Hoofstuk van die dag: Ester 9 en 10

Hulle moes dit dae van feesviering en vreugde maak en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur. (Ester 9:22)

Die Purimfees word tot vandag nog deur Jode gevier, en is die vrolikste en luidrugtigste van die Joodse feeste. Tradisioneel word die boek Ester tydens die fees hardop voorgelees, en telkens wanneer Mordegai se naam gelees word, juig die luisteraars, maar as Haman se naam gelees word, skree en jou almal. ’n Hoogtepunt word bereik wanneer die voorleser by die tien seuns van Haman (9:7-9) kom.
Die fees word nie in die Nuwe Testament genoem nie, hoewel party verklaarders meen die fees wat in Joh 5:1 genoem word, is die Purimfees. Die fees het gou sy godsdienstige konnotasies verloor en is vandag merendeels ’n kulturele fees.
Vir ons as gelowiges getuig die Purimfees van die feit dat God ’n skynbare doodse situasie kan omkeer en nuwe moontlikhede daaruit kan skep. Hoewel ons nie dié fees op ons kerklike kalender het nie, kan ons steeds die verhaal van Ester waardeer as ’n getuienis dat God in beheer is, selfs sonder dat Hy bonatuurlik ingryp. Daar is nie wonderwerke nodig om hopelose situasies om te keer nie; net gewillige gelowiges wat in biddende afhanklikheid hulle plig doen.

Naskrif: Môre begin ons met die boek 1 Tessalonisense.




Hoofstuk van die dag: Ester 8

Vir die Jode was daar weer lig en vreugde en blydskap en ’n gevoel van eiewaarde. (vers 16)

Die ommekeer in die Jode se lot was ongelooflik. Van verguisde volk tot die uitverkorenes wat die reg gekry het om hulleself teenoor hulle vyande te handhaaf (vers 11).
Die gevolg vir die Jode was verreikend. Hulle was nie net verlig en bly nie, maar kon weer hulle kop optel (vers 16). Die koning het hulle raakgesien en spesiaal aan hulle omstandighede gedink.
Dit laat my dink aan Sarai se slavin Hagar, wat só sleg deur haar eienares behandel is dat sy weggeloop het. Langs die pad het die Here haar voorgekeer, sodat sy verwonderd uitroep: “U is Die God wat my sien” (Gen 16:13, 2020-vertaling).
Agter die verhaal van Hagar en Ester staan die Here God. Hy wat die hele wêreld in sy hand hou, hou ook sy kinders in die oog. Lees gerus Psalm 37 hieroor.
Een van die grootste behoeftes van mense is om raakgesien te word. Die evangelie is dat God ons inderdaad raakgesien het. In 2 Kor 1:3 noem Paulus God “die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moet gee.”
So, tel op jou kop! Jy is kosbaar vir God.




Hoofstuk van die dag: Ester 7

Hulle het Haman toe opgehang aan die galg wat hy vir Mordegai laat bou het. (vers 10)

Die uitkoms van die tweede banket lyk vir ons heel voorspelbaar. Haman het sy hand oorspeel, en nou moet hy boet. Maar as ’n mens na hoofstuk 1 terugblaai en sien hoe wispelturig die koning was en hoe hy hom aan sy neus laat lei deur sy raadgewers, besef jy eers regtig hoe delikaat die situasie was, en hoe fyn Ester moes trap om alle blaam van die koning weg te hou. Hy was mede-verantwoordelik vir die dilemma waarin Ester en haar mense hulle bevind het (Ester 3:10-11), maar sy durf dié feit nie na vore laat kom nie. Die koning kon netsowel in hierdie geval ook sy amptenaar bo sy vrou verkies. Ester was egter baie goed voorberei vir die gesprek en het haar woorde noukeurig gekies.
Die Heilige Gees, oftewel die wysheid van Bo soos Jakobus skryf (Jak 3:17), help ’n mens om nie in te storm in ’n saak nie, selfs al weet jy die reg is aan jou kant. Menige saak is al beduiwel omdat mense nie biddend-afhanklik van die Gees optree en praat nie.
Biddend leef en fyn luister. Dis hoe ons moet leef.




