Hoofstuk van die dag: Amos 3

Net julle, uit al die geslagte van die aarde, het Ek geken; daarom gaan Ek van julle rekenskap eis oor al julle sondeskuld. (vers 2, 2020-vertaling)

Die 1983-vertaling vertaal in vers 2 die woord “geken” met “uitgekies”. Ons kan ook vertaal “intiem geken” of “liefgehad”. Dis wat God van Israel sê. Die mense van Israel met wie Amos praat, het verkeerdelik daaruit afgelei dat God daarom saggies met hulle sal werk en dat Hy hulle sonde sal oorsien. Amos is verniet so kwaai, het hulle geredeneer. God is immers die Een wat vir hulle moet uitkyk en hulle moet beskerm, dan nie?
Hierdie manier van dink kom steeds voor, ook onder kerkmense. Mense sê jy kan dit tog nie help dat jy sonde doen nie, dis net menslik. Jy is maar net die produk van jou omgewing en opvoeding. En hoe kan ’n goeie God enige iemand verwerp? Hy sal jou mos ’n tweede kans gee, of hoe? Is God se hoofdoel nie dat almal gelukkig moet wees nie?
Dis hierdie tipe denke wat Amos bestry. Juis omdat God in ’n innige verhouding met hulle staan, kan Hy nie hulle ontrou ignoreer nie. Sy verbondsliefde kom met voorwaardes. Hy verwag van ons liefde terug, en gehoorsaamheid.




Hoofstuk van die dag: Amos 2

So sê die Here: Selfs as Israel net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy nog sondes daarby gevoeg: (vers 6)

Die boek begin met sewe uitsprake van die Here teen Israel se vyande (1:3-2:5), en elke uitspraak word ingelei met ’n vaste formule: “So sê die Here: Selfs as (die betrokke nasie) net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy ’n vierde sonde daarby gevoeg …”
Wanneer Israel egter aan die beurt kom, is dit nie net ’n vierde sonde nie wat pla nie. Dis “nog sondes”, en die lysie is 3 keer langer. Die punt is: Israel is erger as al die buurlande. Hulle verdruk en buit die weerloses uit (vers 6b-7) en dink niks daarvan nie. Hulle gewete is só toegeskroei dat hulle selfs die tasbare bewyse van hulle onreg in hulle godsdiens gebruik (vers 8).
As ’n mens knussies in die kerk sit en dit wat verkeerd is in jou lewe jou nie pla nie, is jy diep in die moeilikheid, want dan bluf jy jouself. Jak 2:17 sê jou godsdiens is dood as dit nie in die praktyk van jou lewe ’n verskil maak nie.




Hoofstuk van die dag: Amos 1

Die woorde van Amos, een van die herders uit Tekoa – woorde wat aan hom geopenbaar is oor Israel. (vers 1, 2020-vertaling)

Ons weet niks van Amos buiten wat in dié boek staan nie: hy was van Juda; ’n veeboer (vers 1) uit Tekoa, ’n dorp sowat 15 km suid van Jerusalem. Hy het ook met wilde vye geboer (7:14). Die taal en poësie wat hy gebruik, laat ’n mens vermoed dat hy ’n opgevoede man was; nie ’n eenvoudige herder soos die 2020-vertaling ons laat dink nie.
Amos kom nie uit een of ander bekende familie nie. Hy was ook nie ’n geestelike leier nie. Hy was ’n gewone boer, soos talle ander veeboere van sy tyd (“een van die herders”). En tog word hý die instrument wat die Here gebruik om na Bet-El in die Noordelike Ryk te reis om daar God se woorde bekend te maak.
Dit was nie sommer-so woorde nie; dit was die gebrul van God uit Sion. In 3:8 sê hy die leeu het gebrul, wie sal nie as profeet optree nie? Hierin lê die geheim van Amos se optrede: God het beslag op sy lewe gelê, en hy móés eenvoudig gehoorsaam.
Die Here kan enige iemand gebruik; vir jou ook.




Hoofstuk van die dag: Amos (Inleiding)

Kyk na hierdie insiggewende video-opsomming van die boek Amos: