Hoofstuk van die dag: Numeri 23

Bileam het geantwoord: “Ek moes tog presies kom sê wat die Here my voorgesê het.” (vers 12)

Die intrige tussen Bileam, ’n nie-Israelse profeet, Balak, die Moabitiese koning, en die Here, die God van Israel, verdiep. Bileam is vasgevang tussen God en Balak. Uiteindelik het hy nie ’n keuse gehad nie. Hy móés Israel seën soos die Here beveel het, en hulle nie vervloek soos Balak geëis het nie.
Dit is ’n situasie wat vir ons in ’n moderne wêreld nie só vreemd is nie. Dikwels beland ons in ’n knyptang tussen wat God van ons verwag, en wat die wêreld eis. Dalk is dit ’n werkgewer wat van jou verwag om die reëls te buig. Dalk word daar van jou verwag om ’n artikel of saak te bemark deur misleidende inligting te gebruik. Dalk is dit ’n mede-student wat wil hê jy moet jou harde navorsing aan haar beskikbaar stel sodat sy sonder ’n steek werk kan loskom. Dalk is daar druk op jou om saam met die ander iemand te diskrediteer oor sy ras of gender.
Bileam kon uiteindelik nie God se woord verontagsaam nie, ondanks Balak se beste pogings. Hoe eer jý God se aanspraak op jou lewe?




Hoofstuk van die dag: Numeri 22

Daardie nag verskyn God toe aan Bileam en sê vir hom: “Die manne het nou gekom om jou te kom haal. Gaan saam met hulle, maar jy mag net doen wat Ek vir jou sê.” (vers 20)

Die verhaal van die waarsêer Bileam en sy donkie is in misterie gehul. Bileam is ’n vreemde karakter, wat die Here selfs “my God” noem (vers 18) en aan Hom gehoorsaam is, weliswaar nie uit liefde nie, maar uit vrees. Tog neem hy deel aan ’n offermaaltyd vir die Moabitiese gode (vers 40).
Die Here laat toe dat hy uiteindelik na Balak gaan, maar Hy word kwaad vir Bileam (vers 22). Vermoedelik het Bileam die hele tyd beplan hoe hy God se vloekverbod kan omseil om tóg die waarsêersloon te kan kry. Uiteindelik móés hy egter die Israeliete seën, al wou Balak hom ’n groot som geld aanbied om hulle te vervloek, want God het dit verhinder.
Mense raak soms op hol en selfs vreesbevange oor die mag van die Bose, en voel magteloos voor sy sluheid. Num 22 verkondig dat Satan niks kan doen wat God hom nie toelaat nie. Ons is nie uitgelewer aan sy boosheid nie. Daarvan verseker Paulus ons ook in Rom 8:31-39 en Ef 6:10-13.




Hoofstuk van die dag: Numeri 21

Moses het toe ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit. As iemand wat deur ’n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef. (vers 9)

Wat maak God met mense wat mor en kla en uitvaar teen sy sorg en liefde? Die antwoord is nogal ontstellend vir ons wat so gemaklik daarmee is dat God ons sondes genadiglik vergewe, en daarom nie te veel wroeg oor ons sonde nie. Want Num 21 wil dit uitskreeu dat God nie sonde verdra dit nie. Daarom stuur Hy giftige slange onder die Israeliete in sodat die lyke begin ophoop. En die Israeliete moes tot hulle beskaming erken dat hulle verkeerd was; dat hulle God se goedheid en sorg in sy gesig teruggegooi het. Daarom bely hulle (vers 7): “Ons het teen die Here gesondig met wat ons gesê het …”
In sy gesprek met Nikodemus (Joh 3:14-15) verwys Jesus na die koperslang en bring dit met sy kruisdood in verband. Vergifnis, sê Hy daarmee, is geen outomatiese proses nie. Die Israeliete moes opkyk na die slang om te bly lewe; ons moet in Jesus glo om die ewige lewe te kan hê.
Het jy al vandag opgekyk na Jesus?




