Hoofstuk van die dag: 2 Tessalonisense 3

Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie. (2 Thes 3:13)

Paulus herinner die Tessalonisense dat hy dag en nag geswoeg het om nie vir hulle ’n las te wees nie (vers 8 en 9). Daarom het hy vrymoedigheid om hulle aan te moedig om ook soos hy hulle kant te bring.
Dalk het jy al gevoel dis nou genoeg. Jy kan nie meer nie. Jy kan nie maar net aanhou en aanhou om die regte ding te bly doen nie. Niemand sien tog raak wat jy doen nie, dink jy dalk. Boonop is daar ander mense om jou, jou kollegas en kennisse, wat lyf wegsteek en daarmee wegkom. Hoekom sal jy dan jouself dag na dag afsloof?
Hierdie woorde van Paulus in vers 13 is vir jou en ander gelowiges wat moeg en selfs uitgebrand raak van goed doen, en wat voel genoeg is genoeg. Onthou dan dat God sien wat jy doen, al sien ander dit nie raak nie, en dat Hy dit nie sal vergeet nie (vgl Heb 6:10). Hy sien wat jy doen, ook wanneer niemand anders by is om dit te sien nie. En eendag, in die hiernamaals, sal dié dinge ’n sieraad vir jou wees (Op 14:13b).




Hoofstuk van die dag: 2 Tessalonisense 2

Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. (2 Thes 2:13)

Die konsep van die Drie-eenheid is vroeg al ontwikkel om reg te laat geskied aan die manier waarop die Bybel oor God praat – een Wese, en tog drie Persone wat afsonderlik óók God genoem word: Vader, Seun en Gees. Nêrens in die Bybel word dit in soveel woorde verduidelik nie, maar op talle plekke, soos ook hier in vers 13-17, word God as ’n drie-enige Wese bely. God is nie net op ’n enkele manier, as ’n enkele Persoon, by ons lewens betrokke nie, maar op ’n drievoudige manier. Die Vader het ons uitverkies om gered te word, bemoedig ons en gee ons hoop (vers 13 en 16). Die Seun laat ons deel in sy heerlikheid en sterk ons in die geloof (vers 14 en 16). En die Gees heilig ons (vers 13).
As gelowiges het ons ’n kragtige, sorgsame, aktiewe God wat oor ons waak. God is gans anders as die vae begrip van ’n “hoër mag” waaraan baie moderne mense vashou.




Hoofstuk van die dag: 2 Tessalonisense 1

God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly… (2 Thes 1:6)

Van vroeg af was gelowiges bekommerd daaroor dat al hulle toewyding en volharding vir die saak van die Here uiteindelik nie juis ’n verskil gaan maak nie, of dat God nie omgee wat met hulle gebeur nie (sien bv Mal 3:14-15). Dit lyk asof die gelowiges in Tessalonika ook hieroor bekommerd was. Daarom herinner Paulus hulle daaraan dat daar ’n dag sal aanbreek wanneer hierdie oënskynlike onreg reggestel sal word. Hy gryp terug na die beloftes van God by monde van die profete, soos bv Sag 2:8: “Wie aan julle vat, vat aan my oogappel,” of Mal 3:16-18. Die Hebreërskrywer verwys ook hierna in Heb 6:10: “God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie.”
Daar kóm ’n dag wanneer God ’n einde sal maak aan onreg, en die wonderlike troos is, ons sal ook daar wees (vers 10). Wat ’n heerlike vooruitsig en hoop vir ons wat dikwels sukkel en voel ons moet maar net gee en gee en gee!




Hoofstuk van die dag: 2 Tessalonisense (Inleiding)

Kyk gerus na hierdie video vir ’n goeie opsomming van die brief:




Hoofstuk van die dag: 2 Tessalonisense 3

Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus! (vers 5)

Paulus skryf aan mense wat vervolg word. Die bose is listig, maar, bemoedig hy hulle, die Here is getrou en Hy sal hulle bewaar (vers3). Dan bid hy vir die gemeente te midde van hulle vervolging. Hy bid dat die Here hulle gedagtes sal rig op die liefde van God en die volharding van Christus.
Wanneer dit moeilik gaan, is dit maklik om jou blind te staan teen die probleme wat jy ervaar: die bose, die vervolgers en verkeerde en slegte mense (vers 2). Dan kan jy moedeloos raak, soos Elia destyds, wat onder ’n besembos gaan lê het en gewens het hy was dood (1 Kon 19:3-4). Daarom bid Paulus dat die Here hulle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus. As jy verstaan dat God jou liefhet en vir jou omgee, kan jy aangaan. As jy Christus se volharding in die oog het, kan jy ook volhard (vgl Heb 12:1-3). Want dan ontdek jy dat jy deur jou swaar deel het aan Christus en sy lyding, en word sý oorwinning ook joune.

 

Naskrif: Môre begin ons DV lees aan die boek Maleagi.




Hoofstuk van die dag: 2 Tessalonisense 2

_En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader._ (vers 16-17)

Die gelowiges van Tessalonika was op hol en verward oor die wederkoms, en Paulus gee in dié hoofstuk twee merkers vir die einde: die optrede van die “wettelose mens” (vers 8; elders die Antichris genoem) en die toenemende geloofsafvalligheid in die wêreld (vers 3).
Of die Antichris al met ons is, weet ek nie, maar die toenemende afvalligheid is daar vir almal om te sien. Die vraag is: hoe leef ’n mens as gelowige in ’n tyd van geestelike verval en toenemende verleiding en misleiding? Vers 13-17 wil ons hiermee help.

  • Hou met jou hele hart vas aan die wonderlike troos: “Die Here het jou lief” (vers 13-14).
  • Moenie jou ore uitleen vir geloofs-onsin nie (vers 15). Bly by wat jy geleer het en luister na die mense wat jy vertrou.
  • Jou geloof word versterk, sê Paulus in vers 16-17, deur die goeie wat jy in woord en daad doen.

Ons leef in die laaste dae. Die Here is aan die kom! Gelukkig is die een vir wie die Here by sy wederkoms aan die werk sal vind (Matt 24:46).