Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 18

Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun …” (vers 33)

’n Mens kan Dawid se smart goed begryp. Geen ouer behoort ’n tyding te kry soos Dawid hier nie.
Ek dink Dawid se ontroosbaarheid is vererger deur ’n diepe skuldgevoel. Hy het sy gesin in die steek gelaat deur sy vergryp met Batseba, en daarná deur die halfhartige manier waarop hy sy seuns getug het.
Uiteindelik het Dawid se swak ouerskap nie net sy gesin uitmekaar geskeur nie, maar ook sy koninkryk. ’n Gesonde gesinslewe is die basis vir ’n gesonde beroepslewe. Jy moenie verwag dat jy ’n sukses van jou beroep sal maak as jy nie jou huis goed hanteer nie. Daarom gee Paulus dit as ’n voorskrif aan Timoteus deur by die kies van ouderlinge: hulle moet mense wees wat hulle eie huis goed regeer en op waardige wyse gesag oor hul kinders kan uitoefen (1 Tim 3:4).
Ons maak almal foute met die opvoeding van ons kinders. Dit is onvermydelik. As Pa en Ma egter in liefde met mekaar en hulle kinders leef, sal hulle nie Dawid se bitter pad loop nie.




Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 17

Toe Agitofel sien sy raad word nie gevolg nie, het hy sy donkie opgesaal en na sy huis toe in sy tuisdorp gery. Daar het hy sy sake gereël en homself opgehang en gesterf. Hy is in die familiegraf begrawe. (vers 23)

Wat moet ons van Agitofel se selfdood sê? Ons lees net van enkele gevalle van selfdood in die Bybel: Abimelek (Rig 9:54), Saul (1 Sam 31:4), Agitofel (2 Sam 17:23), Simri (1 Kon 16:18) en Judas Iskariot (Matt 27:5). Nie een van dié karakters se lewens is navolgenswaardig nie. Dan is daar natuurlik ook Simson (Rig 16:29-30).
Ek kan nie in dié kort stukkie ’n uitgebreide antwoord oor die kwessie van selfdood gee nie. Ek wil net enkele opmerkings maak oor hoe ons vanuit Bybelse perspektiewe hieroor moet dink:
1. Die lewe is ’n gawe van God wat ons moet koester. God alleen beskik oor lewe (Ps 31:16).
2. Ons is na die beeld van God geskape, en daarom het menslike lewe hoë waarde (Eks 20:13).
3. Selfdood verbreek nie die verhouding met God nie. Ons verhouding met God berus immers nie op verdienste nie, maar op genade (Rom 3:28).
Selfdood is sonde. Tog is die lewe eenvoudig te kompleks om maklike antwoorde oor die kwessie te gee.




Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 16

Agitofel se raad was: “Gaan slaap by u vader se byvrouens wat hy hier laat bly het om die paleis op te pas. Dan sal die hele Israel besef dat u teen u vader in opstand gekom het en dit sal al u volgelinge se hande sterk.” (vers 21)

Dawid se ellende hou nie op nie. Hy het nooit die familie van Saul te na gekom nie, en tog vloek Simeï hom. Dawid laat egter nie toe dat Abisai Simeï se kop afkap nie (vers 9-10). Ons sien hierin iets van Dawid se grootheid. Hy hou nie op om goed te doen aan ander nie, selfs al benadeel hulle hom. Hy het geglo hy kry sy verdiende loon. Hierin was hy verkeerd. Hy het nie hierdie beledigings verdien nie. Die staatsgreep het sy selfbeeld en -oordeel ’n lelike knou gegee.
Agitofel was ’n baie wyse raadgewer (vers 23). Maar dit lyk of sy raad nie net gegaan het oor Absalom se saak nie. Daar is venyn in sy woorde, asof hy Dawid so seer moontlik wou maak. Waarskynlik was dit omdat hy Batseba se oupa was, en hy Dawid nooit vergewe het vir die leed wat Dawid sy kleindogter aangedoen het nie.
Sonde tref baie verder as wat ons besef.




Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 15

Toe het die koning vir Sadok beveel: “Vat die ark van God terug stad toe. As die Here my dit vergun en my terugbring, sal Hy my die ark en sy heiligdom weer laat sien. (vers 25)

Absalom se opstand het ’n lang aanloop gehad. Dit is vreemd dat Dawid in vier jaar nie snuf in die neus gekry het nie. Dawid was egter nie dom nie, en ons sien hier dat hy ’n uitgeslape strateeg was:

  • Hy vlug om te voorkom dat die stad en haar inwoners ’n beleg en oorlog trotseer.
  • Hy laat ook nie die ark saamkom nie. Dit was moontlik omdat hy besef het dat die ark nie ’n oorwinning sou waarborg nie (1 Sam 4), maar ook omdat hy geweet het dat sy sonde met Batseba hom ingehaal het. Hy vertrou egter op God se genade. Aan die ander kant bied die ark ’n waterdigte alibi vir Sadok en Abjatar om in die stad te wees, al was hulle Dawid se bondgenote. Hulle was ’n noodsaaklike deel van sy inligtingsnetwerk (vers 35).
  • Hy stuur sy vertroueling Gusai terug, sodat hy Agitofel se raad kan verydel.

Dawid se omgee-hart is in alles duidelik. Selfs in sy krisis dink hy aan ander.




Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 14

Maar die koning het beveel: “Laat hom na sy eie huis toe gaan. Vir my mag hy nie sien nie.” (vers 24)

Joab beraam ’n slim plan om Dawid te oortuig om Absalom na Jerusalem te laat terugkom. Dalk was Joab oor Absalom bekommerd, maar dalk het daar ’n ander motief agter sy optrede geskuil. Absalom was immers nou die oudste seun van Dawid en dus die waarskynlike troonopvolger. Deur vir Absalom te bemiddel, het hy dalk gehoop om in Absalom se goeie boekies te wees as dié eendag sy pa opvolg. Of dalk het hy ’n edel motief gehad?
Dawid hanteer Absalom se terugkeer nie goed nie. Hy het sy seun nog nie vergewe nie en weier steeds om hom te sien, en maak só versoening tussen hulle onmoontlik. As hy anders opgetree het, kon hy baie ellende gespaar gewees het. Hy doen egter niks en hoop waarskynlik dat die probleem mettertyd vanself sal verdwyn.
Dis vreemd dat Dawid, wat gewoonlik ’n man van daad was, hier so wyfelend optree, net soos teenoor sy seun Amnon toe dié sy suster Tamar verkrag het. Jy kan nie jou verantwoordelikheid as pa só ignoreer nie. Altans nie as jy lief is vir jou kinders nie.




Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 13

Koning Dawid het van alles gehoor en hy was woedend. (vers 21)

Dawid se reaksie is verstaanbaar, maar ook ongelooflik. Ons lees nêrens dat hy teen Amnon opgetree het of selfs berispe het nie. Amnon was sy eersteling, en Dawid het dalk ’n ekstra sagte plekkie vir hom gehad, maar hy kon Tamar se verkragting tog nie net so gelaat het nie. Dawid was dalk ’n goeie koning, maar as pa misluk hy tragies. Dit laat ’n mens dink aan die priester Eli se reaksie op sý seuns se skandes (1 Sam 2:22-25).
Dié gebeurtenis het ’n kettingreaksie veroorsaak. Absalom neem die reg in eie hande en vermoor sy broer. Toe vlug hy land-uit en gaan skuil by sy oupa (2 Sam 3:3).
Dawid se voorbeeld word deur sy seuns nagevolg. Hy pleeg owerspel; Amnon verkrag sy suster. Dawid laat Urija vermoor; Absalom vermoor self sy broer.
Iemand het opgemerk: ’n mens se kinders is nes jy, net erger. Soos jy is, so word jou kinders dikwels, want jou voorbeeld gee hulle die leefruimte waarbinne hulle optree. Daarom moet ons só ’n voorbeeld vir ons kinders stel dat hulle dit met vrymoedigheid kan navolg, en selfs beter mense as ons word.