Hoofstuk van die dag: Hebreërs 13

Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het … (Heb 13:13)

Op ’n manier wat ons nie verstaan nie, is ons opgevang in Christus se lyding en sterwe en het ons ook deel daaraan. Dit wat vandag met jou gebeur, is reeds deur Christus gedra, en dit wat jy in sy Naam ly, is ook opgevang in sy lyding.
Ek het dit die eerste keer goed verstaan toe ek self deur ’n baie moeilike tyd van vervolging in my bediening gegaan het; só erg dat, toe dit verby is, ek dit beleef het dat God die bede in die Ons Vader, “verlos ons van die Bose” (Matt 6:13), vir my beantwoord het. In dié tyd het ek verstaan dat ek deur my lyding inbuk onder Christus se kruis in en sy smaad saam met Hom dra (vers 13). Dis ’n misterie, maar dié wete het my buitengewoon vertroos en versterk.
Natuurlik vra dit van jou om jou los te maak van al die bande waarmee die wêreldse dinge ons bind. Jy kan nie deel wees van die wêreld én die smaad van Jesus dra nie. Jy moet uitgaan na Hom toe (vers 13).
Mag Hy jou versterk!

Naskrif: Dankie dat jy saam met my Hebreërs gelees het. Môre begin ons met die Briewe van Johannes.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 12

… laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. (Heb 12:1-2)

Die geloofslewe is soos ’n wedloop, sê die brief; ’n soort marathon. Om suksesvol te wees, moet jy jou voorberei (elke las afgooi, vers 1), volhard, en fokus op Jesus (vers 2).
’n Mens se eie ingesteldheid het ’n baie groot invloed op jou prestasie. As jy vooraf besluit: Dis darem baie erg, dan ís dit baie erg. Ek kry die idee dat so baie van ons die stryd verloor lank voordat ons begin. Ons is só hard aan die sukkel met ons eie geestelike stryd en so besig, dikwels, om onsself te bejammer, dat ons baie naby aan moedverloor is. Pleks van opkyk – dan sal ons sien die wenpaal is net hier voor.
Ons is nie alleen op die baan nie. Die Here is ook op die baan – Hy het dit al voor ons gehardloop en Hy hardloop elke dag saam met ons om ons aan te spoor en te versterk, sodat ons die wedloop kan voltooi. Moenie rondkyk en moedeloos word nie. Kyk na Jesus! Dan sal jy nie geestelik moeg word en uitsak nie.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 11

As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. (Heb 11:15)

Die Hebreërbrief is een lang oproep tot ons om te bly glo. Ongeloof, daarenteen, is om om te draai (3:8). Die Hebreërskrywer is bang daar is gemeentelede, soos die volk destyds in die woestyn, wat sal agterbly en uiteindelik die genade sal verbeur. Ondanks ’n goeie begin kan hulle ook uitgeput word en terugdraai.
Ons leef ook in ’n soort woestynsituasie; in ’n wêreld van beproewings en onsekerheid, waarin God se beloftes nog nie in vervulling gegaan het nie. Ons het nog nie aangekom het nie. En dit lyk dikwels asof die beloftes en die redding nie so ’n groot verandering gebring het nie.
Israel het begin wonder of dit die moeite werd is om te glo. Dít is die kern van sonde – om jou plek in die Godsvolk prys te gee, en terug te draai.
In elke mens se lewe kom daar sulke kanse om terug te draai, om Christus en sy gemeente te verlaat, omdat ’n ander pad vir ons beter of makliker mag lyk. Juis dan moet ons leef uit God se krag (vers 34).




Hoofstuk van die dag: Psalm 7

Die skuldige is soos iemand wat swanger geraak het van onreg, swanger is van kwaad en leuens voortbring. (Ps 7:15)

Wat die digter hier oor ’n skuldige persoon skryf, laat ’n mens diep dink. Hy sê die skuldige is soos ’n swanger vrou – die onreg wat hy binne-in hom vertroetel, groei, kry ’n lewe in sigself, en uiteindelik skenk hy lewe aan kwaad en leuens (vers 15). Hy is soos een wat ’n diep gat met sy onreg gegrawe het en self daardeur skade ly (vers 16). Sy boosheid tref homself (vers 17).
Iemand wat onreg koester en kwaad vertroetel, is besig om ’n monster groot te maak. Dié monster sal eendag terugkom en sy lewe verwoes. Ons sien dit en lees daarvan in die nuus. Bedrog en misdaad haal jou uiteindelik in. Op die lange duur betaal onreg nie, en dié wat op die verkeerde pad is, stuur op ’n ramp af.
Vir hulle wat die regte pad probeer loop en gelowig aan God vashou, is daar troos. God sal uiteindelik as die betroubare regter vir sy kinders in die bres tree en die opregtes help (vers 11 en 12). Ook ek en jy kan ons saak rustig by God los (vgl Rom 12:19).




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 10

Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. (Heb 10:26)

Hierdie gedeelte is seker van die moeilikste gedeeltes in die Bybel om te verstaan. Selfs ’n man soos Martin Luther sê oor hierdie verse dat dit vir hom ’n moeilike knoop is wat oënskynlik in stryd is met die evangelie.
Die vraag wat asof spontaan by ’n mens opkom, is: Wat is hierdie sonde wat so ernstig is en onherroeplik is dat daarna geen omkeer meer moontlik is nie?
Dit gaan nie hier om “een” sonde, of enkele sondes nie. Dit gaan glad nie om spesifieke sondes wat dan ernstiger en meer onvergeeflik sou wees as ander nie. Die doel van die Hebreërboek is dan juis om gelowiges te troos en te sê dat hulle ’n Hoëpriester het wat medelye het met hulle swakhede, wat verstaan en vergeef en voortdurend bly intree by die Vader op grond van sy eenmalige offer.
Nee, dit gaan om iets anders – om die een, basiese sonde, die sonde van afval, ontrou, om nie langer geassosieer te wil wees met Christus en sy gemeente nie. Dit gaan om die sonde van jou rug te draai op Christus (6:6; 10:29).




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 9

Christus het [..] in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. (Heb 9:24)

Toe Jesus die hemel ingegaan het, was dit sy troonsbestyging. Hy het sy regmatige plek aan die regterhand van die Vader ingeneem, in die posisie van mag, om oor sy kerk, oor jou en my, te regeer. Hy is immers ons koning, en dís wat Hy nou doen: Hy regeer, Hy beskerm, Hy waak oor sy kerk (Ef 1:20-23).
Maar Jesus is nie net aan die Vader se regterhand om te regeer nie. Hy is ook daar ter wille van ons, om vir ons in te tree en te pleit (vers 24; vgl Rom 8:34). Want Hy weet wat dit is om mens te wees, om emosies te hê, om versoekings te moet deurstaan; Hy is immers nie net Seun van God nie, maar ook Jesus, die mens, gebore uit ’n vrou. En daarom kan Hy as ons oudste Broer vir ons met begrip en deernis pleit en intree, daar aan die regterhand van die Vader.
Ons het ’n Broer in die hemel! Jesus is daar; ’n ware mens wat namens ons en ter wille van ons voor die Vader verskyn. Dit is die evangelie.