Hoofstuk van die dag: Jeremia 29

Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange. (Jer 29:7)

Wat maak jy as die wêreld om jou in duie gestort het? Wat moet ons in Suid-Afrika doen, waar omtrent niks meer werk soos dit moet nie?
Dit was die probleem wat die ballinge in Babel gehad het. Hulle wou nie daar wees nie. Hulle het geen hoop en geen toekoms gesien nie. Daarom bid hulle die wraak van God op hulle onderdrukkers af. Kyk gerus na Ps 137:8-9. Jeremia bring egter ’n ander boodskap (vers 7): Bid vir die stad waarin julle woon, en bevorder hulle belange.
Waarvoor bid jy? Dat alles moet verander en ons weer soos in die goeie ou dae rustig kan lewe? Of bid jy vir die heil van hulle wat ons land regeer? Miskien, as ons ophou kla, en as ons begin bid en begin werk vir die redding van hulle in ons land wat verlore gaan omdat hulle God nie ken nie, miskien vind ons dan dat God ons in hierdie nuwe SA geplaas het omdat Hy ons hier nodig het; dat Hy wel vir ons ’n toekoms hier beplan (vers 11).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 27 – 28

Die profeet Jeremia het gesê: “Ek sou dit ook graag so wou hê. Mag die Here dit doen. Mag die Here bevestig wat jy as profeet gesê het … (Jer 28:6)

’n Mens weet nie altyd wat om te glo as iemand iets in die Naam van die Here aankondig nie. Het hy regtig God se boodskap oorgedra? Of was dit sy eie interpretasie?
Interessant dat Jeremia nie altyd ewe seker was van wat nou regtig van die Here kom en wat nie. Daarom gee hy vir Gananja die voordeel van die twyfel toe dié Jeremia se boodskap met groot stelligheid verwerp. Wat Gananja verkondig het, was immers dit wat ook Jeremia met sy hele hart wou hê moet gebeur: die herstel van Jerusalem.
Dis die ding. Ons wil graag hoor wat óns wil hê, en kies dit wat ons pas. Maar kom dit van God? Daarom is Jeremia daar weg nadat Gananja hom met groot stelligheid weerspreek het (Jer 28:11). Ek glo hy wou eers by God gaan seker maak wat die ware woord is. Want dis nie wat ek wil hê of wat die mense wil hoor nie, maar wat God sê, wat tel. Daaraan moet ons ’n prediker toets.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 26

Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer. Dan sal Ek die straf herroep wat Ek oor hulle wou bring oor hulle sondige dade. (Jer 26:3)

Mense sê dikwels jou paadjie is vir jou uitgesit, en wat sal gebeur, sal gebeur. So asof God ons hele lewe haarfyn beplan het, van geboorte tot sterwe, en al wat ons moet doen, is aangaan en leef en met ons laat gebeur wat vooraf reeds in God se Raadsplan bepaal is.
Dit klink baie vroom, maar dit is baie ver van die waarheid af. Want só ’n siening hou nie rekening daarmee nie dat God ons ’n vrye wil gegee het, wat beteken dat ons nié noodwendig op die paadjie bly wat Hy vir ons beplan het nie. Boonop maak dit van God ’n strakke, onpersoonlike noodlot wat nie kan of wil reageer of aanpas nie.
Nee, God se regering is dinamies. Hy kan sy planne aanpas en verander as omstandighede verander. Hy kan sy oordeel oor Juda terugtrek as hulle luister. Dis hoekom ons met hoop kan leef, want God is lewend en teenwoordig in ons lewens van dag tot dag en van oomblik tot oomblik. Hy is die Gans Andere (Karl Barth). Dís hoekom ons glo!




Hoofstuk van die dag: Jeremia 25

So het die Here die God van Israel vir my gesê: Vat hierdie beker uit my hand. Dit is gevul met die wyn van my toorn. Jy moet al die nasies na wie toe Ek jou stuur, daaruit laat drink. (Jer 25:15)

Verse 15-38 is ’n bondige opsomming van Jeremia se uitsprake oor die omringende volke. Ons sal in Jer 45 – 51 weer daarby uitkom. Daarmee maak hy dit duidelik dat God nie net die God van Israel en Juda is nie, maar die God van die hele wêreld. As Hy uit die hemel brul, klink sy stem oor die hele aarde (vers 30). Ook Babel sal gestraf word (vers 12).
Dit was ’n nuwe gedagte vir die mense van destyds. Destyds het die mense geglo elke land het sy eie god, en een land kan net ’n ander verower as hulle god sterker is as die verowerde land s’n. God se opdrag aan Jeremia bevestig egter dat Hy Here is oor alles en almal.
Op Pinksterdag (in Hand 2:9-11) lees ons weer van hierdie volke, maar daar is dit nie God se oordeel wat hulle tref nie, maar God se verlossende werk deur sy Gees wat oor hulle kom. Jesus het namens hulle, en ons, die oordeelsbeker gedrink!




Hoofstuk van die dag: Jeremia 24

Toe vra die Here vir my: Wat sien jy, Jeremia? en ek antwoord: “Vye. Die goeies is baie goed en die slegtes baie sleg, hulle is so sleg dat ’n mens hulle nie kan eet nie.” (Jer 24:3)

Nebukadnesar het in 597 vC die room van die bevolking na Babel weggevoer (vers 1). In die plek van koning Jojagin het hy sy oom, Sedekia, as koning aangestel om oor die Jode wat agtergebly het, te regeer. Hulle (die agtergeblewenes) het gereken dat die Jode wat Babel toe is, hulle verdiende straf gekry het. Hulle was die mandjie vrot vye, en die Jode wat in die land gebly het, die goeies wat God se oordeel vrygespring het.
Dis nie vreemd dat hulle so gedink het nie. Ander dra immers altyd die skuld, nie jy nie. (Lees gerus in Luk 13:1-5 hoe die Here Jesus mense wat só redeneer, kortgevat het.) Nee, sê die Here vir Jeremia. Koning Sedekia en die mense wat agtergebly het, is die vrottes waarmee Hy niks kan maak nie. Die goeie vye het Hy weggevat Babel toe, want daar kan Hy nuut met hulle begin (vers 5-7).
Wat het Jesus nou weer gesê van die balk in jou eie oog (Matt 7:5; vgl Pred 7:16 (OAV))?




Hoofstuk van die dag: Jeremia 23

Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige spruit sal laat opskiet, ’n koning wat verstandig sal regeer. Hy sal die reg eerbiedig en regverdig regeer in sy land. (Jer 23:5)

Jeremia het pas die einde van die Dawidiese koningsdinastie aangekondig (22:30). Die Dawidskonings het volledig misluk in hulle roeping om die volk te lei en op te pas (23:2).
In hierdie donkerste van dae vir die Godsvolk is alles nie verlore nie. Jeremia kondig ’n nuwe era aan, waar God weer ’n spruit uit die Dawidshuis sal laat opskiet; iemand wat alles sal wees wat die laaste konings vir Juda nié was nie – verstandig, iemand wat die reg eerbiedig en regverdig is. Hý sal God se kudde versamel en oppas, sodat hulle nie langer verstrooi raak nie (vers 4). Sy naam sal wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID (vers 6, OAV).
Ons weet wie dié herder is wat Jeremia verwag het: Jesus Christus (Joh 10:14). Hy het sy kudde uit alle oorde versamel – vir jou ook. Nie een van sy skape het verlore geraak nie, soos Hy in Joh 17:12 self gesê het. Niemand kan jou uit sy hande ruk nie (Joh 10:28; vgl Rom 8:31-39).