Hoofstuk van die dag: Hooglied 8

Al wil iemand vir die liefde al die rykdom in sy huis betaal, hy sal daaroor uitgelag word. (vers 7b)

Ware liefde kan nie gekoop word nie. Ja, seks kan gekoop word, maar dis nie ware liefde nie. Dis siek en pervers. Ware liefde is dié tussen een man en een vrou wat in ’n innige huweliksband saamgebind is. Dis kosbaar, onvervangbaar en onvergelykbaar en behoort nie ryp gedruk te word nie (vers 4). Ander vroue, sê die man, is nie vir hom nie, selfs al is dit ’n groot harem soos wat koning Salomo gehad het. Sy eie vrou (wingerd) is syne alleen, en Salomo kan sy wingerd maar hou (vers 12).
Die boek eindig met ’n uitnodiging van die vrou om gou na haar te kom (vers 14). Dié hunkering na mekaar bly deel van ’n gesonde huwelik.

Ek vertrou dat die lees van hierdie pragtige, vreemde liefdesliedere jou opnuut geïnspireer het vir jou eie huwelik. Dit is immers ’n stukkie hemel wat op die aarde geval het; ’n gawe van God aan ons! Daarom, geniet die lewe met die eggenoot wat jy liefhet (Pred 9:9). God gun dit vir jou.

Naskrif: Môre begin ons met die boek Levitikus.




Hoofstuk van die dag: Hooglied 7

Ek behoort aan die man wat ek liefhet en dit is na my dat hy smag. (vers 10)

In hierdie lied besing die man weer sy geliefde se skoonheid en begeerlikheid met beelde wat ons nie almal ewe goed verstaan nie, en tog is die bedoeling baie duidelik. Sy bewondering is onverbloemd en vir ons preutse Afrikaners amper té blatant eroties. Daarom het baie die boek probeer vergeestelik.
Die vrou se antwoord op haar man se bewondering moes vir hom soos musiek in sy ore wees. Sy behoort nét aan hom, en hy aan haar. Sy het allerlei heerlike vrugte, vars en oud (dws alles), vir hom gebêre; nét vir hom.
Dít is wat ’n huwelik so ’n heerlike plek van rus en sekuriteit maak – dit is eksklusief, en in dié eksklusiewe ruimte kan man en vrou hulleself sonder skroom volledig aan mekaar gee, soos dit in die Tuin van Eden was (Gen 2:25).
In baie mense se verstaan van die liefde is die man die jagter wat die inisiatief moet neem, en die vrou is veronderstel om passief te wees. Maar nie die vrou van Hooglied nie. Sy neem ook insiatief (vers 11). Dit maak die liefdespel opwindend.




Hoofstuk van die dag: Hooglied 6

Daar is sestig koninginne, tagtig byvroue, jong vroue sonder tal, maar sy, my duif, my volmaakte, is enig… (vers 8-9)

Daar is baie aantreklike en selfs begeerlike mense in die wêreld. Onder hulle sal daar sekerlik ook dié wees met wie jy ’n verhouding kon aangaan. Maar as jy gekies het, raak hulle jou nie meer nie, want jou eggenoot is uniek en joune. In jou oë is hy of sy die volmaakte pasmaat vir jou, en daarom kyk jy nie meer rond nie en stel nie in ander kandidate belang nie.
In só ’n verhouding klop jou hart ná jare nog vinniger en bly jy verlief. Jou eggenoot is jou koning(in), en jy jou eggenoot s’n.
Daarom wil die man (of dalk die vrou volgens die 2020-vertaling) na sy beminde toe gaan om te ervaar hoe hulle verhouding groei, soos bome wat bot en bloei (vers 11). Die weersiens is betowerend (vers 12).
Die fout wat baie egpare maak, is om op te hou om vreugde by mekaar te soek, om op te hou om te werk aan hulle verhouding, sodat dit kan groei en wasdom bereik. ’n Goeie huwelik kom nie vanself nie. Dit lê in jou en jou eggenoot se hande. Koester mekaar elke dag.




Hoofstuk van die dag: Hooglied 5

Toe sê ek: ‘Ek het al uitgetrek, hoekom moet ek weer aantrek? Ek het my voete al gewas, hoekom moet ek hulle weer laat vuil word?’ (vers 3)

Vers 2-7 is ’n droom wat begin met opgewonde afwagting, maar dan in ’n nagmerrie ontaard. Iets het verskriklik skeefgeloop, en haar beminde is weg. Dalk het sy hom te lank aan ’n lyntjie gehou (vers 3), en het die geterg geboemerang? Dalk het sy nie haar man waardeer nie, en het hy hom teruggetrek?
Spyt kom altyd te laat. Dit gebeur ongelukkig in ’n huwelik dat misverstande of verwaarlosing verwydering tussen man en vrou kan bring. Dan kos dit harde werk om die misverstand of probleem uit te stryk. Dan help dit nie om jou op te ruk en te hoop dinge kom vanself weer reg nie. Dan moet jy die liefde weer gaan soek en die verhouding herstel. Dit maak nie saak wie of wat die oorsaak van verwydering was nie. Steek jou trots in jou sak en soek toenadering. Dís wat hierdie droom sê.
Moenie jou eggenoot as vanselfsprekend aanvaar nie. Bly werk aan jou huwelik. Bly soek na wat vir jou van die begin af mooi was, en ontdek elke dag iets nuuts waaroor jy opgewonde kan raak.




Hoofstuk van die dag: Hooglied 4

My beminde bruid is ’n tuin wat toegemaak is, ’n tuin met ’n muur om, ’n fontein wat afgekamp is. (vers 12)

Hoogl 3:6-11 beskryf ’n huweliksprosessie en -seremonie, en in hoofstuk 4 besing die man sy bruid se lieflikhede en haar begeerlikheid. Sy is vir hom pragtig, en het sy hart gesteel met een kyk van haar oë (vers 9). Haar liefkosings is verruklik (vers 10, 2020-vertaling).
Sy is soos ’n tuin met ’n muur om en ’n verseëlde fontein. Daarmee sê hy sy bruid behoort net aan hom alleen. Die tuin is ’n lushof met heerlike vrugte en kruie om te geniet. Dit is privaat, en slegs hy het toegang noudat hulle getroud is. Dit het nou ook sý tuin geword (vers 16). So word twee een in die huwelik.
Dis hoe God dit van die begin af bedoel het, soos die Here Jesus dit in Matt 19:5-6 helder uitspel. Die huwelik is eksklusief, net vir twee mense bedoel, en nét hulle mag (en moet) die vrugte daarvan geniet. Dis dalk ook wat die man wil sê as hy sy bruid se nek met die Dawidstoring vergelyk (vers 4) – ’n vesting wat nie enige iemand kan betree nie.
O, om mekaar só te mag besit en geniet!




Hoofstuk van die dag: Hooglied 3

Op my bed in die nag het ek gesoek na hom wat ek liefhet; ek het hom gesoek en hom nie gekry nie. (vers 1)

Na alle waarskynlik vertel vers 1-5 van ’n droom wat die meisie gehad het. Dis soos ’n nagmerrie waarin sy oral na haar geliefde soek, maar hom nie kry nie. Wanneer sy hom uiteindelik kry, gryp sy hom en vat hom na haar ma se huis, waar sy veilig is. Iets van haar verlange na sekuriteit en vastigheid in hulle verhouding kom hierin na vore.
Dié droom staan in skerp kontras met die chaos waarin seksualiteit in ons tyd verkeer. Daar is seksueel oordraagbare siektes, tienerswangerskappe, gender-verwarring … Rein bly tot jy getroud is, is deesdae skaars, en maagdelikheid is ’n spot-woord in menige kring. Saambly is só algemeen dat niemand daaroor skaam is nie, sodat ’n mens die indruk kry dat dit normaal is.
Dis nie hoe Hooglied die liefde en verhoudings teken nie. Kuisheid is die hoogste goed (vers 5, sien ook 2:7). Erotiese passie by ’n jongmens (of enige ongetroude) moet in toom gehou word totdat die tyd daarvoor aangebreek het, sê die liedere.
Dié outydse siening is nog altyd die Bybelse siening, ook in ons moderne era.