Hoofstuk van die dag: Johannes 15

Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. (vers 12)

Uit Jesus se woorde in Joh 15 is dit duidelik dat die vrugte wat ons moet dra (vers 1-7) as lote van die ware Wingerdstok, liefde is. In hierdie paar verse kom die begrip _liefhê_ altesaam 9 keer voor, sodat ’n mens dit net nie kan mislees nie, en boonop word die opdrag dat ons moet liefhê, 5 keer gegee in hierdie verse. Maar dan is dit nie sommer gewone liefde nie; dit is liefde soos die Here Jesus vir sy dissipels het, liefde soos die Vader vir die Here Jesus het (vgl vs 9, 12).
Hoe lyk hierdie liefde dan?
Dit lyk vir my, as ek hierdie gedeelte reg verstaan, dat hierdie liefde nie in die eerste plek iets is wat ’n mens doen nie, maar ’n ingesteldheid, ’n lewensbenadering wat jou daartoe dryf om dinge te doen. Miskien is ’n goeie woord hiervoor “deernis”. Christus se liefde is gekenmerk deur ’n deernis vir ons. Dit het Hom uitgedryf na ons om ons te kom red.
Dit is hierdie soort liefde wat Hy ook van ons vra. Dit moet ons uitdryf om mekaar te help, by te staan, te ondersteun. Of wat sê jy?




Hoofstuk van die dag: Johannes 14

In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. (vers 2)

Ons sit almal met bepaalde persepsies oor die hemel. Mense praat van die hemelpoort waar jy nie sommer net kan instap nie. Jy moet (aan Petrus?) verduidelik hoekom jy meen jy mag by die poort ingaan. En dan wonder hulle hoe dit daar sal wees. Hiermee help die Here Jesus ons.
Hy praat van die hemel as die huis van sy Vader; sy ouerhuis, dus. En daarom ook óns ouerhuis. Dis ’n plek van geborgenheid. ’n Goeie plek, want ons hemelse Vader is daar, en ons gaan Hom van aangesig tot aangesig kan sien.
En natuurlik Jesus. Hy vat ons Self by die hemelpoorte in (vers 3). Geen verduidelikings of oortuiging is nodig nie. Hý doen die praatwerk. Hy is ons toegang (vgl Joh 10:9). Meer nog: Hy is ook ons pad soontoe (vers 6).
Natuurlik is daar meer vrae as antwoorde as ons oor die hemel dink. Maar Jesus gee genoeg antwoorde dat ons kan uitsien na ons ewige ouerhuis!




Hoofstuk van die dag: Johannes 13

Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” (vers 8)

Hoekom het Jesus sy dissipels se voete gewas?
Jesus het dit gedoen om aan hulle ’n voorbeeld te stel van nederigheid – dat niemand té belangrik is om sy naaste te dien nie (vers 14-15). Jesus wys hiermee wat ware navolging van Hom beteken: om mekaar te dien, en nie te wag dat andere óns moet dien nie.
Daar is nog ’n rede: Jesus het daardeur vir hulle verduidelik wat sy kruisdood beteken – Hy sou sterf om sy dissipels te dien, om hulle met sy eie bloed skoon te was.
En as Petrus – soos ons ook seker sou voel – te trots is om Jesus toe te laat om sy voete te was, sê die Here vir hom: Petrus, net hy wat sy trots in sy sak steek en besef hy het My nodig, net hy het deel aan My.
Net hy wat toelaat dat die Here hom dien, hom skoon was, net hy sal ook andere waarlik kan dien. Net hy wat werklik uit die Here Jesus se genade leef, sal ook die genade kan uitleef.




Hoofstuk van die dag: Johannes 12

Daar was ook ’n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. (vers 20)

Aan die einde van Jesus se openbare optrede kom daar Grieke, nie Griekssprekende Jode nie, maar nie-Jode, en vra om Jesus te sien. G’n wonder nie dat die Fariseërs in vers 19 kla: “Die hele wêreld gaan agter hom aan!” Hiermee lig Johannes die feit vir ons uit dat Jesus gekom het vir die hele wêreld.
Die Here kyk darem maar anders as ons na die wêreld. Hy kyk nie soos ons met oogklappe na mense nie. Ek onthou nog, in my eerste gemeente, hoe een ouderling, elke keer as daar uit die swart kerk ’n versoek om hulp op die agenda was, gesê het nee, ons help nie, want dis nie ons eie mense nie. Ons sal nie meer vandag so iets sê nie, of sal ons? Die punt is: ons wil graag ons hulp, ons aandag, ons omgee, beperk tot sekere mense en groepe.
Gelukkig is God nie so nie. Niks minder nie as die hele wêreld, elkeen wat glo, is in sy oog. “So lief het God die wêreld gehad” (Joh 3:16). “’n Lig vir die nasies,” sê Jesaja 49:6. Dít is God se agenda.




Hoofstuk van die dag: Johannes 11

Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (vers 25-26)

Hierdie is een van Jesus se sg. “Ek is”-uitsprake, wat teruggaan na Eks 3:14, waar God Homself aan Moses bekendstel met die Naam: “Ek is wat Ek is.” Jesus eien Homself dié Naam toe wanneer Hy sê “Ek is”, en stel Hom só as God self bekend. Hy vul ook die betekenis van dié Naam deur sy agt “Ek is”-uitsprake in die Johannes-Evangelie: “Ek is die brood wat lewe gee” (6:35,38); “Ek is die lig vir die wêreld” (8:12); “Ek is wat Ek is” (8:28); “Ek is die ingang vir die skape” (10:7,9); “Ek is die goeie herder” (10:11,14); “Ek is die opstanding en die lewe” (11:25); “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (14:6) en “Ek is die ware wingerdstok” (15:5).
Vir Marta sê Hy dus: Ek is God self. Glo in My, dan sal jy nie sterwe nie, al sterf jy ook. Want selfs al kom die dood jou haal, lewe jy tot in alle ewigheid voort by My.




Hoofstuk van die dag: Johannes 10

Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. (vers 28)

Kan ’n mens seker kan wees jy gaan eendag in die hemel kom? “Ja, ek is op hierdie oomblik seker, want ek glo en leef naby die Here, maar wie kan sê wat oor tien of vyftien jaar gaan gebeur? Wie weet of ek dan steeds in Jesus sal glo? Of sal ek dalk iewers die pad byster raak?” Só het iemand eenkeer vir my gesê.
As jy jou geloofsekerheid op jóú geloof bou, is jy in die moeilikheid, soos daardie man. Dan leef jy met ’n swaard oor jou kop, want die duiwel is listig en kan jou van die Here af weglok.
Ons sekerheid lê egter nie in onsself nie, maar in die Here. Niemand kan jou uit sy hand ruk nie, belowe Jesus (vers 28). En in vers 29 voeg Hy by dat die Vader ons óók vashou. Dís waar ons sekerheid lê. Nie in my sterk geloof nie, maar in God en sy trou. Dis ook hoe die Heidelbergse Kategismus begin: My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, behoort. Halleluja!