Hoofstuk van die dag: Numeri 20

Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots twee keer met die kierie. Daar het baie water uitgekom, en die volk en hulle vee het gedrink. (vers 11)

Moses was die hele tyd die teiken van die aanvalle en verwyte van sy volksgenote. Dit het al in Egipte begin (Eks 5:21 e.v.) en sedertdien nooit opgehou nie. Dit moes hom teen die mure uitgedryf het, en hierdie insident by Kades was die laaste strooi. Dit was immers nie sy skuld dat hulle in die woestyn was en nie genoeg water gehad het nie. Dit was die Here se straf omdat die Israeliete Hom nie vertrou het om in die beloofde land in te gaan nie.
Moses was ’n sagmoedige man, meer as enigiemand anders op aarde (12:3), maar hier het hy dit verloor en besluit om met groot vertoon te maak asof hy en Aäron die water uit die rots sal laat kom (vers 10). So het hy die eer vir homself gevat, in plaas daarvan om die Een wat sorg en voorsien, te erken. Die gevolg was dat hy en Aäron nie in die beloofde land kon ingaan nie (vers 12).
Oppas. As selfs Moses in ’n oomblik van swakheid kon faal, kan ek en jy ook.




Hoofstuk van die dag: Numeri 19

As iemand onrein is en hy hom nie reinig nie, moet hy van die gemeente afgesny word. Hy het die heiligdom van die Here ontwy, die reinigingswater is nie oor hom gesprinkel nie en daarom bly hy onrein. (vers 20)

Vir ons is hierdie voorskrifte oor rituele reinheid totaal vreemd en ver verwyder van ons daaglikse bestaan. Die naaste wat ons in die kerk daaraan kom, is die doop. Dit verskil wesenlik van die ritueel wat in Numeri voorgeskryf word. Tog verkondig of simboliseer die water van die doop die reiniging van ’n sondige lewe, sodat jy as gereinigde voor God kan leef. Die doopwater wys heen na Christus se bloed, waardeur ons gereinig word van al ons sonde (1 Joh 1:7-9).
Jesus het ons geleer dat reinheid niks te make het met iets wat buite die liggaam gebeur nie; dis wat binne-in jou aangaan, wat jou onrein kan maak. Die sonde wat Jesus dan uitspel, is die soort goed wat ’n gemeenskap en verhoudinge vernietig (vgl Mark 7:14-23).
Ons het gewoond geraak aan die afbrekende leefstyle wat Jesus in Mark 7:21-22 uitspel, soos onkuisheid, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, kwaadpratery, hoogmoed … Ons duld dit skouer-ophalend in ons geledere. Numeri waarsku dat dit nie onder God se mense geduld mag word nie.




Hoofstuk van die dag: Numeri 18

Die Here het vir Aäron gesê: “In hulle land sal jy nie erf nie; ‘n erfdeel sal daar nie vir jou tussen hulle wees nie. Ek is jou erfdeel, jou erfenis tussen die Israeliete.” (vers 20)

Moses begin in hierdie hoofstuk om die ampspligte van priesters en Leviete neer te lê (vers 1-7). Hulle is voltyds in diens van die Here by die heiligdom. Dus is daar nie tyd vir sekulêre (nie-geestelike) werk nie. Hulle sou daarom ook nie ’n eie grondgebied in Kanaän kry soos die ander stamme nie. Hulle erfenis het nie in stamgrond gelê nie; die Here is hulle erfenis (vers 20). Hý self sorg vir hulle.
Om dié stelsel te laat werk, het die Here verskillende offers ingestel, asook tiendes, waardeur die priesters en Leviete onderhou is. Hulle lewensonderhoud was volledig afhanklik van dit wat die Israeliete aan die Here gewy het.
Dit is hoe die kerk vandag nog funksioneer. Die instandhouding van die gemeente, en die lewensonderhoud van die predikante, kom uit die bydraes van die lidmate. Jou bydrae. So help jy om die werk van die Here in stand te hou.
Die Here is egter ook jóú erfdeel. Kan jy dit saam met Ps 16:5-6 bely en daaroor juig?