Hoofstuk van die dag: Kolossense 4

Aristargos, wat hier saam met my gevange sit, stuur vir julle groete; ook Markus, die neef van Barnabas. Oor hom het julle reeds opdragte gekry: as hy daar by julle kom, moet julle hom gasvry ontvang. (Kol 4:10)

’n Mens kan byna nie glo wat Paulus hier skryf nie. Ons lees immers in Handelinge van ’n groot agterdog en selfs verwerping by Paulus teenoor Markus. Markus was deel van Paulus en Barnabas se eerste sendingreis, maar het kort ná die reis begin het, tou opgegooi (Hand 13:13). Met die tweede sendingreis het Paulus volstrek geweier om Markus weer ’n kans te gee (Hand 15:37-39).
Dit lyk egter of Paulus se hart later teenoor Markus versag het. Tydens Paulus se eerste gevangenskap in Rome was Markus by hom (Kol 4:10). Daarna het Markus blykbaar na Asië gereis en toe Paulus vir die tweede keer in Rome in die gevangenis was, was Markus op pad daarheen om die apostel tot hulp te wees (2 Tim 4:11).
Markus en Paulus se samewerking het op ’n slegte noot begin. Paulus het hom aanvanklik afgeskryf, maar tog het hulle later medewerkers geword (Filem 24). Deur die Here se genade kán stukkende verhoudings herstel en tot seën wees. Jou stukkende verhoudings ook!

Naskrif: Ons volgende boek is 1 en 2 Kronieke. Dit is die enigste Bybelboek wat ons nog nie saam gelees het nie. Ons vertrek egter eersdaags vir ’n maand se kuier by ons tweede dogter in die VSA. Ek kan dus nie ’n besliste datum gee wanneer ek die dagstukkes gaan hervat nie. Intussen – seënwense van my en Elmien.




Hoofstuk van die dag: Kolossense 3

Wees altyd dankbaar. (Kol 3:15)

In hierdie kort brief kom die begrip dankbaarheid soos ’n refrein voor. Nie minder nie as 10 keer in die brief roep Paulus die gemeente op tot dankbaarheid. En Paulus sit in die tronk (4:18b)!
Wat is sy geheim? Paulus se besef hoe baie die Here God vir hom gegee het en elke dag beteken.
As antwoord op die gawes van God, sê Paulus, moet ons dankbaar wees. God verwag nie dankbaarheid sonder om eers aan óns iets te gee nie. Hy red ons, Hy gee aan ons sy liefde en kies ons om sy volk te wees, Hy gee aan ons sy vrede, en eers dán vra Hy van ons ’n antwoord.
Ware dankbaarheid is om vol blydskap en toewyding teenoor God te lewe in die wete dat jou hele lewe deur Hom omvou word. Dít is ’n lewe gerig op God, met ’n lied in die hart en op die lippe, vol van die liefde en vrede wat God aan ons in oorvloed gegee het en elke dag nog gee.
As jou oë werklik oopgegaan het vir die onbegryplike wonder van God se genade, sal jy óók in dankbaarheid teenoor God dit elke dag uitjubel en uitleef.




Hoofstuk van die dag: Kolossense 2

… in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. (Kol 2:7, 2020-vertaling)

Gister het ons gesien dat ons fyn moet luister om God se wil te kan ken. Dis nie ’n klomp moets en moenies nie. In die eerste plek wil Hy ons bind aan sy Seun, sodat ons Hom kan navolg.
Dit tref mens dat Paulus dankbaarheid as die vrug van só ’n lewe uitsonder (vers 7). ’n Lewe wat letterlik ‘oorvloedig is in dankbaarheid.’ Miskien is dít juis die diepste nood van ons dag: dat ons danklied stil geraak het omdat ons binnekamer leeggeloop het; omdat – in die woorde van Augustinus – ‘die mure van die kamer van my siel omgeval lê …’
Om hierdie oorvloedige dankbaarheid te beleef, is dit nodig om die deur eers toe te trek. Vroeg soggens voor die dag se geskarrel begin. Saam as ’n gesin om die kombuistafel. Iewers deur die dag by die eet van ’n toebroodjie. Saans as ons ons moeg neerlê.
Om te kan volhard, gehoorsaam aan ons roeping, is dit allereers nodig om eenkant te gaan bid vir ons lewe in Christus. En vir Christus in ons lewe.




Hoofstuk van die dag: Kolossense 1

Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. (Kol 1:9-10)

Paulus bid vir die Kolossense, dat hulle sal leer om te luister en tyd sal maak om by God stil te word. Ons lewe is aan die gang. Daar is elke dag ’n lys dinge wat gedoen moet word. Stiltetyd word ook maar een van die dinge op die lys. Maar verhoudings vra tyd; so ook ons verhouding met God. En God word nie sommer in ons skedule ingepas nie. So asof God nou gou moet praat, terwyl ons ’n oomblikkie tyd het!
Om ’n luisterende gelowige te wees, vra dat jy doen en leef volgens wat jy gehoor het. Paulus sê: “Mag julle vrugte dra deur goeie werke” (vers 10). Wanneer God praat, stel Hy jou in staat om iets te gaan doen. Hy leer en rus jou toe om ’n verskil te maak in jou wêreld. Om die hande en voete van Jesus te gaan wees. Om ’n verskil te maak aan die gemeenskap waarbinne ons leef.
Mag jy die wil van God ken!




Hoofstuk van die dag: Inleiding

Verfris jou geheue met hierdie oorsig oor die brief:




Hoofstuk van die dag: Kolossense 4

 Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om ’n ieder en ’n elk te antwoord. (vers 6, 2020 vertaling)

Paulus druk hier op ’n baie seer plek in ons moderne samelewing. Om ’n wag voor jou mond te sit, is nie meer die inding nie, en nou praat ek ongelukkig nie net van ongelowiges nie.
Sosiale media help die vervlakking aan, want daar kan jy die ander een na hartelus slegsê. Of selfs kragwoorde gebruik om jouself mee uit te druk. Dit lyk my mense se byvoeglike naamwoorde en bywoorde is deesdae uiters beperk; seker dié dat die f-woord so baie gebruik word.
’n Ander euwel wat sekerlik ook hier genoem moet word, is skinder – daardie sappige storie ten koste van iemand anders, met ’n stertjie hier en daar. Dis mos onskuldig, dan nie? Paulus dink nie so nie. Hy lys skinder saam met ’n klomp ander afskuwelike sondes (Rom 1:28-31). Dit word ook in Levitikus verbied (Lev 19:16).
Nee wat, ons wat die Here liefhet, praat nie so nie. Ons dink voor ons praat (of skryf). Wat ons sê, getuig van goeie smaak en is met sout besprinkel. Dit gee smaak aan enige gesprek.

 

Naskrif: Môre lees ons verder aan die boek Psalms. Ons begin by Psalm 101