Hoofstuk van die dag: Filemon

Miskien was hy ’n kort tydjie van jou af weg juis sodat jy hom vir altyd sou terugkry …. (Filem 15)

Mense wonder dikwels hoekom iets vreeemds gebeur het, en hoekom God dit toegelaat het. Party mense sal sê God het sy redes, en dis nie vir ons om daaroor vrae te vra nie. Paulus het dit self by geleentheid geskryf (Rom 9:20): “Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: ‘Waarom het jy my so gemaak?’” Daar het dit egter vir Paulus gegaan oor die uitverkiesing en die Goddelike Raadsplan, maar hier in Filemon praat hy oor goed wat in die alledaagse lewe met ons gebeur.
Daar ís dinge wat ons nie verstaan nie, maar waaroor ons gerus kan nadink. Paulus het nie enige Bybelgedeelte wat dít wat met Onesimus gebeur het, kon verduidelik nie. Daarom gee hy vir Filemon sy eie verstaan van wat gebeur.
Ons behoort ook oor ons eie omstandighede na te dink, veral as ’n ongewone ding gebeur. Dalk is God besig om jou iets nuuts te leer, of in ’n ander rigting te stuur. Só maak jy God en sy Woord deel van jou verstaan van jou wêreld.




Hoofstuk van die dag: Filemon

My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ’n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen. (vers 6)

In die verlede het teoloë dikwels vir Paulus en Jakobus teen mekaar afgespeel, asof Paulus die geloofsman was teenoor Jakobus, wat die werke-man was. Jakobus sê immers in soveel woorde dat geloof sonder werke dood is (o.a. Jak 2:17).
Dié teenstrydigheid is egter vals. In sy kort persoonlike briefie aan Filemon is dit baie duidelik dat Paulus net soveel klem lê op dade: jou geloof moet in jou optrede van elke dag ’n verskil maak en vir die mense met wie jy te doen kry, tot seën wees. Daarom skryf hy aan Filemon (vers 6): “My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ’n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat” – en hier lê vir my die verrassende – _“ons vir Christus kan doen.”_
Prof Willie Jonker het by geleentheid gesê: Ons geloofsdiepte word nie net gemeet aan die hoeveelheid minute wat ons op ons knieë in gebed deurbring nie, maar veral ook aan wat ons doen as ons van ons knieë af opstaan.




Inleiding tot die brief Filemon

Kyk gerus na hierdie video vir ’n goeie opsomming van die brief: