Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 22

So moet jy ook maak met ’n donkie of ’n kledingstuk van jou volksgenoot of enigiets anders wat wegraak en jy kry dit. Jy mag nie onverskillig staan daarteenoor nie. (vers 3)

Op vakansie in Skotland was ons in ’n pub waar ’n £10-noot op die toonbank gelê het. Volgens die kroegman het dit maande lank daar gelê. Niemand het dit gevat nie. Dit was vir my erg vreemd. Hier by ons sal só ’n noot nie ’n dag oorleef nie. Optelgoed is vatgoed, sê ons mos. Die Bybel sê dis nie so eenvoudig nie. ’n Verlore item behoort aan iemand anders, nie aan jou nie.
Dieselfde geld vir diere in nood (vers 4). Jy kan nie jou skouers optrek en sê dis nie jou dier nie, en daarom nie jou probleem nie. Ons is verantwoordelik vir ’n ander se besittings. Elkeen wat hulp nodig het, is immers ons naaste.
Ons verantwoordelikheid teenoor ander strek heelwat verder as wat ons vandag sou dink. In ons indiwidualistiese wêreld kan ons maklik ons skouers optrek en sê iets is nie ons besigheid nie. Die reëlings wat Moses hier tref, weerspreek dit egter.
Om soos Jesus met deernis te leef, dís ons roeping.




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 21

Wanneer ’n man twee vrouens het […] mag hy nie die seun van die vrou wat hy liefhet, in sy testament as sy oudste beskou en hom bevoorreg bo die seun wat eintlik sy oudste is nie, die seun van die vrou van wie hy nie hou nie. (vers 15-16)

Poligamie is nie in die Ou Testament veroordeel nie, hoewel dit meestal net welgestelde mans was wat meer as een vrou gehad het. Dikwels is só ’n huwelik genoodsaak t.w.v. ’n erfgenaam wanneer die eerste vrou kinderloos was, bv Abraham en Sarai (Gen 16:1-2), of Elkana en Hanna, (1 Sam 1:2). Ons lees ook van ander gevalle van poligamie uit die vroeër tyd, soos Jakob.
In die meeste gevalle waarvan die Bybel vertel, was poligamie ’n resep vir huishoudelike onmin en hartseer. Moses se reëling in vers 16 wil keer dat die seun van die geliefde vrou voorgetrek word ten koste van die ander, soos Jakob met Josef en later ook Benjamin gedoen het (Gen 37 en 44:20).
Met egskeidings en hersaamgestelde gesinne vandag is die versoeking daar dat kinders voorgetrek (of afgeknou) word, of ouers trek tou oor hulle kinders, met matelose hartseer vir die betrokke kind en die gesin. Moenie in daardie strik trap nie. Dis dwaasheid.




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 20

Wanneer jy ’n stad ’n lang ruk beleër terwyl jy daarteen oorlog maak om dit in te neem, moet jy nie sy bome verwoes en dit afkap nie, want jy moet die vrugte daarvan eet. Jy mag dit nie afkap nie, want die bome op die land is nie mense dat jy teen hulle moet veg nie. (vers 19)

Ons het op skool geleer van die sg. “verskroeide aarde”-strategie wat Lord Roberts, en later ook Horatio Kitchener, in die Anglo-Boereoorlog gevolg het. Alles is vernietig – huise, vee, landerye; en vroue en kinders is weggevoer na konsentrasiekampe, waar duisende vanweë die swak toestande dood is.
Die Egiptenare het destyds al hierdie soort strategie van totale vernietiging gevolg. God laat nie toe dat sy mense so optree nie. Hy sonder die vrugtebome uit, maar selfs die ander bome wat gebruik kon word vir beleëringswalle moes met omsigtigheid hanteer word, want die bome is nie mense nie (vers 19-20).
God is die Eienaar van sy skepping, en Hy beskerm sy wêreld. ’n Mens kan maar net wonder oor die afgryse in God se hart oor die moderne mens se verwoesting van die aarde. Dit skree teen die skeppingsopdrag om die aarde te bewerk en op te pas (Gen 1:28 en 2:15).




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 19

Jy mag so ’n persoon nie genade betoon nie: ’n lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n hand vir ’n hand en ’n voet vir ’n voet. (vers 21)

Ons ken almal hierdie uitspraak, omdat Jesus dit aanhaal in sy Bergrede (Matt 5:38). In Jesus se tyd is dié reëling as verskoning gebruik om iemand in eie munt terug te betaal.
Die fout wat hulle gemaak het, was dat hulle vers 21 vir persoonlike konflikhantering gebruik het. Dit gaan egter nie hier om persoonlike wraak nie. Dit is ’n riglyn vir regters om te verseker dat die straf by die oortreding pas.
Jesus waarsku teen wraak en vergelding. Vergifnis en ’n sagte benadering hou die moontlikheid in dat daar versoening kan kom en dat die saak nie in ’n nimmer-eindigende spiraal van wraak en weerwraak ontaard nie. Dit was ook die hele beginsel agter die instel van asielstede, wat moes keer dat onskuldige bloed vergiet word.
Daar is goed wat met ’n mens gebeur wat jou baie seer laat kry. Om dan met die las op jou gewete te loop dat die onreg reggestel moet word, kan ondraaglik word. Jesus se raad is: Los dit vir God. Lees ook Rom 12:19.




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 18

Die Here jou God sal ’n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. (vers 15)

Hierdie uitspraak handel oor die profete-amp. Op hulle het die verpligting gelê om namens die Here uitsprake te maak (vers 18). Só het God oor eeue sy volk gerig. Dit was juis die profete-stem wat gemaak het dat die Jode die ballingskap oorleef het, want vóór die ballingskap al het die profete die volk gewaarsku dat dinge verkeerd gaan loop omdat hulle die Here verlaat het. Die ballingskap was ’n volksramp, maar omdat mense verstaan het dat dit van God kom, soos die profete voorspel het, het hulle nie hulle geloof verloor nie.
Die profete van ouds was egter net voorlopers van die groot Profeet wat God sou stuur. Hy, Jesus Christus, is een soos ons (Joh 1:14). Hý is God se woord aan ons (vgl Heb 1:2). Trouens, Hy is God se finale woord aan ons, en alles wat mense oor God sê, moet aan Jesus se woorde getoets kan word.
Daarom, dink ek, moet ons baie meer moeite doen om die Evangelies te lees, sodat ons Jesus se woorde en sy verstaan van die Koninkryk ons eie kan maak.




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 17

Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe. (vers 19)

Moses voorsien dat die volk, wanneer hulle in die beloofde land gevestig geraak het, ’n eie koning sal wil hê soos wat in die omringende volke gebruik was. Daarom maak hy ’n lysie van basiese dinge wat in so ’n geval moet geld, o.a. dat hy nie baie vroue mag hê nie (vers 17).
Die riglyn oor baie vroue is alreeds deur koning Dawid verontagsaam. Sy baie vroue (en veral hulle kinders) het matelose hartseer in Dawid se huis gebring. Dan praat ek nie eers van koning Salomo nie (1 Kon 11:3-5).
Die oplossing is om die Here se voorskrifte nougeset te volg. Jy moet dit gereeld lees (vers 19) en dit deel maak van wie jy is. Dít is hoe die Here se Woord in ons lewens werk. Jy kan nie vir elke ding wat gebeur en vir elke besluit wat jy (dikwels in die hitte van die oomblik) moet neem, eers die Bybel oopmaak en soek vir leiding nie (vgl Ps 119:11).