Hoofstuk van die dag: Haggai 2

Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. (Hag 2:4)

Die bouwerk aan die tempel het in alle erns begin, maar die nuwe tempel het baie sleg afgesteek teen die glorie van Salomo s’n (vers 3). Dit was om van te huil (Esra 3:12). Nou kom die Here by monde van Haggai en herhaal die beloftes wat Hy tydens die uittog gemaak het (vers 5). Die verwysing na die uittog is gepas, want dit was tydens die Huttefees (wat die uittog herdenk) wat Haggai optree.
Twee maande later praat Haggai weer (vers 10), dié keer direk met die priesters oor die rede vir die mislukte oeste (vers 11-19). Die probleem, sê hy, is dat hulle met offers voortgegaan het terwyl hulle ongehoorsaam was aan die opdrag om die tempel te herbou. Eers as hulle weer die bouwerk hervat, kan hulle die seën van die Here verwag. Dit was ook die Here se woord aan koning Saul (1 Sam 15:22).
Aan die ander kant: Dié wat getrou en gehoorsaam aan die Here is, ontvang sy seëninge.

Naskrif: Môre begin ons met die brief aan die Galasiërs.




Hoofstuk van die dag: Haggai 1

Gaan haal hout in die berg en herbou my huis sodat Ek my eer kan ontvang en tevrede kan wees, sê die Here. (Hag 1:8)

Nadat die Jode uit ballingskap teruggekeer het, het hulle ywerig begin om die tempel te herbou. Die fondamente was al gelê, maar toe het daar teenstand van die ander bewoners van die land gekom, en die bouwerk is na twee jaar gestaak. Jy kan hieroor lees in Esra 3 – 5. Sestien jaar later is dit nog nie hervat nie. Die mense het aan hulle eie sake voorkeur gegee. Dis tóé dat die Here Haggai geroep het om die volk op te roep om die tempel te voltooi.
Die Jode se verhaal herinner my aan baie van ons eie geestelike verhale. Aan die begin is jy entoesiasties oor jou diens aan die Here. Jy doen moeite met jou stiltetyd, en vertel vir ander wat die Here in jou lewe beteken. Ongelukkig loop baie van dié goeie beginne dood. Die entoesiasme en meelewing is weg.
As dit jóú verhaal is, roep die Here jou vandag op om skouer aan die wil te sit. Hy wil die werk wat Hy in jou begin het, end-uit voltooi (Fil 1:6). Hy gaan dit egter nie sonder jou doen nie.




Hoofstuk van die dag: Oorsig oor die boek Haggai

Hierdie video sal jou ’n goeie oorsig oor die boek en sy betekenis gee: