Hoofstuk van die dag: Markus 15

Josef het ’n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ’n graf wat in die rots uitgekap was. (vers 46)

Dit is insiggewend om te lees hoe Markus oor Jesus se dood skryf. Die offisier by die kruis was diep getref: “Toe die offisier … Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: ‘Hierdie man was werklik die Seun van God.” (vers 39) En Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is (vers 44). Jesus se sterwe was nie die gewone dood van ’n mens wie se liggaam ingegee het nie. Hy het Homself aan die dood oorgegee, en daarom baie gouer gesterf as wat verwag is. Soos met sy hele lewe was Jesus in beheer, ook van sy sterwe.

Al vier Evangelies berig dat Jesus begrawe is, want dit is ’n belangrike gebeurtenis. Sy begrafnis is die bewys dat sy dood nie net skyn was nie. Hy het nie maar net in ’n diep slaap ingegaan en die Sondag weer wakker geword nie. Hy het regtig gesterwe, sodat Hy uit die dood kon opstaan.

Jesus is Oorwinnaar oor graf en dood!




Hoofstuk van die dag: Markus 14

Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe. (vers 26)

Hierdie hele hoofstuk vertel die verhaal van hoe Jesus in sy nood in die steek gelaat is en hoe sy lewe einde se kant toe staan. Die priesterhoofde en skrifgeleerdes beplan sy dood; die mense naaste aan Hom mor oor die liefdesdaad van ’n vrou aan Hom; Judas beplan sy verraad; Petrus se belofte dat hy by Jesus sal staan, is net ydele woorde; in Getsemane ondersteun sy dissipels Hom nie; al die dissipels hardloop weg. Voorwaar ’n droewige prentjie.

Dis teen hierdie hartseer agtergrond dat Jesus die laaste keer die pasgamaaltyd saam met sy dissipels eet. En dan, aan die einde van die maaltyd, sing hulle die Groot Halleel (Lofsang) saam. Lees gerus hierdie lofsang in Psalm 115 tot 118, veral 116. Wat ’n aangrypende lied om in hierdie omstandighede te sing!

Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered. (Ps 116:6)




Hoofstuk van die dag: Markus 13

Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. (vers 33)

Terwyl hierdie ’n baie emosionele tyd vir Jesus moes gewees het, en Hy begin afskeid neem van die lewe tussen sy mense, is die dissipels steeds op ’n heel ander bladsy. Hulle is beïndruk met Herodes se fantastiese tempelkompleks (vers 1), terwyl Jesus in diepe droefheid is oor die stad en haar mense, want Hy weet die stad sal met die grond gelyk gemaak word (vers 2).

Dan begin Hy met hulle praat oor die toekoms, van die rampe en ellende wat wag. Ons moet hier versigtig wees, want alles wat Jesus voorspel, hou nie verband met die wederkoms nie. ’n Groot deel van sy profesieë gaan oor die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. Hy praat wel ook oor die wederkoms. Niemand weet wanneer die wederkoms sal plaasvind nie, nie eers Hyself nie! (vers 32)

Dit het nie sin om te probeer uitwerk wanneer Hy weer gaan kom nie. Dit sal onverwags gebeur, en daarom moet ons elke dag gereed wees. Dalk kom Hy vandag. Hoe wonderlik sal dit nie wees nie!

Kom, Here Jesus, ja, kom haastig!




Hoofstuk van die dag: Markus 12

Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” (vers 29-31)

Ons het Jesus se antwoord oor die grootste gebod al soveel keer gehoor dat ons dit nie eintlik meer hoor nie. Of dalk hoor ons dit, maar leef ons dit nie.

Ek dink dis nou ’n goeie tyd om weer ’n keer diep oor Jesus se woorde na te dink. Is jou lewe, jou fokus, jou passie, jou drome só volledig op God gerig soos wat Jesus ons hier leer? Maak vandag tyd om dit voor die Here uit te maak. Waar is jou hart regtig?

En as jy dit by God uitgeklaar het, dink weer oor die implikasies van om jou naaste lief te hê soos jouself. Dit beteken mos dat jy jouself in jou naaste se skoene moet plaas en dink wat sal vir hom of haar goed wees.