Hoofstuk van die dag: 2 Timoteus 4

Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vertrek. (vers 10)

Ons lees in Filemon:24 en in Kol 4:14 ook van Demas. Daar word hy deur Paulus as ’n medewerker gelys. Maar nou is hy weg. Hy het bedank uit Paulus se kerkraad. Sy prioriteite het geskuif. Dit boonop op ’n tyd toe Paulus sy ondersteuning baie nodig gehad het. Paulus is alleen, en sy teregstelling is om die draai (vers 6).
Wat het dan verkeerd geloop? Hoe kan dit gebeur dat iemand so goed begin, soveel belofte toon, en dan langs die pad moeg word en omdraai?
Dit is interessant dat Demas se naam elke keer saam met dié van Lukas, die dokter en Paulus se getrouste metgesel, genoem word. Miskien is hy so aangevuur deur die ywer van Lukas, dat hy saamgegaan het sonder om die koste, die prys van dissipelskap, te bereken.
Of dalk het hy regtig die Here liefgehad en geweet waarvoor hy hom inlaat, maar namate die jare begin aanstap het, het hy begin moeg word. Hy het uitgebrand.
Hoe keer jy dat jy Demas se pad loop? Paulus gee in 2 Tim 3:14-17 die antwoord. Of, in die woorde van Jesus (Joh 15:4): Klou aan Hom vas!

_Naskrif:_ Môre lees ons verder uit die Psalms. Ons gaan Ps 129 lees.




Hoofstuk van die dag: 2 Timoteus 3

Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. (vers 5)

Die hele Skrif is deur God geïnspireer, dws dit is deur die inspirasie van die Gees geskryf. Só herinner Paulus ons in vers 16. Hy verwys natuurlik na dit wat ons vandag as die Ou Testament ken, maar intussen het die kerk heelwat ander (Nuwe Testamentiese) boeke as deel van die Skrif aanvaar. Ook dit wat Paulus aan Timoteus skryf, is geïnspireer, al het hy dit dalk nie self so gesien nie. Vandag sou ons sê die hele Bybel is deur God geïnspireer. Dis hoekom die Bybel so kragtig is en nooit oud sal word nie – dis nie ’n gewone boek nie. Dis God se woord aan ons.
In die beskrywing van die laaste dae (vers 1-5) wil ’n mens se mond oophang, want dit is so waar! Paulus kon dit nie geweet het nie, maar tog het hy dit profeteer deur die werk van die Gees.
Om in só ’n verwarde en verdwaalde wêreld koers te hou, het ons God se woord nodig (vers 14-17). Moenie die Bybel afskeep nie! Dis hoe God jou wil help, sodat jy toegerus kan wees vir elke goeie werk.




Hoofstuk van die dag: 2 Timoteus 2

Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak. (vers 23)

Ek was op ’n stadium redelik ywerig om my geloofstandpunte in facebook-debatte te verdedig, in die waan dat ek daarmee die evangelie tydig en ontydig verkondig. Later het ek besef dat dit sinneloos is. Niemand het nog ooit tot bekering gekom omdat hy ’n argument verloor het nie. Ek is net van ’n kant af beledig en selfs warmplek toe gestuur. Toe onthou ek wat Jesus gesê het in Matt 7:6: “Moenie julle pêrels voor die varke gooi nie.”
Dit geld vir enige sosiale media debat; ook vir die snedige opmerkings onder-aan koerantartikels. Jy moet dit nie antwoord nie, en verkieslik ook nie lees nie. Dit dien geen doel nie, behalwe dat dit jou jou vrede kos. Jou getuienis moet veral deur jou lewe wees, nie deur argumente en ’n gestryery nie. Dit is teenoor gelowiges wat anders as jy dink, én teenoor ongelowiges. Uiteindelik is dit nie ons stryery wat mense by God uitbring nie; net God kan mense bekeer. Daarom moet ons gesprekke vriendelik, beskeie en hoopvol wees (vers 25; kyk ook na Ef 4:2). Die res kan ons met vrede in God se hande laat.




Hoofstuk van die dag: 2 Timoteus 1

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. (vers 7)

Uit wat Paulus skryf, kan ’n mens aflei dat Timoteus se ywer vir die evangelie begin taan het (vers 6). Hoekom, sê hy nie. Dit kon sy jonkheid wees, of dalk sy swak gesondheid (1 Tim 5:23). Teenstand in die gemeente kon ’n faktor gewees het, en vervolging (vers 8 en 12).
Dalk het jou ywer ook verflou. Jy is nie alleen nie! Dink aan Moses (Eks 5:22; Num 11:10-15), Elia (1 Kon 19), Asaf (Ps 73:1-14), Job (Job 3:1-26) en Dawid (Ps 55:13-15). Uit eie kragte sal geen mens in die geloof staande bly nie. Moet dan nie op jouself fokus nie. Fokus op God en wat Hy jou gegee het (vers 7). Dink oor jou geloofspad (vers 5 en 6). Dis nie jou eie prestasie nie; dis die Gees van God se werk in jou.
Die goeie nuus is dat dit kan regkom. Die kole van Timoteus se geloof gloei nog onder die as. Hy moet dit aanblaas (vers 6). Hoe? Gee genoeg tyd vir stiltetyd en werk aan jou verhouding met God. Hy is magtig om jou op te tel (vers 12b).




Hoofstuk van die dag: 2 Timoteus (Inleiding)

Kyk gerus na hierdie video vir ’n goeie opsomming van die brief: