Hoofstuk van die dag: Lukas 1

Daarom, geagte Teofilus, het ook ek dit goedgedink om self alles stap vir stap van voor af noukeurig te ondersoek en dit in volgorde vir u neer te skryf … (vers 3, 2020-vertaling)

Anders as die ander Evangeliste, begin Lukas met ’n verduideliking vir sy “verhaal” (vers 1). Sy verhaal is nie uit die duim gesuig nie, maar die produk van deeglike navorsing van ander bronne (waarskynlik onder andere die Evangelie van Markus) en die raadpleging van ooggetuies en dienaars van die Woord.
Hierdie inleiding gee vir ons ’n kykie in hoe die Gees verskillende mense gebruik het om hulle deel van die Bybel neer te skryf. In Lukas se geval het dit gekom met harde werk. Goddelike inspirasie is iets anders as ’n diktee deur die Heilige Gees, met die skrywer bloot ’n instrument. Die Bybel is die produk van God se leiding, én menslike arbeid. Dit is God se Woord én mensewerk. Verstommend.
Die skrywer was waarskynlik die geneesheer Lukas (vgl Kol 4:14 en 2 Tim 4:11). Hy noem sy leser Teofilus. Die naam beteken “iemand wat God liefhet”. Ons weet nie wie hy was nie, maar ons kan onsself in dié naam terugvind. Die Evangelie is geskryf vir jou wat God liefhet. Wat ’n voorreg!




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Lukas 1-9

Kyk na hierdie kort video om ’n goeie oorsig oor die eerste deel van die Lukas-Evangelie te kry:




Hoofstuk van die dag: Lukas 24

Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. (vers 21)

Verwarring, teleurstelling, ’n warboel van emosies. Dís hoe die dissipels was op daardie eerste Paassondag. Eers ontdek Jesus se ma en haar vriendinne dat die graf leeg is. Twee engele vertel hulle dat Jesus uit die dood opgewek is (vers 6) en herinner hulle aan Jesus se woorde. Maar die elf glo hulle nie en is eerder ontsteld (vers 11 en 22). Dis sommer ouvroustories.
Petrus gaan kyk tog en sien die leë graf, en gaan verwonderd terug. Maar steeds glo hulle nie, want Jesus verwyt hulle oor hulle twyfel (vers 25 en 38).
Die Emmaus-gangers verduidelik die probleem. Hulle het gehoop Jesus was die Een, maar Hy was toe nie, het hulle besluit. Hy is dan dood en begrawe.
Dalk sukkel jy ook daarmee – dat jy die Here vooruitloop en teleurgesteld raak as dinge nie dadelik regkom nie – as jou vurige gebede nie dadelik uitkom nie, die stukkende verhouding nie oornag heel nie, jou finansies ’n gemors bly. Jy het so gehoop God sal iets doen, en kyk nou!
Dis waar ons vertroue dat God weet wat Hy doen, nodig het.

Geseënde Paasfees!




Hoofstuk van die dag: Lukas 23

Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. (vers 24)

Pilatus het geweet Jesus is onskuldig; trouens, hy het dit self drie maal gesê (vers 4, 14 en 22). Selfs Herodes Antipas kon nie skuld in Hom vind nie (vers 15). Tog stuur Hy Jesus na Golgota. Sy eie politieke posisie, sy vrees vir die woedende Jode en sy gerief weeg swaarder as reg en geregtigheid.
Ons Here is gekruisig omdat Pilatus eiebelang gekies het en teen sy beterwete in ’n onskuldige laat doodmaak het en ’n moordenaar vrygelaat het.
Gedienstigheid, selfsug, kruiperigheid, vrees, gierigheid, populariteit – vandag nog maak mense keuses om al die verkeerde redes. Ons sien dit in die politiek, by die werk, selfs tussen vriende. Die maklike uitweg is egter meestal die verkeerde een. Ons keuses as gelowiges mag nooit deur eiebelang gemotiveer word nie. Nee, ons keuses moet gewortel wees in die Christelike waardes van liefde, waarheid, nederigheid, bedagsaamheid.
Tot vandag toe stink Pilatus se naam omdat hy ’n swakkeling was wat nie wou opstaan vir wat reg is nie. Spreuke 22:1 sê: “’n Goeie naam is meer werd as groot rykdom, die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud.”
Op grond waarvan maak jý jou keuses?




Hoofstuk van die dag: Lukas 22

Toe antwoord Hy hulle: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal ’n man wat ’n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan …” (vers 10)

Wanneer ’n mens die hoofstuk met aandag lees, kan jy beswaarlik ongeroerd bly. ’n Mens moet eintlik net hierdie gebeure bedink en herbedink, totdat jy in die gees by Jesus in sy laaste ure is.
Die laaste pasga saam met sy dissipels was vir Jesus baie belangrik. En Hy het geweet dat Judas agteraf met die Joodse Raad konkel om ’n goeie tyd en plek te kry om Hom oor te lewer. Daarom dat Hy so ’n om-die-draai aanwysing vir Petrus en Johannes gee oor waar hulle die pasgamaal moes voorberei. Judas moes nie weet waar dit is nie, want dan het die soldate Hom by die pasga gevang.
Jesus het presies geweet wat aan die gang is en wat op Hom wag. Daarom sien ons Hom later die aand, beangs en smekend voor sy Vader (vers 44). Die worsteling in Getsemane was die keerpunt. Menslik gesproke kon Hy nog kop uittrek, maar Hy doen dit nie, wel wetende wat op Hom wag.
Sy liefde vir jou en my laat Hom deurdruk.




Hoofstuk van die dag: Lukas 21

As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby. (vers 28)

“Hierdie dinge” waarvan die Here hier praat, is die wêreld wat op sy kop gaan staan, en alles is deurmekaar. Die klimaat sal net nie meer dieselfde wees nie: “die kragte van die hemelruim sal ontwrig word” (vers 26). Vroeër in die hoofstuk praat die Here van vals leiers (vers 8), van oorloë (vers 10), aardbewings, hongersnode en epidemies (vers 11), vervolging (vers 12).
Hierdie dinge is om ons aan die gebeur. ’n Mens kan dit nie miskyk nie.
Wat is ons roeping in hierdie tyd? “As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.” Dis asof die Here vir ons wil sê: Moenie julle blind staar teen die dinge wat om julle gebeur, asof dit die einde van die wêreld is nie! Sien en hoor in dié dinge dat Ek aan die kom is! Dat die einde naby is! Dat julle op pad is na die ewige heerlikheid! Lig op julle koppe en julle oë, kyk na die wolke van die hemel, want daarvandaan gaan Ek weer kom in heerlikheid!
Daar is ook ’n ander manier: “As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.” Dis asof die Here vir ons wil sê: Moenie julle blind staar teen die dinge wat om julle gebeur, asof dit die einde van die wêreld is nie! Sien en hoor in dié dinge dat Ek aan die kom is! Dat die einde naby is! Dat julle op pad is na die ewige heerlikheid! Lig op julle koppe en julle oë, kyk na die wolke van die hemel, want daarvandaan gaan Ek weer kom in heerlikheid!