (vers 6). God se ekonomie werk anders as wat ons verwag. Hoe meer jy uitdeel, hoe meer ontvang jy van Hom.
Die vraag wat ek en jy moet beantwoord, is dit: Vertrou jy God genoeg? Vertrou jy Hom om vir jou te sorg na die mate wat jy sy gawes aan ander uitdeel?




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 8

Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, dat julle deur sy armoede ryk kan word. (vers 9)

Paulus se benadering tot die gee van dankoffers kan ons almal help om nuut oor dié saak te dink. Hy neem ons na die Here Jesus en wat dit Hom gekos het dat ons geestelik ryk kan word. Dit het sy alles gekos. Dít is waaraan ons moet dink wanneer ons ons offers bring. Daarom hou hy die gemeentes in Masedonië aan die Korintiërs voor. Hulle dankoffers het hom verstom, en dit het gebeur omdat hulle die saak reg benader het. “Eers het hulle hulleself aan die Here gegee,” skryf hy in vers 5.
Paulus gee nie ’n opdrag aan die gemeente nie, maar hy glo tog dat ander se voorbeeld hulle sal inspireer om uit vrye wil te gee. Hulle het immers alles in oorvloed ontvang (vers 7). God verwag egter nie van jou om jouself te breek om ’n offer te kan gee nie (vers 13). God verwag tog nie van iemand iets wat hy nie het nie (vers 12). Jou dankoffer is uiteindelik ’n toets van jou liefde vir God (vers 8).




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 7

Maak vir ons plek in julle harte. Ons het niemand onreg aangedoen nie, ons het niemand benadeel nie, ons het niemand uitgebuit nie. (vers 2)

Dié hoofstuk is tegelyk hartverskeurend en hoopvol. Ons sien hier hoe ’n gebroke verhouding mense affekteer. Paulus was siek van bekommernis en ontsteltenis omdat die verhouding tussen hom en die gemeente seergekry het. Hy het geen rus of duurte gehad nie (vers 5). Eers toe Titus uiteindelik van Korinte af terugkeer met goeie nuus, het sy neerslagtigheid gelig.
Paulus se onvermoeide ywer om die gebroke verhouding te herstel, staan vir my uit. Hy het nie net sy skouers opgetrek en sy rug op hulle gedraai nie. ’n Mens hoor deesdae dikwels mense sê jy moet die mense wat jou ontstel of sleg behandel, eenvoudig uitskud, want jy het nie dit in jou lewe nodig nie. Vir Paulus was dit nie ’n opsie nie, want dit het nie vir hom net om homself en sy eie geluk gegaan nie, maar veral oor die Korintiërs en húlle heil, wat deur hulle optrede teenoor hom gewys het dat hulle op ’n verkeerde pad is.
Dalk is daardie persoon wat jou so irriteer, juis in jou lewe omdat God deur jou ’n pad met hom of haar wil loop.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 6

Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. (vers 12)

Wat met Paulus gebeur het, is ongelukkig nie ’n geïsoleerde geval nie. Talle predikante het sedertdien dieselfde ervaring van verwerping deur hulle gemeente. Ek hoor anderdag ’n dominee sê die gemeente waar hy nou is, het die drie predikante voor hom weggewerk, maar hulle gaan hom nie ook daar wegkry nie. So asof daar oorlog tussen die gemeente en hulle leraar is.
Dit was wat met Paulus gebeur het. Ondanks sy beste pogings, het hy en sy medewerkers dikwels tweede gekom aan die hand van die einste mense vir wie hulle hulle afsloof (verse 3-10). Hy maak nie daarop aanspraak om foutloos te wees nie, maar wel dat hy swak behandel is omdat die gemeente hulle harte vir hom gesluit het.
Wat ’n tragiese toestand! Hoe verskriklik dat dit in die kerk van die Here Jesus kon gebeur en nog steeds gebeur! In Korinte was dit die gevolg van ’n skinderveldtog teen Paulus. Dit is hoe dit meestal gebeur, vandag ook. Wanneer mense die oog van Jesus afhaal en hulle eie belange begin najaag, verdwyn die hartlikheid en goeie gesindheid onderling baie vinnig.
Bid tog vir jou dominee en jou gemeente!




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 5

Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (vers 20)

Versoening kan nie plaasvind as dit wat verkeerd geloop het, nie eers uit die weg geruim is nie. As jy te na gekom is, gaan dit sukkel as die een wat jou skade berokken het, maak asof dit niks is nie. Dis ook waar van ons verhouding met God. Ons sonde krenk Hom diep, en ons kan dit nie net ignoreer nie.
Die goeie nuus is dat God self van sy kant af hierdie sondeskuld wat tussen ons en Hom ingekom het, weggeneem het. God het die wêreld met Homself versoen (vers 19). Dit is wat die Here Jesus kom doen het. Hy het kom regmaak wat ons nie kan nie. Hy het die afgrond tussen ons en God kom oorbrug. Daarom het Hy aan die kruis gehang: Vir ons, vir ons sondeskuld by God. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (vers 21).
Ons moet dit net aanvaar. Dis natuurlik waar die knoop lê, want dit vra van my om te erken dat ek misluk het.




Hoofstuk van die dag: 2 Korintiërs 4

Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. (vers 7)

Dié stelling van Paulus bevat ’n baie belangrike perspektief oor ons lewe as gelowiges. Dit gaan nie oor ons nie. Óns is nie die belangrikste nie – dit gaan oor die skat binne ons, naamlik dat ons die Here Jesus Christus ken en sy heerlikheid uitstraal.
As breekbare kleipotte het ons te kampe met baie aanslae (vers 9-11). Navolgers van Christus is immers, soos Hy, aan vervolging en lyding onderworpe. Die lyding ter wille van Christus laat Hom al helderder in ons skyn (vers 11). Dis deel van die proses waarin ons saam met Christus sterwe. Al breek en verkrummel die kleipot ook, die skat in al sy heerlikheid en krag bly ongeskonde.
Ek en jy kan alleen volhard en nie moedeloos word nie as ons ten volle leef uit die krag van God. Te midde van al die aanvegtinge wat ons as gelowiges verduur, kan ons seker wees dat God ons nie verlaat nie (vers 9). Daarom word ons nie moedeloos nie, want deur die werk van die Gees word ons innerlik dag tot dag vernuwe (vers 16).