Hoofstuk van die dag: Nahum 3

Jy is verwoes, en jy sal nie herstel nie, jou wond is dodelik; almal wat die tyding oor jou verneem, klap hande daaroor, want wie het nie almal voortdurend onder jou wreedhede gely nie? (vers 19)

Nahum se profesie oor die seker ondergang van Nineve gaan oor méér as net die Assiriërs en hulle ongebreidelde magslus. Dit gaan daaroor dat die Here enige vorm van magsmisbruik verafsku. En dit gaan nie net oor vergrype teen die Godsvolk nie; trouens, Juda is glad nie ter sprake in hierdie uitspraak nie. God is nie net besorg oor wat aan sy volk gedoen word nie, Hy is begaan oor die hele wêreld. Alle volke en mense is aan Hom rekenskap verskuldig.
So word Nineve die simbool van die wrede, onmenslike, gevoellose uitoefening van mag. Waar dit gebeur, gryp God genadiglik in en vernietig Hy sulke magte. Ons vind ’n eggo van hierdie profesie in Op 18 waar die val van Babilon voorspel word. Ook Babel was ’n allesvernietigende mag, en in Openbaring is Babel ’n kodewoord van Rome en die Romeinse staat.
God slaap nie, wil Nahum ons verseker. God waak oor die mensdom, en gryp in as dinge hand-uit ruk. Dít is die uiteindelike troos van die boek.

Naskrif: Môre begin ons met 2 Petrus.




Hoofstuk van die dag: Nahum 2

Waar is die lêplek van die leeus nou, die jagveld van die jong leeus? (vers 11)

Die konings van Assirië het hulleself graag met leeus geassosieer. Die reliëfbeelde op die mure van Nineve het talle leeus bevat, want hulle het geglo hulle is soos die koning van die diereryk: magtig en onoorwinlik. Maar wanneer God ingryp, bewe die Assiriërs van angs en almal vlug voor sy aanslag (vers 8).
Só seker is Nahum van Assirië se val dat hy selfs ’n spotlied dig oor hulle ondergang (vers 11-13), al is Nineve nog nie verwoes nie.
Die sterkste mag op aarde vertoon maar paniekerig en pateties wanneer dit in verband gebring word met God se mag. Wie net vaskyk in aardse magte, kan maklik onder die indruk van hulle geweldige sterkte kom. Dit is omdat ons God uit die oog verloor. Die geweldige krag van aardse magte lyk anders wanneer ons – soos Nahum – eers fokus op God en dan na die magte om ons kyk.
In Jes 41:10 stel die Here dit só: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”




Hoofstuk van die dag: Nahum 1

Die Here is goed, Hy is ’n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil. Maar met ’n vloed wat alles meesleur, vee Hy die plek weg waar Nineve lê, jaag Hy sy vyande die duisternis in. (vers 7-8)

Die wêreldmoondheid van Nahum se tyd, die Assiriërs, word allerweë beskou as van die wreedste onderdrukkers van alle tye. Hulle het die Noordelike Ryk van Israel van die aardbol gevee. Hulle het hulle mag deur vrees behou.
Die eerste profeet wat Assirië en die hoofstad Nineve in die oog gehad het, was natuurlik Jona, wat meer as ’n eeu voor Nahum opgetree het. Toe het die mense van Nineve hulle bekeer (Jona 3), maar dit was net tydelik.
Nahum se profesieë waarsku die Assiriërs dat hulle mag nie vir altyd sal duur nie. God verdra die sondaar, maar daar is ook perke aan sy geduld, en die Assiriërs het dié perke oorskry (vers 3).
Vir ons vandag is die boodskap: God is liefdevol en genadig, maar Hy is veel meer as dit. Hy is ook regverdig en haat sonde. Ons durf nie met sonde speel of dit verdra nie, maar dié wat by Hom skuil, kan hulle koester in God se almag en goedheid (vers 8).




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot die boek Nahum

Kyk gerus na hierdie kort video om ’n oorsig oor die boek te kry: