Hoofstuk van die dag: Habakuk 3

… nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. (vers 18-19)

Die boek eindig nie soos dit begin het nie; dit eindig in ’n magtige klimaks van Godsvertroue.

In hoofstuk 1 het Habakuk begin deur ’n beskuldigende vinger na God te wys. In hoofstuk 3 is hy weer aan die woord, maar hierdie keer bid hy. In sy worsteling met God het hy van wanhoop tot vertroue beweeg. God sál ingryp, soos so dikwels in die verlede. Daarvoor bid hy (vers 2).

Gedagtig aan die Here se optrede in die verlede kom hy by die punt waar hy besef hy moet geduldig wag totdat God ingryp. God se heerskappy is dikwels net vir die geloofsoog sigbaar.

Met God langs jou hoef jy jou nie blind te staar teen die steiltes nie. Een kommentator noem dit “nogtans-geloof”. God het reeds die oorwinning behaal. Hy is jou Kragbron. Op hoë plekke laat Hy jou veilig loop.




Hoofstuk van die dag: Habakuk 2

Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly. (vers 4)

In hoofstuk 2 is Habakuk opgewonde, want hy sien uit na die antwoord wat God gaan gee. Daarom gaan staan hy op die uitkyktoring (vers 1), wag hy dat God sal praat. Want hy weet: God sál antwoord. Dinge sal nie altyd bly soos dit nou is nie.

En dan praat God met hom! Hoe kan ’n mens ooit daaraan twyfel dat God hoor, dat Hy omgee, wonder of Hy ooit sal reageer?

Maar God se antwoord is nie presies waarop Habakuk gehoop het nie. God swaai nie ’n towerstaffie, en skielik is alles weer reg nie. God se antwoord aan Habakuk is ook nie ’n klinkklare oplossing nie; eerder ’n oproep tot hernude opregtheid en toewyding en getrouheid: “Wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.”

Tussen mense wat nié in God glo nie en nié vir God leef of hulle aan Hom steur nie, is dit ons roeping: Om volhardend te bly glo en die regte ding te doen. Dis nie die maklike pad nie, maar dis God se pad. Vandag nog altyd.




Hoofstuk van die dag: Habakuk 1

U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense dié vernietig wat beter as hulle is? (vers 13)

Habakuk begin sy kort boek met ’n klaaglied waarmee die meeste van ons kan identifiseer. Hy bekla sy lot voor God omdat God skynbaar afwesig is. Hy roep om hulp, maar dit voel vir hom die Here hoor nie (vers 2). En intussen verval die samelewing in chaos (vers 4). God se wet word geïgnoreer; dis ’n samelewing sonder norme.

Toe God uiteindelik vir Habakuk antwoord, is dit glad nie die antwoord waarop hy gehoop het nie (vers 5-11). God maak nie soos Habakuk wil hê nie. Trouens, Hy vererger die probleem, want Hy stuur die Galdeërs om die land te kom verower!

Habakuk gee hier ’n stem vir elkeen wat wonder waar God dan is in ’n tyd van krisis. Wat belangrik is om raak te sien, is dat hy nie oor God praat nie. Hy draai nie sy rug op God in sy vertwyfeling nie, maar praat mét God. Hy klou aan God vas, want Hy weet God is van altyd af daar (vers 12).