Hoofstuk van die dag: Job 33

Dan openbaar God Hom aan die mens en dreig dat Hy hom sal straf om hom van verkeerde dade af weg te hou en hom van hoogmoed te weerhou. (vers 16-17)

Anders as die ander (ouer) vriende, huiwer Elihu nie om Job oneerbiedig op die naam te noem nie (vers 1 en 31). Hy dink hy het al die antwoorde (vers 33). Hy haal as “aanklaer” Job se eie woorde aan (vers 9), maar verdraai dit. Job hét wel erken dat hy sonde het (7:21 en 13:26). Sy frustrasie was dat hy nie kan glo dat sy sonde só ’n vernietigende oordeel oor hom kon bring nie.
Volgens Elihu is teëspoed God se manier om die mens te louter (vers 16-22). Dit kan natuurlik so wees. Maar God se handelinge is nie só eenvoudig verstaanbaar nie, en buitendien is Job nie op die verkeerde weg nie. Watter sin het Job se lyding dan?
Om alles te kroon, sien Elihu homself as ’n soort middelaarsengel wat vir Job sal bid, en – siedaar! – sal hy weer gesond word (vers 26). Al wat Job moet doen, is om voor die mense sy skuld te bely (vers 27). So asof jy net die regte knoppie by God moet druk om jou antwoord te kry.




Hoofstuk van die dag: Job 32

Maar dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die gees wat van die Almagtige af kom. (vers 8)

Ná die heel eerste “sinode” van die vroeë kerk maak die vergadering hulle besluit bekend deur te sê: “Die Heilige Gees en ons het besluit …” (Hand 15:28). Dié uitspraak het sedertdien ’n groot geskilpunt in die kerk geword, want menige sinode het al daarop aanspraak gemaak dat hulle besluite onder leiding van die Heilige Gees geneem is, terwyl dit nie altyd die geval is nie. En wanneer ’n sinode of persoon beweer dat ’n besluit onder die Gees se leiding geneem is, wie durf dan daarteen stry? Dan stry jy mos teen die Gees!
Iets hiervan is ook waar van Elihu se argument – sý insigte kom direk van die Almagtige af (vers 8). Pasop as jy van hom verskil! Die Bybellennium sê hieroor: “Job het God om ’n hofsaak gevra (hfst 31) en toe kry hy skielik een, met ’n klein godjie as regter.”
Hoewel Elihu se woorde aanvanklik minder veroordelend klink as dié van die ander drie, lewer hy ook geen wesenlike bydrae nie, soos ons later sal sien. Pred 7:16 (OAV) sê tereg: “Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie …”




Hoofstuk van die dag: Job 31

Maar vir die ramp wat God nou gestuur het, is ek bang, teen sy majesteit kan ek niks doen nie. (vers 23)

Job sluit sy saak af (vers 35, 40) deur hom op sy onskuld te beroep, en op sy dade van trou teenoor sy medemens (vers 13-23). Volgens die Here Jesus se eie kriteria (Matt 25:35-36) het Job presies gedoen wat hy veronderstel was om te doen. Daarom is hy verward oor sy eie haglike toestand, en raak hy bang vir God (vers 23), want niks maak meer sin nie, ook nie God se handelinge teenoor hom nie.
Job daag God hier uit om teen hom op te tree en só te bewys dat hy skuldig is. Láát daar dan gevolge vir sy slegte dade kom as hy skuldig is (vers 8, 10, 22, 40). So nie, laat God hom dan vryspreek. Dis wat hy pleit.
Job glo in sy onskuld, en ook aan God se regverdigheid. God moet finaal oordeel. Uiteindelik vra hy nie om sy ou lewe terug te kry nie. Hy pleit om ’n herstelde verhouding met God. Dit gaan vir hom oor God self en nie die voordele wat hy uit sy opregtheid voor God kan kry nie. Wat ’n voorbeeld!




Hoofstuk van die dag: Job 30

Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie. (vers 20)

Job, wat eens op ’n tyd ’n gesiene man was wat almal se respek afgedwing het, word nou verguis en gespot, selfs deur die laagste klasse van die samelewing (vers 12). Hy beskryf sy liggaamlike toestand grafies (vers 16-17), en God, eens sy hulp en krag, steur Hom nie aan Job nie (vers 20). Tog bly hy na God roep (vers 24).
As jy mooi let op wat Job hier sê, sal jy die Here Jesus op sy kruisweg herken. Hy is verag en verguis en mishandel (vgl die treffende profesie van Jes 53 oor die Lydende Kneg, veral verse 3 en 7). Aan die kruis het Hy (soos Job) dit uitgekerm (Matt 27:46): “My God, waarom het U My verlaat?”
Dís die prentjie wat jy moet sien as omstandighede dwing om jou te verpletter – die prent van Jesus se lyding. Daarom skryf Heb 12:3: “Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.”
Jesus se lyding vang joune op en trek jou in sy lydensweg in, om saam met Hom ook jóú kruis te dra.




Hoofstuk van die dag: Job 28

Maar vir die mens het Hy gesê: “Kyk, ontsag vir die Heer, dit is wysheid, en om van kwaad weg te bly, is insig.” (vers 28, 2020-vertaling)

Hoewel dit lyk asof hierdie lied oor die wysheid Job se woorde is, verskil die rustige trant van die lied met Job se andersins emosionele styl. Daarom is daar kommentare wat sê dit is die skrywer van die boek wat hier aan die woord is. Dit kan egter ook ’n bepeinsing van Job self wees wat oor die wysheid wonder, veral omdat God tot dusver stil is.
Hy sê drie dinge oor die wysheid:
Wysheid kan nie gemyn word nie (vers 1-11). Waar minerale op spesifieke plekke te vinde is, is wysheid se plek onbekend. Met al sy vernuf kan die mens nie sy hande daarop lê nie.
Wysheid kan nie gekoop word nie (vers 12-19), al is jy hoe ryk.
Wysheid is by God alleen te vind (vers 20-28). Hy is die outeur van wysheid.
Ware wysheid beteken dat ’n mens God se perspektief oor die lewe sal hê. As jy dié wysheid wil hê, gaan praat en redeneer jou nie help nie. Jy moet dit by God kry namate jy met ontsag voor Hom lewe (vers 28; vgl Spr 1:7).




Hoofstuk van die dag: Job 27

Daarom kan ek nooit toegee dat julle reg het nie: tot my dood toe sal ek volhou dat ek onskuldig is. (vers 5)

Job hou vol dat sy gewete hom nie pla nie omdat hy onskuldig is. Daarmee sê hy nie dat hy sonder sonde is nie, maar dat hy reg lewe voor God. Solank die asem van God in hom is, só beloof hy plegtig, sal hy niks sê wat verkeerd of onwaar is nie (vers 3-4).
Omdat sy gespreksgenote volhou dat hy deur God gestraf word oor iets wat hy verkeerd gedoen het, selfs al ontken hy dit oor en oor, het hulle van vriende na teëstanders verander (vers 7). Hulle draai eintlik die rug op God omdat hulle Job bly beskuldig. So het hulle godloos geword en kan hulle nie op God se hulp staat maak wanneer hulle einde aanbreek nie (vers 8-9).
Wat Job hier sê, moet ons minstens laat dink oor standpunte en sekerhede wat ons so gemaklik en met groot stelligheid oor ander inneem en oorvertel. Te dikwels volg mense klakkeloos die uitsprake van ander. Sosiale media is vol van hierdie sg. waarhede, samesweringsteorieë en fopnuus wat onwaar is en God nie verheerlik nie.