Hoofstuk van die dag: Miga 7

Wie is ’n God soos U? (vers 18)

Te midde van ’n see van ongeloof en spotters, bly Miga rotsvas glo: “Maar ek sal vertrou op die Here,” hou hy vol (vers 7). Wanneer alles om jou verkeerd is en mense spottend vra waar is die God op Wie jy hoop, is dit juis die tyd om jou oë op Hom te rig. Dís wanneer jou geloof groei, want jy ontdek in sulke oomblikke dat God jou nie los nie.

Daarom breek Miga aan die einde van die hoofstuk in ’n loflied uit. Niemand is soos God nie – Hy is genadig, Hy vergewe, Hy bly getrou.

Die bekende Switserse teoloog Karl Barth het Hom die Gans Andere genoem; heeltemal anders. Hy pas in geen boksie in nie. Hy is die Een wat ons bly verras, juis omdat Hy nie soos ons is nie. Omdat Hy nie wrokkig is nie. Omdat Hy al ons sonde in die diepsee gooi.

As God nie só was nie, het nie een van ons dit gemaak nie, en sou ons nie met hoop kon leef nie.

Dalk is dit ’n goeie tyd om nou stil te word in verwondering voor God en saam met Miga te jubel: Wie is ’n God soos U?

NB: Ons begin môre met die boek Openbaring.




Hoofstuk van die dag: Miga 6

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. (vers 8)

Kyk ’n mens terug op jou lewenspad, is daar baie dinge waar jy die hand van die Here kan sien. In vers 4 en 5 herinner Miga die Jode daaraan. Ons kan God nie op enige manier daarvoor vergoed nie. Die enigste antwoord op dié seëninge is om die Here daarvoor te eer. Maar hoe?

Miga antwoord kort en saaklik (vers 8):

  • Jy moet die reg liefhê en daarvolgens leef.
  • Jy moet ’n genadige mens wees teenoor ander.
  • Jy moet beskeie voor God leef, in erkentlikheid dat Hy die Een is wat sorg en in beheer is van jou lewe.

Die Jode het dié toets liederlik gedop (vers 9-12). Daarom het die oordeel van die Here hulle getref. Jerusalem is verwoes en die mense in ballingskap weggevoer (vers 16).

En ons?




Hoofstuk van die dag: Miga 5

Hy sal vrede bring. (vers 4)

Ons weet vandag wie die Een is van wie Miga profeteer: die Here Jesus. Matteus (2:6) haal dié voorspelling aan wanneer hy skryf oor die geboorte van Jesus in Betlehem. Jesus is die Vredevors (Jes 9:5) wat in ’n wêreld waar alles deurmekaar is, aan ons die vrede skenk wat alle verstand te bowe gaan (Fil 4:7).

Dit beteken nie dat ons armpies gevou kan sit en kyk hoe die Here Jesus regeer nie. Ons moet tot seën vir ons omgewing te wees, soos reën en dou die aarde benat (vers 6). Dikwels kom dié seëninge in die stilte, byna ongemerk, deur ons lewens (soos Jesus in Matt 5:13 gesê het – ons is die sout vir die aarde). Maar gelowiges is nie swakkelinge wat bloot toeskouers in die wêreld is en dan hoop vir die beste nie. Ons moet soos leeus (vers 7) sterk staan in ons oortuigings en opstaan vir wat reg is.

Natuurlik is dit nodig om hand in eie boesem te steek voordat ons vir ander iets kan beteken. Daarom moet ons seker maak ons stel ons vertroue op die Here alleen, en nie op mag (vers 9-10) of ander sekerhede (vers 11-13) nie.




Hoofstuk van die dag: Miga 4

Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom. Die Here die Almagtige het dit gesê. (vers 4)

Hierdie profesie kom uit ’n tyd toe die al slegter met Juda gegaan het. Die skrif was eintlik al teen die muur. Miga bevestig dit in vers 14. Oral is die boosheid en onreg duidelik sigbaar, soos Miga in hoofstuk 1 uitwys.

Dit klink so half bekend, nie waar nie? Die wêreld om ons stuur op ’n ramp af, en ’n mens wonder waar dit alles gaan eindig. Jy wil jou hande in die lug gooi en moedeloos op ’n hopie gaan sit.

Dis die een kant van ons realiteit. Daar is egter ook ’n ander kant, en dis waaraan Miga ons herinner: die realiteit van God se regering en die sekerheid van die toekoms, waar vrede sal heers omdat God in beheer is en sy woord en wil bekend is.

Ons kan nou reeds iets van dié vrede in ons eie lewens ervaar, omdat ons in God se teenwoordigheid leef. En wanneer ons vanuit dié vrede leef, maak ons nou al die toekomstige vrede in die wêreld sigbaar. Ons lewens is die vensters waardeur die wêreld die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, kan sien.




Hoofstuk van die dag: Miga 3

Ek, daarenteen, het baie krag, ek het die Gees van die Here, ’n sin vir reg en die moed om aan Jakob sy sonde bekend te maak, aan Israel sy oortreding. (vers 8)

In ’n omgewing waar onreg, korrupsie en immoraliteit aan die orde van die dag is, waar leiers omgekoop word en die weerloses soos slagskape behandel word, is integriteit ’n skaars kommoditeit. Soos Miga sê: ’n Sin vir reg en die moed om aan mense hulle sonde bekend te maak. Dís wat nodig is om ’n land (óns land!) weer op koers te kry.

Dié moed kom van die Gees van die Here; die moed op om te staan vir wat reg is en te baklei teen wat verkeerd is en teen wie verkeerd is.

Ons land het dié moedige mense nodig! Geesvervulde verontwaardiging en moed en daadkrag.

Geld onder die tafel deur om ’n kontrak te kry of om besluitnemers te beïnvloed of beamptes anderpad te laat kyk – ons wéét dis verkeerd. Ons doen dit nie. Maar in ons persoonlike lewe? Teenoor jou gesinslede, teenoor kollegas en werknemers, teenoor bure? Waar ek en jy moet lééf wat ons bely, onkreukbaar, regverdig, billik, wetsgehoorsaam – getuig dit ook van Geesvervuldheid?




Hoofstuk van die dag: Miga 2

Ek sal julle almal bymekaarmaak, Jakob, Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het … (vers 12)

Ons het hier met ’n debat tussen Miga en die vals profete te make.

In verse 1-5 lewer Miga ’n striemende aanval op die maghebbers en sakelui wat die reg vertrap en weerlose mense uitbuit. Die Here sien dit en sal uiteindelik die grond wat die uitbuiters geroof het, van hulle afvat en dit aan ander gee (vers 5). Jy kan nie mense beroof en dink dit raak nie jou verhouding met God intens nie.

Die vals profete probeer Miga stil maak en die mense paai en na die mond praat. Die Here sal nooit so iets toelaat nie, beweer hulle (vers 6-7).

Miga het egter nuus vir die vals profete. Hulle het God se vyand geword omdat hulle nie die maghebbers aanspreek nie (vers 8-9) en valse gerustheid predik (vers 11). Só beroof hulle die weerloses van hulle goed en waardigheid. Jou godsdiens word sigbaar in die manier waarop jy mense behandel.

Tog is oordeel nie die laaste woord nie. Daar kom ’n tyd dat God self sal ingryp en vir die mense ’n herder wees (vers 12-13).