Hoofstuk van die dag: Jeremia 4

Jerusalem, reinig jou hart van die kwaad, dat jy behoue kan bly. Hoe lank sal jy nog bose planne in jou omdra? (Jer 4:14)

Hoekom gaan Jeremia so tekere oor Juda se sonde? Hy sê in dié verse veral 3 goed:
Een: Ons moenie dink dit maak nie saak hoe ons leef en waaraan ons ons hart ophang nie (vers 18).
Twee: Sonde verwoes God se wêreld. Jeremia beskryf in verse 23 tot 26 die gevolge van hulle sonde: die land was onbewoonbaar (23); die lig was weg uit die hemel (23); daar was nie mense of voëls nie (25); die vrugbare grond het in woestyn verander (26). Dis hoe die aarde gelyk het voor God met sy skeppingswerk begin het – donker, woes en leeg!
Drie: Sonde bring nie net oordeel en verwoesting nie. Dit breek ook God se hart.
Die wêreld is stukkend. Mense steur hulle nie meer aan God en sy gebod nie. Mense leef vir genot, vir hulleself, hulle eie verryking ten koste van ander. Kerke loop leeg, die huwelik en gesinslewe is onder groot druk, sedes verval …
Jeremia sê: as jou hart nie pyn as jy aan dié goed dink nie, verstaan jy nie God se hart nie, want sý hart breek oor ’n verloregaande mensdom.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 3

Trouelose Israel, kom terug, sê die Here. Ek sal nie langer vir julle kwaad wees nie, want Ek is getrou, sê die Here, Ek bly nie vir altyd kwaad nie. (Jer 3:12)

Die Noordelike Ryk van Israel het nie ’n goeie geloofsgeskiedenis gehad nie. Hulle eerste koning, Jerobeam, het twee heiligdomme in die Noordryk gebou waar goue kalwers die sentrale fokus was. Later is die Baäldiens openlik aangehang (vers 9), veral onder aanstigting van koningin Isebel (1 Kon 16:31 e.v.). Uiteindelik het hulle ’n baie duur prys betaal, toe die Assiriërs die land verower het en die mense in ballingskap weggevoer het.
En tog is daar vir hulle steeds ’n geleentheid om terug te keer na God! Dís hoe God is. Hy bly nie vir altyd kwaad nie (vers 12). Vergifnis is daar vir elkeen wat omdraai van die pad van ongeloof, selfs al het jy hóé diep geval. Jy moet egter jou skuld erken (vers 13, vgl 25), dan maak Hy jou sy eiendom (vers 14). Natuurlik mag dit nie net lippetaal wees nie, soos wat Juda gedoen het in die tyd van koning Josia se hervormings (vers 6 en 10).
Dit is die evangelie – daar is genade en vergifnis by God in Christus Jesus te vind (Rom 5:8).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 2

My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie. (Jer 2:13)

Israel het belowend, begin. Alles was reg in die begin-jare, toe Israel God se bruid geword het (vers 2). Israel het God met volledige oorgawe gedien en Hom onvoorwaardelik gevolg, selfs die woestyn in. Hulle was geheilig aan die Here, afgesonder vir Hom (vers 3), en Hy het hulle beskerm.
Maar daardie tyd was verby. Van die beginjare, toe Israel die Here met oorgawe liefgehad en gevolg het, was daar in die tyd van Jeremia nie veel meer oor nie. Hulle het die Here verlaat; Hom vergeet (vers 13, 32).
Hoe gebeur dit dat mense God vergeet? Dit lyk my dit gebeur as dit met jou goed gaan. As jy nie wakker hoef te lê oor die vraag waarvan gaan jy môre leef nie. As jy nie meer hoef te bid: “Gee my elke dag my dag se brood” nie.
Die tragedie is net: as jy God vergeet, bly dit nie daar nie. Dan draai jy na ander dinge om jou geestelike dors te les: politiek, geld, sport, tegnologie … Maar dit is soos gebarste waterbakke.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 1

Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. (Jer 1:5)

Hoe dink jy oor jou roeping as gelowige?
Waarmee die roepingsverhaal van Jeremia ons wil help, is om iets te verstaan van hoe Gód oor die saak voel. Of miskien moet ek liewer sê: Wat gebeur in God se hart vóórdat Hy jou roep? Hoe kom Hy by die punt dat Hy sê: Ek roep jóú. Ja, jy wat omkyk om die taak aan iemand anders oor te laat.
Hoe het God by Jeremia uitgekom? Hoe het God by jou uitgekom, en by my?
Die heel eerste ding wat ons hier moet raaksien, is dat God se pad met Jeremia begin het, lánk voor die ontmoeting waarvan ons in Jeremia 1 lees. Hy het van voor Jeremia se geboorte al begin om hom voor te berei vir sy taak.
Jy moet dit goed begryp. God se werk in jou lewe het baie lank gelede al begin. Dit het begin voor jy nog mens was. Tóé het Hy al besluit dat Hy jou wil gebruik in 2024.
Dit maak my nederig, en opgewonde!




Hoofstuk van die dag: Jeremia (Inleiding)

Voorspoed vir 2024!
Ons gaan hierdie jaar begin met die boek Jeremia. Hierdie video sal jou ’n goeie oorsig oor die boek gee: