Hoofstuk van die dag: Jeremia 50

Dan, in daardie tyd, sê die Here, sal daar navraag gedoen word na die sonde van Israel, na die oortredings van Juda, maar daar sal niks wees nie, niks gevind word nie, want Ek sal die sonde van dié wat Ek laat oorbly, vergewe. (Jer 50:20)

Jeremia kondig die einde van die Babiloniese Ryk aan toe Nebukadnesar op die toppunt van sy mag was. Die Galdeërs was vermakerig teenoor die volkere wat deur hulle onderwerp is (vers 11). Hulle het hulle eie bloeddorstigheid ontken en gesê dit was Juda se eie skuld (vers 7).
Babel was wel ’n instrument in God se hande om sy volk te tugtig, maar dit beteken nie dat die manier waarop hulle te werk gegaan het, God se goedkeuring weggedra het nie. In die proses het hulle God se eer aangetas. So het Babel later in die Bybel die simbool van opstand teen God geword (vgl Op 14:8).
Die val van Babel gaan ook ’n hartsverandering by Israel en Juda bring. Hulle sal weer na die wil van die Here vra (vers 4-5) en hulle verbond met God hernuwe. In God se oë sal dit wees asof daar nooit sonde was nie, want Hy sal dit vergewe (vers 20).
By God is daar altyd hoop!




Hoofstuk van die dag: Nehemia 13

Ek het met die mense geraas, hulle vervloek, party van hulle geslaan, hulle hare uitgetrek en hulle voor God ’n eed laat aflê … (vers 25)

Nehemia se optrede hier kan ’n mens nogal verbaas. Soos die uitlegger in Die Bybellennium ewe droog opmerk: “Sy optrede teen hierdie oortreders pas nie by iemand van sy statuur nie.” In skrille kontras hiermee lees ons hoe Esra op presies dieselfde sonde van die volk gereageer het (Esra 9:3 e.v.) – hy het in rou sy klere geskeur, sy hare en baard uitgetrek en verslae gaan sit, en teen die aand tot God gebed om vergifnis, waarin hy hom volledig deel van die volk en hulle sonde stel. Jy kan gerus Esra se aangrypende gebed in Esra 9:6-15 lees.
As jy jou selfbeheersing verloor, selfs al is jou ontsteltenis hóé geregverdig, verloor jy. Dis nie hoe ’n gelowige optree nie.
Ons kan vrae vra oor hoe Nehemia hier opgetree het, maar oor sy ywer vir God se saak is daar geen vraagteken nie. Dit het immers nie vir hom gegaan oor wat hý wil en nie wil nie; dit het gegaan oor God se eer wat neerslag moet vind in die gemeente se doen en late. Was daar maar meer mense met sy passie!

_Naskrif:_ Môre doen ons die brief van Judas.




Hoofstuk van die dag: Nehemia 12

Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor. (vers 43)

Teenoor wat hier oor die fees van die muur-wyding geskryf word, lyk ons eie kerklike feeste maar vaal. Ons is nie geneig om uitbundig fees te vier nie. Ons dink ingehoue en innerlike blydskap is genoeg, soos Mikal wat vir koning Dawid verwyt het omdat hy voor die ark uit gedans het (2 Sam 6:16). Uitbundigheid is ligsinnig, dink baie. Daarom sing ons “Prys die Heer met blye galme!” met stroewe gesigte, sonder ’n sweem van ’n glimlag. Ons lyftaal weerspreek ons woorde. Maar as ons geestelike vreugde nie liggaamlik uitdrukking kry nie, is daar fout, wil Nehemia vir ons sê. ’n Feeslose fees.
As ’n mens lees oor die instelling van die Ou Testamentiese feeste, val dit ook op. In Deut 16:14, waar die voorskrifte vir die huttefees gegee word, staan: “Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, al die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees van jou omgewing.”
Ook hierdie dag is ’n gawe van God. Laat ons juig en bly wees (Ps 118:24).




