Hoofstuk van die dag: Josua 12

Moses, die dienaar van die Here, en die Israeliete het hierdie twee konings verslaan, en Moses het die gebied aan die stam Ruben, die stam Gad en die halwe Manassestam as besitting gegee.
Hier volg nou ook ’n lys van die konings van die land duskant die Jordaan, aan die westekant, wat deur Josua en die Israeliete verslaan is … (vers 6 en 7)

Hierdie hoofstuk is ’n kort opsomming van die verowerings wat onder aanvoering van Moses aan die oostekant van die Jordaan behaal is, sowel as die verowerings aan die westekant van die Jordaan onder leiding van Josua.

Die een en dertig konings en hulle stede wat in die Wes-Jordaan genoem word, is heelwat meer as wat tot dusver beskryf is. Net die hoogtepunte is opgeteken, op só ’n manier dat die hulp van God beklemtoon is. God het sy beloftes nagekom, en Israel kon nou voortgaan om vanuit die vervulde beloftes te leef.

Dit is goed om soms terug te kyk en bestek op te neem van jou lewe en veral dit wat die Here in jou en deur jou lewe reggekry het. Maak vandag tyd om dit te doen.




Hoofstuk van die dag: Josua 11

Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen. Niks wat die Here vir Moses beveel het, is nagelaat nie. (vers 15)

Die vertelling van die verowering van die noordelike gebiede van die Beloofde Land onderstreep met dik hale die Here se inisiatief. Hy is steeds die eintlike Een wat die verowering lei, sodat Hy die land “wat oorloop van melk en heuning” aan sy volk kan gee (vgl Deut. 27:3). Daarom begin Josua se veldtog teen die noordelike koalisie met ’n woord van die Here aan hom (vers 6): “Moenie vir hulle bang wees nie. Môre dié tyd gee Ek hulle oor aan Israel, dan sneuwel hulle almal.”

Ons sal egter die punt mis as ons net fokus op God se optrede. ’n Tweede tema wat deur die hoofstuk loop, is dat Josua nougeset gehoorsaam was aan die Here se opdrag. Dit staan in vers 15 en weer in vers 20.

Ons hou daarvan om te fokus op God se beloftes, en natuurlik mag ons. Maar die anderkant van die munt moet ons ook sien: dat God se beloftes waar word deur ons gehoorsaamheid aan sy Woord.




Hoofstuk van die dag: Josua 10

Hy het al die konings en hulle lande in een veldtog oorwin, want die Here die God van Israel het die oorlog vir Israel gevoer. (vers 42)

Hier sien ons die Aanvoerder van die Here op sy allerbeste!

As ’n mens verby al die ontstellende bloedvergieting kyk (dis ’n onderwerp vir ’n ander dag), sien jy hoe die Here selfs Josua-hulle se fout met die Gibeoniete se verdrag in diens geneem het. Dit het die situasie geskep waarin Josua die hele suidelike deel van die Beloofde Land in een groot veldslag kon verower.

Let op hoe die Here self die stryd gevoer het: Hy het die vyand paniekbevange gemaak (vers 10); Hy het hulle met groot haelstene afgemaai (vers 11); Hy het op Josua se versoek die dag verleng sodat die vyand nie in die nag kon wegglip nie (vers 13).

In hierdie dae van die pandemie is hierdie gebeure ’n wonderlike troos. Waar God optree, gebeur dinge! Nie dat ons armpies gevou kan sit nie. Josua en sy dapper vegters moes hard werk vir die oorwinning, maar uiteindelik is die oorwinning God s’n. Hý is die Here. Ons kan Hom vertrou!




Hoofstuk van die dag: Josua 9

Die Israeliete het na die padkos gekyk, maar nie die Here geraadpleeg nie. (vers 14)

“Hoogmoed kom voor ’n val,” lui die spreekwoord, en dit is nie ’n moderne waarheid alleen nie. Josua-hulle het nou al twee keer in die slaggat getrap dat hulle dink hulle eie oordeel is goed genoeg, hulle hoef nie die Here te raadpleeg nie. Die fiasko met Ai moes tog nog vars in hulle geheue gewees het! Maar nee. Later sou die Spreuke-digter dié waarheid met dik hale onderstreep (Spr. 3:5-7).

Daar is darem ’n positiewe kant ook in hierdie hoofstuk, en dit is die wyse waarop Josua en die leiers pa gestaan het vir hulle dom besluit, en woord gehou het teenoor die Gibeoniete, selfs teen die wil van die volk in (vers 19-20). Dawid het later (in Psalm 15) dié eienskap as een van die onderskeidings gelys van dié wat in die Here se teenwoordigheid mag kom: iemand “wat sy woord hou, selfs tot sy eie skade,” het hy gesê (Ps 15:4).

Ons maak almal foute, en dit het gevolge; party van hulle baie sleg. Die vraag is hoe jy met dié foute saamleef, want dááruit blyk jou karakter as kind van God.




Hoofstuk van die dag: Josua 8

Daarna het Josua alles wat die wet sê, die seën sowel as die straf, voorgelees, net soos dit geskryf staan in die wetboek. (vers 34)

Die oorwinning oor Ai eindig met nóg ’n kliphoop (vers29) wat daarvan getuig dat die Here die oorwinning gee aan hulle wat Hom gehoorsaam en volg.

Kort daarná het nog klippe gevolg. Josua bou op die berg Ebal ’n altaar vir die Here met ongekapte klippe, soos Moses beveel het (vgl. Deut. 11:29-32 en 27:1-26). Daar herbevestig die hele volk hulle verbintenis aan die Here deur die bepalings van die verbond tussen God en Israel opnuut te aanvaar. Dit sluit seëninge in as hulle getrou bly aan God se verbond en aan Hom gehoorsaam is, maar ook vloek as hulle die verbond verontagsaam.

Die Franse filosoof Voltaire het by geleentheid gesê: “God sal vergewe, dis sy werk.” Wat ’n grap het hy nie van die sonde en God se oordeel gemaak nie! Nee, dit werk nie so nie. God se vloek rus inderdaad op die ontroues. Net – dié vloek het uiteindelik Christus getref op Golgota, waar Hy in ons plek God se toorn ontgeld het.




Hoofstuk van die dag: Josua 7

Julle kan nie teen julle vyande staande bly as julle nie die gewyde goed tussen julle verwyder nie. (vers 13)

’n Paar goed staan hier vir my uit:

  1. Ek wonder hoekom ons niks lees van ’n gesprek tussen Josua en God vóór die geveg teen Ai nie. Kan dit wees dat Josua gedink het hulle is nou reg, hulle kan self verder regkom? Hulle het nie die Here se leiding nodig in die ou klein geveggie teen Ai nie? En dit terwyl ons nie ’n enkele tree kan gee sonder God nie!
  2. Jy kan nie maak soos jý wil, en dink dit is maar in orde nie. God eis onverdeelde trou aan Hom (vgl. Eks. 20:5) en verwag absolute gehoorsaamheid.
  3. Akan se hele gesin en al sy goed word uitgeroei. Dit klink vir ons verskriklik erg. Hoekom nie net Akan nie? Hoekom sy vrou en kinders en al sy besittings ook? Onthou, Israel is hier aan die begin van ’n nuwe era. God móés die reëls onmisverstaanbaar neerlê. Daarom was die straf so erg.

Ek wonder soms of ons regtig besef hoe ’n groot verantwoordelikheid daar op ons rus as kinders van God.