Hoofstuk van die dag: Judas

Van Judas, ’n dienaar van Jesus Christus en ’n broer van Jakobus. (Jud 1)

Judas, die skrywer van hierdie brief (eintlik is dit eerder ’n preek), was die broer van Jakobus, wat destyds die leier van die moedergemeente in Jerusalem was. Hulle was albei jonger seuns van Josef en Maria en halfbroers van die Here Jesus (Mark 6:3), maar hulle het nie in Hom geglo tydens sy aardse bediening nie (Joh 5:7). Iewers ná Jesus se opstanding het hulle ook begin glo, en later leiers in die vroeë kerk geword.
Dit is merkwaardig dat nóg Judas, nóg Jakobus, in hulle onderskeie briewe sê dat hulle Jesus se jonger broers is. Dit sou seker groot aansien vir hulle persoonlik gebring het. Maar hulle doen dit nie. Albei volstaan daarmee dat hulle dienaars van Jesus Christus is. Want dis hulle eintlike identiteit: dienaars van Jesus Christus.
Op die ou end is dit nie van belang wie jou ouers of jou broer of jou suster of jou persoonlike vriende is nie. Dís nie wat jou belangrik maak in hierdie wêreld nie. Jy is belangrik omdat jy ’n dienaar van Jesus Christus is. Soos Judas en Jakobus.
Daarom, tel jou kop op en dien Hom onbeskaamd.

Naskrif: Môre begin ons met Handelinge.




Hoofstuk van die dag: Judas Inleiding

Kyk gerus na hierdie kort video om ’n oorsig oor die hele brief te kry:




Hoofstuk van die dag: Judas

Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee. (vers 21)

Judas waarsku sy lesers in hierdie kort brief teen lidmate van die gemeente wat voorgee dat hulle glo, maar in werklikheid vertel hulle lewe ’n heel ander storie. Hulle leef in sedelose losbandigheid (vers 8), hulle besoedel die liefdesmaal van die gemeente deurdat hulle net vir hulleself sorg en skaamteloos uitspattig is (vers12), en boonop kla hulle gedurig, is ontevrede met hulle lot en leef selfsugtig. Hulle spog graag en smeer die heuningkwas kwistig vir eie voordeel (vers 16).
Jy ken waarskynlik ook sulke gemeentelede, en dink dalk dis nie so erg nie. Hulle is darem kerkmense. Judas sê reguit sulke mense is op pad hel toe (vers 13b).
Hoe ontkom ’n mens aan hulle bose invloed wat selfs die gemeente besoedel en verdeeldheid bring (vers 19)? Beslis nie deur net heeltyd teen die vals leraars te wees nie, want dit sal jou ook besoedel. Nee, fokus op ’n persoonlike en innige verhouding met God (vers 20). Dit behels ’n lewe van gebed en liefde, in die verwagting dat die Here Jesus se barmhartigheid vir jou ook insluit (vers 21).

Naskrif: Môre begin ons met die boek Esra.




Hoofstuk van die dag: Judas Inleiding

Kyk gerus na hierdie kort video om ’n oorsig oor die hele brief te kry: