Hoofstuk van die dag: Numeri 36

Geen grond van die Israeliete mag van die een stam op ’n ander oorgaan nie, want elke Israeliet moet vashou aan sy deel van die stam se grond. (vers 7)

In Num 27 het ons gesien dat die dogters van Selofgad ook stamgrond kon kry omdat hulle pa nie seuns gehad het nie. Die volgende probleem was dat, as dié dogters met iemand uit ’n ander stam trou, die erfgrond na die man sou oorgaan en die Josef-stam dus ’n deel van hulle grond sou verloor (vers 3-4).
Om dit te verhoed, beveel die Here dat sulke vroue nie met mans uit ander stamme mag trou nie. So sal die grond in die stam bly aan wie dit oorspronklik toegeken is. Anders sou die balans en grootte van die stamgrond versteur word.
Die beginsel wat God neerlê, is dat een nie ten koste van ’n ander verryk mag word nie. Elkeen moes sy regmatige deel kry. Dit geld vir ons ook. ’n Boer behoort bv nie soveel boorgate te sink dat hy sy buurman se ondergrondse water laat opdroog nie. ’n Sakeman behoort nie sy besigheid só aggressief te bemark dat hy die kompetisie uit die mark druk nie.
God gun elkeen ’n plek in die son. Ons behoort ook.

Naskrif: Môre begin ons (DV) met die boek 1 Petrus




Hoofstuk van die dag: Numeri 35

Sê vir die Israeliete hulle moet in die gebiede wat hulle besit, vir die Leviete stede gee om in te woon, en ook weiveld rondom die stede. (vers 2)

In Israel was daar net een heiligdom. Tydens die woestyntyd was die heiligdom, of tent van ontmoeting, in die middel van die laer. Later, ná die intog in Kanaän, is dit in Silo gevestig totdat die Filistyne Silo verwoes het (1 Sam 4). Nóg later was die tent van ontmoeting in Jerusalem totdat dit uiteindelik in Salomo se tempel gesetel is.
Alle godsdienstige handelinge (offers en feeste) het by die heiligdom onder die priesters se leiding plaasgevind. Dit het egter beteken dat party Israeliete baie ver van die plek van aanbidding gewoon het, en moontlik afgeskeep kon voel, of geestelik kon kwyn. Daarom beveel die Here dat daar dwarsdeur die land stede ingerig moes word waar Leviete kon woon. Dit het meegebring dat die Leviete dwarsoor die land teenwoordig was as verteenwoordigers van God, om die volk te onderrig en die reg te handhaaf (Lev 10:11).
Vandag is dit die taak van die plaaslike gemeente (wat oral bestaan) om ons te herinner aan God en sy woord. Só keer God dat ons geestelik wegraak.




Hoofstuk van die dag: Numeri 34

Die Here het vir Moses gesê: […] “Dit is die grense van julle hele land.” (vers 1,12)

Die beloofde land is op hierdie stadium natuurlik nog net ’n belofte; dis nog nie ingeneem nie. Dié taak het op Israel gewag onder leiding van Josua, Moses se opvolger. Maar die land is nie net ’n vae droom iewers in God se hart nie. Dis ’n realiteit, ’n land met grense; ’n uitgestrekte land met genoeg blyplek vir al die stamme. Dit is ’n geskenk aan hulle van ’n ruimhartige God wat alles tot in die fynste besonderhede uitgewerk het.
God se beloftes aan sy kinders is nie wollerige, vae hersenskimme nie. Sy beloftes staan vas, en in Jesus Christus het ons die bewys dat God woord hou (vgl 2 Kor 1:19-20). Ons het ook baie meer as Israel. Ons het nie ’n stuk land wat omgrens is nie, ons het in Christus die koninkryk van God as besitting verkry. Ons is erfgename van die ewige lewe saam met Christus (Rom 8:17, Tit 3:7).
Ons wat deur Christus se verdienste en die werk van die Gees kinders van God geword het (Rom 8:14-16), kan nou al met hoop leef, want ons het ’n toekoms saam met Hom.




Hoofstuk van die dag: Numeri 33

Op bevel van die Here het Moses soos hulle getrek het die name van die kampplekke aangeteken. (vers 2)

Die opsomming van die reis en kampplekke moes Israel daaraan herinner het dat God gedurende die hele veertig jaar vir hulle bly sorg het. Daar was egter ook tye waarin hulle ongehoorsaam aan God was, en opstandig en onvergenoeg. Dit het die kampplekke ook vir hulle vertel.
Die reis het ’n begin in Egipte gehad, en eindig in Kanaän. Terugskouend kon hulle sien dat hulle reis nie doelloos was nie, en dit sou vir hulle moed gegee het vir die toekoms, want dieselfde God wat nog die hele tyd voorsien het, gaan saam met hulle Kanaän binne.
As ’n mens op die spore van jou eie reis loop, kan jy baie insig kry in die mens wat jy nou is, en ook hoe die Here jou gevorm het om vandag ’n bruikbare werktuig in sy koninkryk te wees. Dink terug aan gelukkige tye in jou lewe, hoogtepunte waarvan jy kan sê dat die Here vir jou goed was. Maar dink ook aan laagtepunte, dalk van swaarkry, of waar jy die spoor byster geraak het. Ook die kronkels in jou lewenspad kan jou insig gee.
En kyk dan vorentoe met hoop.




Hoofstuk van die dag: Numeri 32

En nou kom julle, sondaarsgeslag, net soos julle voorvaders destyds, en julle maak die Here nog meer kwaad vir Israel. (vers 14)

Die Engelse spreekwoord lui: “Once bitten, twice shy.” Dit sien ons in Moses se reaksie op die versoek van die stamme Ruben en Gad om grond in die Oos-Jordaan te kry, dws nie in Kanaän self nie. Moses sien dadelik rooi. Hier gaan ons al weer, het hy gedink. Net soos hulle voorvaders by Kades-Barea weggeskram het van die uitdaging om Kanaän te beset (vers 8, vgl Num 13-14), doen hulle nou ook met ’n gerieflike verskoning.
’n Mens kan Moses se reaksie goed verstaan. Hy het ná veertig jaar darem al ’n ding of twee geleer, het hy waarskynlik geglo. Maar hy het dit heeltemal mis gehad. Die stamme Ruben en Gad se bedoelings was eerbaar, soos hulle ook deur hulle dade bewys het.
Ons kan in dieselfde slaggat as Moses val en mense ná ’n tweede of derde misstap afskryf as hopeloos. Gelukkig het God dit nie met ons gedoen nie, en Hy verwag van ons om, soos Hy, met onvernietigbare goedgesindheid teenoor ander te leef. Dit is wat agape-liefde van ons vra (1 Kor 13:4-7).




Hoofstuk van die dag: Numeri 31

Die Here het vir Moses gesê: “Die Israeliete moet die Midianiete straf vir wat hulle julle aangedoen het. Daarna sal jy sterwe.” (vers 1-2)

Ons dink graag aan God as ’n vriendelike, gulhartige God, lankmoedig en gou om te vergewe. En dis ook reg so, want God ís so. In Eks 34:6 het Hy dit in soveel woorde van Homself gesê. Maar dis net die een kant van God se karakter. Nah 1:3 bely: “Die Here is lankmoedig, maar sy krag is groot: Hy laat geen skuldige ongestraf nie.”
Die realiteit waarvoor Num 31 ons stel, is juis dit – God is nie net liefde nie. Hy straf ook. Omdat ons geneig is om dit te vergeet, maak hierdie hoofstuk met al die doodslag ’n mens ongemaklik, en sal mense dalk vra waar die God van liefde dan is. Die antwoord is nie so eenvoudig nie, maar in hierdie gebeure kry ons ’n deel daarvan, want God is hier besig om sy volk teen die Midianiete en hulle verleiding te beskerm (vgl Num 27:17-18). Ter wille van sy mense se voortbestaan tree Hy ferm en onverbiddelik op teen almal wat hulle bedreig.
Hy sal jou óók beskerm, al kos dit wat. Dít is ons diepste troos.