Hoofstuk van die dag: Klaagliedere 5

Maar Ú, Here, U heers vir altyd, u troon staan vas van geslag tot geslag. (vers 19)

Die laaste lied in die boek is ’n tyd ná die verwoesting van die stad geskryf. Die invallers is weg met die buit en die room van die bevolking. Die stad se ruïnes het die plek geword waar jakkalse rondloop (vers 18). Die hele sosiale struktuur van die samelewing is vernietig. Dit het die mense weerloos gelaat teen geweld, uitbuiting en misbruik. Alles het in duie gestort en niks van die ou dinge het oorgebly nie.
Wat maak ’n mens in só ’n tyd? Die digter draai na God. Te midde van totale verwoesting is God immers nie saam met die stad verwoes nie. Hy bly die groot konstante midde-in die grootste ontwrigting en onsekerheid (vers 19). Daarom roep die digter na God (vers 1) en sluit hy af met ’n retoriese vraag waarin hy opnuut bely dat God hulle ondanks alles nie heeltemal verwerp het nie (vers 22).
So eindig die boek op ’n positiewe en hoopvolle noot. Dit is wat geloof doen. Geloof laat jou telkens weer na God draai, selfs in jou diepste nood; júís in jou diepste nood. Want al wankel alles en almal om jou, God bly.

Naskrif: Ons begin DV môre met die brief 2 Timoteus.




Hoofstuk van die dag: Klaagliedere 4

Die straf vir jou sonde is beëindig, Sion, die Here sal jou ballingskap nie laat voortduur nie … (vers 22a)

’n Mens kan jou nouliks die ellende indink wat hier beskryf word: hongersnood só erg dat ma’s hulle eie kinders slag en eet (vers 10); kinders smeek tevergeefs vir kos (vers 4); mense wat in die strate strompel en dood neerslaan van die honger (vers 5) te midde van hulle geliefde stad wat in puin lê. En hulle koning, hy na wie almal opgesien het vir beskerming en leiding, is gevang en weggevoer (vers 20).
Die wete dat hierdie verwoesting van die Here self kom (vers 11) en die besef dat dit hulle eie sonde is wat dit veroorsaak het (vers 13) dra aan die een kant by tot hulle verplettering, maar aan die anderkant is dit ook die bron van hulle hoop. Hulle sonde ís gestraf. Dit is nou verby. Die room van die land is weggevoer. Maar die Here is nog hulle God, en Hy sal die ellende nie vir altyd laat voortduur nie (vers 22).
Dít is die hoop waarmee ons vandag nog leef – dat ons lewe en ons toekoms in God se hand is. Hy draai nie sy rug op jou nie.




Hoofstuk van die dag: Klaagliedere 3

Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. (vers 24)

Die eerste hartverskeurende deel van hierdie klaaglied (vers 1-17) verskil dramaties van die tweede deel, wat ’n heel ander toon het, en selfs hoopvol is.
Hoe verklaar ’n mens dit? Wat het die wending by die digter gebring?
Dit lyk my iets het in die digter se hart gebeur. In die eerste 17 verse is hy net kwaad en voel hy ver verwyder van God. God is sy vyand, glo hy, en hy is só ontnugter daaroor dat hy nie eens God se Naam wil uitspreek nie. Hy praat die heeltyd oor wat God doen, maar hy praat van “Hy”. God is ver en onpersoonlik, ’n voorwerp vir wie hy kwaad kan wees.
In vers 18 kom die wending. Hy begin weer aan die Here dink as Iemand wat met hom besig is, iemand met wie hy kan praat. Dit bring hom daartoe dat hy begin dink oor die Here en hoe hy Hom oor die jare leer ken het, en besef dan dat wat met hom gebeur, nie kom van ’n God wat behae put in hulle ellende nie, maar omdat hulle ongehoorsaamheid Hom daartoe gedwing het.




Hoofstuk van die dag: Klaagliedere 2

Die Here het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het, Hy het die woord in vervulling laat gaan wat Hy lank gelede al afgekondig het. (vers 17)

Die digter teken met verbystering ’n prentjie van die totale vernietiging wat die stad getref het. En dis of hy nie kan glo dat dit God is wat dit gedoen het nie. Hy, wat altyd die Bron van hulle vreugde was, is nou die Bron van smart. Hy het hulle vyand geword en matelose ellende gebring (vers 5). Hy het selfs die tempel vernietig sodat die aanbidding daar onmoontlik geword het en moes staak (vers 6). Hy het verwoes en geen genade betoon nie (vers 17).
Geen wonder nie dat die digter se moed gebreek is, want die ellende van die mense wat oorgebly het, is onvergelyklik hartverskeurend (vers 13).
Dit dompel die digter in ’n geloofskrisis. Die genadige God is weg. Dit lyk of Hy oorboord gegaan het met sy straf. Dit skok die digter dat die Here wat hy sy lewe lank geken het, só kan wees. God se oordele behoort die vyande te tref, nie vir hulle nie!
Soms is ek en jy ook verslae oor wat God doen. Maak dan soos die digter en worstel met God daaroor.




Hoofstuk van die dag: Klaagliedere 1

  • Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is. (vers 11)

Die digter van die boek Klaagliedere beween die lot van Jerusalem en haar inwoners nadat Nebukadnesar se magte die stad en die tempel verwoes het en die room van die bevolking in ballingskap weggevoer het. Die eerste lied beskryf die totale verwoesting en ellende en troosteloosheid van die stad en haar inwoners. Elkeen van ons wat al in ’n situasie van hopeloosheid was, kan met dié smartkreet identifiseer.
Meestal soek ons ’n oorsaak vir ons ellende. Dikwels kry ander die skuld daarvoor, en uiteindelik wys ons die vinger ook na God. Hy is immers in beheer van ons lewens; Hy kon ons die ellende gespaar het as Hy wou. Maar Hy het nie. Dis byna die ergste: God kon, maar Hy het nie.
Dis merkwaardig dat die digter nie vir God blameer vir hulle ellende nie. Hy het wel alles daarmee te maak, maar dis hulle eie sonde wat hulle ingehaal het (vers 14).
As jy in jou nood nie ’n beskuldigende vinger na God wys nie, maar jou hande in nood en gebed na Hom opsteek (vers 20), kan jy weer begin hoop. God is groter as jou ellende. Daaraan moet ons vashou.




Hoofstuk van die dag: Klaagliedere (Inleiding)

Hierdie videotjie sal vir jou ’n goeie oorsig oor die boek gee: