Hoofstuk van die dag: 3 Johannes

Liewe Gaius, ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan. (3 Joh 2)

Daar is mense wat uit vers 2 aflei dat aardse voorspoed en gesondheid noodwendig volg op geestelike diepgang. Die hele voorspoedsteologie kan hier genoem word. Dis egter nie wat Johannes bedoel nie. Hy wens bloot vir Gaius, sy goeie vriend, gesondheid en voorspoed toe, soos ons dikwels ook vir vriende toewens.
Klaarblyklik was Gaius ’n staatmaker in sy gemeente (anders as Diotrefes, vgl vers 9-10), en Johannes wens hom gesondheid en voorspoed toe in dieselfde mate as sy geestelike gesondheid. ’n Gesonde liggaam huisves immers ’n gesonde gees. ’n Mens moenie só vroom raak dat jy jou aardse lewe afskeep asof dit onbelangrik is nie. Dan tree jy op soos die dwaalleraars van Johannes se tyd wat gemeen het jou gees is al wat saak maak, en dat jou liggaam net ’n lastige dop is wat jy moet ignoreer.
Maar terug by Johannes se wens in vers 2. Hoe gesond is jou geestelike lewe? Sou Johannes vir jou ook kon toewens dat dit in alle opsigte so goed moet gaan as wat dit geestelik met jou gaan?

Naskrif: Môre lees ons die brief van Judas.




Hoofstuk van die dag: 3 Johannes

Liewe Gaius, moenie die verkeerde voorbeeld volg nie, volg die goeie. Wie goed doen, behoort aan God; wie verkeerd doen, het nie vir God gesien nie. (vers11)

Ons kry in hierdie kort brief ’n baie insiggewende teenstelling tussen Gaius en Diotrefes. Albei speel ’n leidende rol in die gemeente. Gaius se trou aan die waarheid (vers 3) is duidelik uit sy diensbaarheid en die manier hoe hy medegelowiges behandel. Diotrefes, daarenteen, is baasspelering en eiegeregtig.
Daar is ongelukkig te veel mense in die kerk wat eerder wil baas speel en hulleself wil laat geld, as om te dien. As dit die geval is, het jy Jesus uit die oog verloor.
Dis maklik om oor geloof te praat, maar uiteindelik lê die toets in hoe ons leef. Tree ons op soos dit pas by volgelinge van Jesus Christus? Die Here Jesus het self gesê dat nie woorde nie, maar die doen van die wil van die Vader jou toegang gee tot die koninkryk van die hemel (Matt 7:21-29; kyk ook na Titus 1:16 en Jak 2:14-26).
Dalk sal ’n klein vragie beantwoord waar ek en jy lê: As mense na jou kyk, sal hulle genoeg getuienis kan kry wat bewys dat jy ander help en Christus verheerlik?

Naskrif: Môre begin ons met die boek Sagaria.