Hoofstuk van die dag: Nehemia 11

Die volk het egter al die manne geprys wat aangebied het om in Jerusalem te woon. (vers 2)

’n Stad sonder mense was nie veel werd nie. Daar was inwoners nodig om die stad te beveilig en te verdedig teen aanvallers. Die leiers het wel in die stad gewoon, maar die ander het verkies om elders te woon (vers 1). Daarom reël Nehemia dat ’n tiende van die mense geloot moet word om Jerusalem te bevolk.
Tog was daar vrywilligers, tot groot verligting van die ander. ’n Mens kan maar net wonder hoekom hulle bereid was om in ’n “dooie” stad te gaan woon. Dalk het hulle, soos die geloofshelde waarvan die Hebreërskrywer ons in Heb 11 vertel, ’n geloofsoog gehad vir wat God kan doen, noudat Jerusalem se mure herstel is.
Ons leef ook in die spanning van die heerlikheid wat God beloof, en die frustrasie van ons huidige situasie, waar dié beloftes soms onbereikbaar lyk. Dan moet ons op God se beloftes fokus in die geloof dat daar ’n dag sal kom wanneer dit waarop ons hoop, waar sal word. Heb 11:16 sê: “Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.”




Hoofstuk van die dag: Nehemia 10

Hulle het ’n dure eed afgelê om te leef volgens die wet van God wat deur Moses, die dienaar van God, aan die volk gegee is, en om gehoorsaam te wees aan al die gebooie van die Here, ons Here, en aan sy bepalings en voorskrifte. (vers 29)

Ons tref in die Nuwe Testament ’n heel ander gemeenskap aan as in die Ou Testament. Die onderhouding van die wet en die oorleweringe van die voorvaders is iets wat eers sedert Nehemia se tyd belangrik geword het. Die hervormings onder leiding van Esra en Nehemia het ’n blywende merk op die volkslewe gehad. Nooit weer sou die wet verwaarloos word soos wat dit voor hulle tyd gebeur het nie. ’n Mens sou Esra en Nehemia met reg die vaders van die Judaïsme kon noem.
Wat hier gebeur het, was ’n plegtige verbondsvernuwing, waarin hulle formeel hulleself opnuut daartoe verbind het om aan God en sy gebod gehoorsaam te wees. Uit die gebed (Neh 9) is dit duidelik dat dit nie ’n ligtelike saak was nie. Hulle was selfs bereid om hand op papier te sit (9:38).
Jy het ook op ’n stadium só ’n onderneming gemaak toe jy belydenis van jou geloof afgelê het. Hoe vaar jy met jou belofte aan God?




Hoofstuk van die dag: Nehemia 9

Dit is U! U alleen is Here! (vers 6)

Twee goed val in hierdie aangrypende gebed op. Eerstens word God geprys omdat Hy Here van hulle lewe en hulle geskiedenis is. Hy het in die verlede telkens en op verskillende maniere ingegegryp om hulle te help om hulle geloof in Hom te behou. Hy het hulle oorlaai met sy goedheid en gawes en sorg. Die verlossing uit Egipte en sy leiding by Sinaï en deur die woestyn, en die beloofde land was bakens van sy sorg en voorsiening.
Ongelukkig was dit net die een kant van hulle geskiedenis. Die ander kant was hulle ontrou aan God, wat met ’n groot MAAR ingelui word (vers 16 en 26). Dié opstandigheid en ontrou het hulle hele geskiedenis gekleur, totdat hulle later alles verloor het wat God in sy goedheid aan hulle geskenk het (vers 36).
Sonde is onverstaanbaar. Dit bring ellende op ellende, en tog hou jy aan om dit te doen.
Soos die Jode kan ons ook terugkyk en ons sonde raaksien, en van God se genade getuig. Maar anders as die Jode sien ons ’n kruis in ons verlede, waar Christus die houvas van sonde gebreek het. Dáárom, en net daarom, lyk ons eie verhaal anders as die Jode s’n.