Hoofstuk van die dag: Jesaja 61

Soos die grond plante laat uitspruit, soos die plante in ’n tuin vrugte gee, so gee die Here my God die oorwinning en laat Hy al die nasies luister na die loflied tot sy eer. (vers 11)

Dit was al 20 jaar ná die ballingskap. Bitter min van die hoë verwagtinge met hulle terugkeer het gerealiseer. Die mense het al meer begin brom dat die Here hulle in die steek gelaat het. Vir húlle gee Jesaja hierdie profesie.
Dieselfde God wat met die skepping plante op die aarde laat uitspruit het, sal ook vir sy volk sorg. Die redding wat God gee, is gewaarborg deur God self. Daarom, sê die profeet: Skep moed! God is besig!
Onthou net: God se werkswyse is anders as ons s’n. God se nuwe wêreld kom half ongemerk, in die stilte. Soos ’n plant wat groei. Wie kan sien hoe ’n plant groei? Dit help nie om hom stip dop te hou nie. Maar hy groei vir seker!
So werk God. In die stilte. Anders as wat ’n mens sou verwag, maar nie minder seker nie. Inteendeel. Daardie plantjie van God se redding het ’n reuse boom geword. Ook jy en ek is vrug van dié boom se groei.




Hoofstuk van die dag: Jesaja 60

Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God. (vers 19)

Hierdie profesie van Jesaja het natuurlik nog nie in sy tyd gerealiseer nie. Ons weet dat dit eers met die Here Jesus se tweede koms ’n werklikheid sal wees in die Nuwe Jerusalem, soos Op 21:23 vertel.
Hoekom dan hierdie profesie, wat eers aan die einde van die tyd sal realiseer? Hoe het dit die Jode gehelp? Hoe help dit ons vandag?
Ek dink ons kan twee dinge hieroor sê. Die een is dat God met die wêreld en met ons op pad is. Hy weet wat Hy doen en waar Hy uiteindelik gaan uitkom met alles. Die tweede ding is dat dié profesieë ons hoop gee; die spreekwoordelike lig aan die einde van die tonnel. Alles sal nie so hopeloos en in sonde vasgevang bly soos dit nou is nie. Daar kom beslis ’n dag dat alles anders sal wees. Die dag waarna elke gelowige verlang, wanneer die verdrukking en versoeking en gevare sal verdwyn en daar vreugde sonder einde in God se teenwoordigheid sal wees.




Hoofstuk van die dag: Jesaja 59

Wat My betref, sê die Here, dit is my verbond met die volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here, nie nou nie en nooit nie. (vers 21)

Die mens is nou eenmaal so: dis altyd iets of iemand anders se skuld, en uiteindelik God se skuld dat dinge verkeerd loop. Só het die teruggekeerde ballinge ook geredeneer, want hulle omstandighede is haglik. Nou verseker die Here hulle dat dit nie sleg gaan omdat Hy nie kan help nie, of omdat Hy nie hulle geroep kan hoor nie. Dit gaan sleg vanweë hulle eie sonde en ongehoorsaamheid (vers 2).
Dan kom daar inkeer: “Ons sondes kla ons aan,” erken hulle (vers 13).
God se reaksie gee ’n mens moed vir jouself, want Hy gryp in en tree self op as Verlosser (vers 20), sodat sy Naam weer geëer sal word (vers 19).
Uiteindelik het dié belofte op ’n finale wyse waar geword toe die Here Jesus ons kom verlos het, en sy Gees gestuur het om gelowiges toe te rus en te vorm tot standvastige getuies vir Hom.




Hoofstuk van die dag: Jesaja 58

Hulle vra wel elke dag na my wil, asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag. Hulle gee voor dat hulle ’n nasie is wat doen wat reg is en hom aan die bepalings van sy God hou. Hulle vra My wel om regverdige beslissings asof hulle van my teenwoordigheid hou. (vers 2)

Hierdie woorde van God is ongelukkig die boodskap van die hele Ou Testament. Presies dit was Samuel se verwyt aan Saul (1 Sam 15:22). Dit was die profeet Amos se groot aanklag (Amos 5:23-24). In Hos 6:6 sê die Here: “Ek verwag liefde eerder as offers, toewyding aan My eerder as brandoffers.” Die Here Jesus het twee maal hierdie woorde aangehaal (Matt 9:13 en 12:7; vgl Mark 12:33). Dit was ook die saak wat Hom die heel meeste gegrief het van die Fariseërs (kyk o.a. na Matt 23:23; lees ook Matt 7:21-23).
Skyngodsdiens en skynvroomheid beïndruk God nie. Hy verwag opregtheid diep in ’n mens se hart, sê koning Dawid (Ps 51:8). Daarom is die toets wat die Here by sy wederkoms sal aanlê, nie wat jy alles gesê en getuig het nie, maar wat jy as gelowige gedoen het in jou lewe met ander (Matt 25:31-46).
Laat mens dink, nie waar nie?




Hoofstuk van die dag: Jesaja 57

Ek het gesien wat met hom gebeur, en Ek sal hom genees. Dié van hom wat treur, sal Ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee. (vers 18)

Hierdie hoofstuk vertel van iets wat ons almal al beleef het. Iemand kom tot inkeer, is baie bly dat hy die Here “gevind” het en getuig met groot entoesiasme van sy nuwe koers, net om ná ’n ruk terug te val. Dis soos die saad wat op klipbanke geval het – die plant verwelk gou omdat daar nie diepte is nie (Matt 13:5-6).
Dis wat met die Jode gebeur het. Die terugkeer na hulle vaderland het nie gepaard gegaan met hartgrondige verdieping nie, en toe keer hulle terug na al die verkeerde goed wat voor die ballingskap die probleem was. In eie krag kán ’n mens immers nie teen die versoeking stry en die geloof behou nie. Daarom leer die Here Jesus ons bid dat God ons sal verlos van die Bose (Matt 6:13).
Gelukkig is dit nie die einde van die storie nie. God is nie klaar met ons as ons meen ons is klaar met Hom nie. Hy bring genesing (vers 18-19). Dis sy belofte. Daarom kan ons bly bid vir hulle wat wegraak, en vir onsself.




Hoofstuk van die dag: Jesaja 56

So sê die Here: Laat reg geskied, doen reg, want die verlossing wat Ek bring, is al aan die kom, en die redding wat Ek bewerk, gaan nou geopenbaar word. (vers 1)

In Jesaja 56 – 66 tref ons die volk van God in nuwe omstandighede aan. Hulle het nou die verlossingspad van Jesaja 40 – 55 geloop en is terug in die beloofde land. Maar in Jerusalem is toestande haglik. Die volk kry steeds swaar en hulle entoesiasme vir God en sy woord verflou. Hulle het steeds nie geleer dat lyding en ’n dienskneggestalte die manier is waardeur God met hulle en sy wêreld sy doel bereik nie. So bevind hulle hulle in ’n nuwe doodloopstraat van sonde en afvalligheid. Maar God is nog nie klaar met hulle nie. Jesaja 56 – 66 sê God is steeds met hulle op pad, op pad na sy eindbestemming toe, op pad na die nuwe hemel en nuwe aarde toe.
Die eerste ding wat God vir sy bevryde volk sê, is: Laat reg geskied. Doen wat God beveel (vers 2). Almal wat dit doen, ook die nie-Israeliete wat by hulle aansluit en selfs die ontmandes wat voorheen uitgesluit is (Deut 23:1).
As God jou bevry, mag jy nie dieselfde bly nie!