Die manne wat ’n skip ver van die see af gebou het

Sy verhaal

“Hei, Oubaas, bou jy nog lekker aan jou bootjie?” koggel Irad. “Jy sal nou moet klaarmaak, want een van die dae kom die reëns, en dan sit jy met ’n halfklaar boot. Wat gaan jy dan doen?”
Sem, wat binne-in die halfklaar boot besig was om aan die diere se hokke te werk, het Irad hoor praat, en kom uit. “Is dit al weer jy, Irad? Het jy nie werk vir jou hande nie? Vir wat staan jy hier en ginnegaap?”
“Nee, ek kom kyk net hoe vorder julle met julle gekke boot-besigheid. Malligheid, as jy my vra.”
“Maar nou vra ons jou nie,” skree Gam van waar hy op die nok van die ark sit, besig om pik in die laste in te werk. “Maak nou dat jy wegkom, anders …”
“Toe nou maar, Gam,” keer hulle pa vinnig. As Gam eers kwaad is, kan dinge lelik hand-uit ruk. Vir Irad sê hy: “Ou seun, ek is nie bekommerd oor of ons sal klaar wees as die reëns kom nie. God sal dié dinge goed reël. Maar waaroor ek bekommerd is, is dat jý nie dan saam met my en my mense in die skip sal klim nie. Wat gaan jy maak as dit begin reën?”
“Moet net nie vir my sê jy wil al weer begin preek nie, Oubaas! Daarvoor het ek tog nie vanoggend krag nie,” sug Irad, en draai sy oë hemelwaarts. Sonder ’n verdere woord gee hy pad.
Toe hy weg is, vra Jafet, die jongste: “Pa, ekskuus dat ek dit nou vra, maar sê nou maar net Irad en al die ander mense is reg? Dan het ons al hierdie werk puur verniet gedoen. Ons doen nou al maande lank niks anders nie as bou, bou, bou. Sê nou net daar kom nié ’n groot reën, soos Pa verwag nie. Wat dan?”
“Ja,” las Gam by, en beduie na die opening waar die skip se deur nog moet kom, “en hoe gaan ons al die diere wat in die skip moet kom, inkry? Dink Pa hulle sal ewe gedwee hier aangestap kom en twee-twee in hulle hokke gaan staan?”
“Ek moet sê, partykeer wonder ek ook wat ons gaan maak as die reën nie kom nie. Ons is al klaar die spot van die plek. Hoe sal ons ooit weer ons gesigte in die dorp kan wys?” sê Sem sag.
Stadig sit hy die hamer op die stomp voor hom neer, en kyk dan op na sy drie seuns in die half-klaar skip. Daar is trane in sy oë as hy antwoord: “Dink julle vir een oomblik ek wonder nie ook oor dié dinge nie? Ek het geen bewyse dat wat ons doen, reg is nie. Al wat ek weet, is dat God met my gepraat het. En daaraan klou ek vas, anders het ek al lankal ondergegaan.”

Genesis 6:5-22 en Hebreërs 11:7

Pas jy dalk in dié storie?

Dalk is jy geskok oor die soort vrae wat Noag se seuns (en hyself ook!) vra. Dalk dink jy dis oneerbiedig om so te praat. Maar dalk, diep in jou hart, waar jy dit nie eens aan jouself wil erken nie, huiwer daar ook sulke vrae. Iemand wat nog nooit dié soort vrae gevra het nie, het bes moontlik nog net nooit lank en diep genoeg oor geloofsake gedink nie. Want dié soort twyfel is nie net beperk tot die Tomasse onder ons nie. Alle gelowiges (of miskien moet ek veiliger speel en sê die meeste gelowiges) sukkel van tyd tot tyd met die probleem dat geloof nie op sigbare feite rus nie. Die Hebreërskrywer het dit daarom gerade geag om ’n hele hoofstuk aan dié vraag te wy (Hebreërs 11).

Hoe nou gemaak?

Moenie skrik as jy ook soms wonder of dit wat die Bybel ons leer, regtig waar is nie. Dit gebeur met die beste onder ons. En moenie, as sulke vrae in jou gemoed ontstaan, tou opgooi en begin wanhoop nie. Maak soos Noag. Hy het eenvoudig voortgegaan in die geloof dat alles tog nie versinsels is nie. En toe die diere ewe gedwee twee-twee aangestap gekom het, en die water stadig maar seker om die ark begin styg het, was hy gereed.
Daar kóm dae waarin jy meer vrae het as antwoorde. Daar ís dae waarin jy wonder of jy regtig glo. Daar kom tye wanneer jy nie lus het om jou Bybel oop te maak nie, of wanneer jy wonder of Iemand ooit luister as jy bid; dae waarin jy verdwaas om jou kyk en wonder of net jy dan nog glo. Moenie dan ophou met glo nie! Klou juis dan aan God vas, verbete. En hou vol met die geloofspad. Want al sien en beleef ons God nie elke dag nie, gebeur dit tog van tyd tot tyd dat jy God naby jou beleef. Dink vir ’n oomblik terug. Jy sal sulke oomblikke uit jou verlede onthou. En tel dan jou kop op, byt op jou tande, en jaag die duiwel en sy twyfelstellings uit jou lewe.
Martin Luther het op ’n keer, toe sulke vrae hom geteister het, met sy skrywersmes in groot letters op sy lessenaar uitgekerf, sodat hy dit elke dag kan sien: “Ek is gedoop!” Miskien moet jy ook iewers op ’n plek waar jy dit elke dag kan sien, só ’n soort herinneringsteken van God se teenwoordigheid in jou lewe oprig. En miskien kan jy die volgende op jou herinneringsnota skryf:

Romeine 8:24,25
Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ’n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

image_pdfimage_print

Views: 96

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.