Hoofstuk van die dag: Ester 5

… as die koning my goedgesind is, en as die koning dit goedvind om aan my wens te voldoen en my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal berei. Dán sal ek my wens aan die koning bekend maak. (vers 8)

’n Mens sou seker kon sê dat Ester die tweede banket wou hou om die spanning op te jaag. Ek dink egter dat die uitstel van haar versoek eerder die antwoord op haar en die ganse volk se vas en gebede was. Sy was oorgehaal om met die hele sak patats uit te kom (vers 7), maar iets (Iemand!) hou haar terug, en sy besluit om nóg ’n ete te gee. Deur haar vas en toewyding op God was sy sensitief vir sy leiding in haar lewe.
Die ekstra dag het uiteindelik ’n dramatiese effek op die verloop van die gebeure gehad. ’n Hele paar goed gebeur voor die volgende ete, waardeur die bordjies verhang word en Haman se ware kleure sigbaar word.
By monde van Jesaja (Jes 30:15) het God gesê: “Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.” Dis wat Ester gedoen het. Ek en jy moet ook.




Hoofstuk van die dag: Ester 4

Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het! (vers 14)

Mordegai se vraag aan Ester is een wat ons vir onsself ook van tyd tot tyd moet vra: Hoekom is ek juis op hierdie tydstip in hierdie posisie? Want, hoewel Mordegai dit nie in soveel woorde gesê het nie, is die implikasie van sy vraag duidelik: Jy is nie maar toevallig in die paleis nie. Gód het jou daar geplaas met ’n doel.
Dis die maklikste om jou skouers gelate op te trek en te sê dinge sal gebeur soos dit sal, daar is seker maar ’n doel agter alles. Dis egter nie ’n gelowige se ingesteldheid nie. Ons weet mos niks gebeur toevallig nie. God is met ons op pad, en Hy het ’n doel met ons lewe, net soos Hy ’n doel met Ester gehad het. Sy was koningin omdat sy mooi en lieftallig was, maar agter haar opgang het God gestaan, besig om die dinge haarfyn te beplan.
Dis eers wanneer ons só oor ons eie situasie en plek begin nadink, dat ons ons roeping in God se Koninkryk ontdek, en die lewe begin sin maak.




Hoofstuk van die dag: Ester 3

Mordegai het egter nie gekniel en aan hom eer bewys nie. (vers 2)

Om te verstaan wat tussen Mordegai en Haman gebeur, moet ’n mens terugblaai in die geskiedenis. Haman was ’n Agagiet (vers 1). Hy was dus ’n nakomeling van die Amalekitiese koning Agag. Die Amalekiete was sedert die uittog aartsvyande van Israel (Eks 17:8-16 en Deut 25:17-19). Dit was heel moontlik die rede hoekom Mordegai geweier het om voor Haman die Agagiet te buig. Daarmee saam was Mordegai ’n nasaat van Kis, koning Saul se pa. Saul moes die Amalekiete gaan uitroei en in die proses is koning Agag gedood (1 Sam 15). Hier was dus al die elemente om ’n uiters plofbare situasie te skep.
Natuurlik kan ons nie Haman se wraaklus goedpraat nie. Hy was doodeenvoudig boos. Koning Ahasveros was eweneens uiters onverantwoordelik om hom ’n blanko tjek te gee vir sy moordplan.
Maar Mordegai is ook nie skoon te spreek nie. Sy kinderagtige optrede het so byna-byna tot die einde van die Joodse volk gelei. Pleks hy hom deur die Woord laat lei het. Spreuke 20:22 sê: “Moenie sê: Ek wil my wreek oor die kwaad wat my aangedoen is nie; vertrou op die Here, en Hy sal jou help.” Kyk ook na Rom 12:19!