Hoofstuk van die dag: Josua 18

Josua het vir die Israeliete gesê: “Hoe lank gaan julle nog talm voor julle die land in besit gaan neem wat die Here die God van julle voorvaders aan julle gegee het?” (vers 3)

Uit die manier waarop die verhaal vertel word, is dit duidelik dat die sewe oorblywende stamme nie juis gretig was om hulle deel te doen nie. Dit lyk asof die Juda-stam (Jos. 15) en die Josef-stamme (Jos. 16 en 17) hulle gebiede eerste gekry het omdat hulle gereed was om dit te ontvang. Die ander stamme het gesit en wag dat alles in hulle skoot val, sodat Josua genoodsaak was om hulle skerp tereg te wys.

Die stamme se traagheid het neergekom op ongehoorsaamheid en ’n gebrek aan geloofsvertroue. Eers toe die Here by monde van Josua ingryp en die inisiatief neem, kom hulle in beweging. Dit is, helaas, vandag nog so. As God nie telkens ingryp in ons lewe nie, sal ons traag en gemaksugtig word. God wil jou help om met geloofsmoed verantwoordelikheid vir jou lewe te neem. In Joh. 15 sê Jesus mos dat ons reg gesnoei word sodat ons meer vrug kan dra. Dan kan ons die volle voordeel en vreugde van sy beloftes smaak.




Hoofstuk van die dag: Josua 17

Hulle het vir Josua gesê: “Die Bergland is nie groot genoeg vir ons nie, en al die Kanaäniete wat in die laagte woon, het ysterstrydwaens …” (vers 16)

Gister het ons gelees dat die Efraimiete nie die Kanaäniete verdryf het nie (Jos. 16:10). Die Manasse-stam het dieselfde probleem gehad (Jos. 17:12). Hulle kla ook dat hulle nie genoeg grond gekry het nie. Hulle was onvergenoegd en wou meer hê. Dalk het hulle gedink Josua sal hulle bevoordeel omdat hy ook van die stam Efraim was, maar Josua was ’n man van integriteit. Sy antwoord was: Julle is baie, julle kan die Bergland wat julle ontvang het, tem. Hy vermaan hulle ook om die Kanaäniete te verdryf. Hierdie gesindheid van selfgerigtheid het later in die geskiedenis weer na vore gekom. Lees gerus Rigters 8 en 12.

As ’n mens verwag dat alles in jou skoot moet val en dat jy meen jy om watter rede ook al bo ander bevoordeel behoort te word, sal jy altyd onvergenoegd wees. Dit verg geloofsmoed om met God se seën moeilike lewensomstandighede te oorkom, soos Kaleb gedoen het (vgl. Jos. 15:13-19).




Hoofstuk van die dag: Josua 16

Die stamme Manasse en Efraim, nakomelinge van Josef, het die grondgebied gekry. (vers 4)

Daar was nie ’n Josef-stam in Israel nie; wel Efraim en Manasse. Hulle was nie Jakob se seuns nie, maar kleinseuns; die seuns van Josef (lees hoe Jakob hulle ook geseën het in Gen. 48), wat saam met die ander stamme grond gekry het. Daar was dus eintlik dertien stamme, maar die Levi-stam het nie hulle eie grond gekry nie (Num 1:47-50). Die rede vir dié vreemde verdeling lê waarskynlik in die erfreg-stelsel van Israel. Daarvolgens het die oudste seun ’n dubbele erfposie gekry. Maar ons weet dat Ruben (Jakob se oudste seun by Lea) dié reg verbeur het toe hy by sy pa se byvrou Bilha geslaap het (Gen. 49:3-4; vgl. Gen. 35:22). Jakob het dus vir Josef, sy oudste seun by sy lieflingvrou Ragel, die hooferfgenaam gemaak (Gen. 49:26). Josef se nakomelinge kry daarom ’n dubbele deel.

Die hartseer is dat Josef se nakomelinge nié hierdie voorreg benut het nie. Hulle het nie die Kanaäniete in Geser verdryf nie (vers 10). Uiteindelik het dié stuk ongehoorsaamheid bygedra daartoe dat hulle as stam verdwyn het. Dis nie wat jy ontvang het, wat tel nie, maar wat jy daarmee maak (Matt. 25:14-30).




Hoofstuk van die dag: Josua 15

Aan die families in die stam Juda is deur loting ’n gebied toegeken wat suidwaarts gestrek het tot aan die verre suidekant van die Sinwoestyn teen die grens van Edom. (vers 1; vgl vers 20)

Wat ons hier tussen al die geografiese grense en stadsname moet raaksien, is dat die gebied aan die families van die Juda-stam toegeken is. God sorg nie sommer so in die bolling nie. Hy sorg vir families en indiwidue.

Hier is ’n interessante stukkie geskiedenis van Kaleb en sy mense (vers 13-19). Dit is nie net ingesluit om ons te laat verstaan hoe ’n groot held Kaleb was nie, maar ook watter soort mens hy was: ’n familieman. Wat hy van die Here ontvang het, deel hy gul uit aan sy mense. So maak hy dat die Here se sorg konkrete gestalte kry vir elke lid van sy familie.

Dit is een van die beginsels waarop God se verbond werk. Sedert Abraham se dae werk God met families, en skenk Hy sy seën aan Abraham én sy nageslag. Prof Willie Jonker het hieroor gesê: “God se genade loop deur die bedding van die gesin.” Soos Kaleb, het ek en jy hierin ’n roeping ontvang.




Hoofstuk van die dag: Josua 14

“Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou ’n man van vyf en tagtig …” (vers 11)

Die agtergrond vir Kaleb se versoek kan jy in Num. 14 lees, asook die belofte waarna hy verwys (Num 14:24).

Kaleb was 40 jaar oud toe hy dié belofte van die Here ontvang het. Hy moes 45 jaar lank daarvoor wag. Baie sal na só ’n lang tyd begin twyfel aan die belofte, of dit vergeet. Ander sal ledig wag dat dit waar word. Klaarblyklik val Kaleb nie in een van dié kategorieë nie. Die belofte was op 85 nog net so helder in sy geheue, en hy glo steeds dat die Here dit sal waar maak, en boonop dat hy in staat sal wees om oorlog te gaan maak om sy aandeel te kry. Hy soek nie ’n maklike antwoord nie. Hy kies een van die versterkte stede in die bergwêreld.

God se beloftes staan vas, en dit sal sekerlik uitkom, selfs al moet jy lank wag. Daarom kan jy met hoop leef!

 

Naskrif: Hierdie is die laaste “Lees die Bybel saam met my” wat ek aan almal op my verspreidingslys stuur. Van môre af sal net dié wat daarvoor ingeteken het, dit ontvang.




Hoofstuk van die dag: Josua 13

“Ek sal al die bewoners van die bergwêreld verdryf om vir die Israeliete plek te maak, van die Libanon af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs. Intussen moet jy híerdie gebiede as besitting aan Israel toewys soos Ek jou beveel het.” (vers 6)

Op die oog af lyk dit of hierdie hoofstuk net ’n klomp plekname bevat. ’n Mens is sommer lus en blaai verby! Tog is hier heelwat om te herkou. Josua is al baie oud, maar die verowering van die land is nog nie afgehandel nie (vers1). ’n Mens sou verwag dat die kwessie van ’n opvolger vir Josua nou aan die orde sou kom; dat Josua, soos Moses voor hom (Deut. 31), die leisels aan iemand sou oorgee om die verowering af te handel. Maar dis nie wat gebeur nie. Die Here belowe dat Hy self die oorlog verder sal voer. Intussen is daar werk: Josua moet die verowerde gebiede verdeel sodat die mense die land kan begin bewoon en bewerk.

Dit is wat navolging van ons ook vra. Ons hou vas aan God se beloftes, maar intussen mag ons nie armpies gevou sit en wag tot alles perfek is voordat ons vir Hom begin leef nie.